‘Fluitjieblasers’ sê korrupsie, plundering volop in weermag

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse Weermag het nie die vlaag van korrupsie en plundering vrygespring wat sedert die aanbreek van demokrasie in elke staatsdepartement voorgekom het nie. Dít is volgens ʼn anonieme dokument van ʼn groep fluitjieblasers wat tans op sosiale media die ronde doen.

Hulle verwys na hulself as voormalige dienende lede van die departement van verdediging en militêre veterane wat in junior en senior bestuursposisies was. Hulle beweer die verslag is slegs die punt van die ysberg en dat hulle gesien het hoe tenders gemanipuleer en staatsfondse geplunder word. Hulle was ook ooggetuies van diskriminasie, geslagsgeweld en magsmisbruik in die departement en het die verslag opgestel ná hulle bedank het.

Die weermag se woordvoerder, kol. Louis Kirstein, sê die ernstige aantygings in die dokument moet nie ligtelik opgeneem word nie. “Dis egter jammer dat dit nie formeel deur die beskikbare amptelike kanale ingedien is nie.”

Dit is juis een van die klagtes van die fluitjieblasers; hulle sê lede swyg omdat hulle vergelding vrees en voortdurend daarop gewys word dat sensitiewe inligting nié openbaar gemaak mag word nie. “Omkopery om tenders te kry en te manipuleer is algemeen en volop in die departement van verdediging,” sê hulle. “Elk van die weermagafdelings het geraamtes in ʼn kas en die kas kan nie maklik geopen word nie.”

Weermaglede wat korrupsie wil aanmeld, kry glo selfs doodsdreigemente van hul kollegas.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Henk Kruger/African News Agency)

“Dit wys hoe oningelig die minister is oor die stand van korrupsie en intimidasie van lede van die weermag wat nie die vertroue het om die amptelike kanale te volg nie,” sê dr. Pieter Groenewald, die leier van die Vryheidsfront Plus. “Dit op sigself is ʼn sterk boodskap aan die minister, asook ernstige aantygings wat ondersoek moet word terwyl fluitjieblasers meer beskerming moet kry.”

Die dokument van 15 bladsye verwys na verskeie voorbeelde van beweerde wanbestuur, korrupsie en plundering en noem ook die name van hooggeplaaste offisiere wat daarmee verbind word.

Een so ʼn voorbeeld is die opgradering en herstelwerk wat die departement van openbare werke vir die weermag gedoen het en waar daar na bewering onderlinge samewerking tussen die departement en weermagamptenare was om korrupsie te pleeg. By die Leër Gimnasium in Heidelberg is ʼn kontrakteur glo R65 miljoen betaal, maar niemand kan sê watter werk gedoen is nie. Inteendeel, die weermag sit glo ook nog met beskadigde infrastruktuur wat reggemaak moet word.

Opknappingswerk by drie menasies in Tshwane is na bewering ook nie voltooi nie terwyl die kontrakteur, ʼn buitelander, reeds 90% van die betaling ontvang het. “Wie het die gehalteversekering vir die werk gedoen? Wie het die betaling van die kontrakteur gemagtig?” is die vrae wat die fluitjieblasers herhaaldelik vra.

(Foto: Themba Hadebe/AP)

Geleenthede vir weermaglede om opleiding te ontvang en diens buite die land se grense te doen, is glo ook beperk tot wie hulle ken, hoeveel hulle bereid is om aan omkoopgeld te betaal en, in die geval van vrouelede, of seksuele gunste gelewer word.

“Vroue is kwesbaar vir viktimisering en word gemarginaliseer as hulle nie bereid is om seksuele gunste in ruil vir ontplooiing en kursusse te gee nie.”

ʼn Verdere skokkende bewering in die verslag handel oor reserwemaglede wat militêre opleiding ontvang, maar nie op lang termyn werk gegee word nie en sonder inkomste op straat beland. Die fluitjieblasers sê hierdie weermaglede is gevaarlik omdat hulle opleiding in groot- en kleinkaliberwapens ontvang het en kwesbaar is om deur geharde misdadigers gewerf te word.

Dié praktyk beperk nie die werkloosheidsyfer nie, maar versterk inteendeel kriminele sindikate weens die soort opleiding wat die werklose reserwemaglede ontvang het. “Die weermag moet ophou werf as hulle nie van plan is om werkskontrakte vir lede te gee nie.”

Boonop word die werwingsproses ook deur korrupsie en nepotisme gekenmerk. Lede word slegs aangestel wat omkoopgeld betaal, of familielede in senior posisies het. “Die kinders van generaals word normaalweg aangestel as offisiere en in die meeste gevalle is hulle onbevoeg,” word beweer.

Die militêre intelligensiediens-afdeling se verskillende geheime fondse word glo deur lede hanteer wat geen kennis van finansiële bestuur het nie. Die verslag beweer generaals, aankopers en diensverskaffers sweer saam om pryse te verhoog en so die geheime fondse te besteel.

(Argieffoto)

Dit word glo veral gedoen met die aankoop van inligtingstegnologie-stelsels. Daar is byvoorbeeld R60 miljoen betaal aan ʼn maatskappy wat ʼn spesifieke stelsel moes ontwikkel, maar dis glo nooit gelewer nie. Nog ʼn voorbeeld is ʼn item wat aangekoop is teen R2,5 miljoen, maar teen R500 000 gewaardeer is.

ʼn Ander algemene gebruik by die militêre intelligensiediens is dat generaals glo werknemers aanmoedig om ondernemings te open met die doel om dienste aan die weermag te lewer. Hierdie diensverskaffers word na bewering gebruik om pryse op te jaag as ʼn verdere strategie om staatsfondse te buit.

Die geheime rekeninge word glo ook geplunder deur generaals wat duur motors aankoop om as diensvoertuie gebruik te word. Hulle word daagliks daarmee werk toe vervoer en gebruik ook dieselfde voertuie vir privaat gesinsvakansies. By hul aftrede koop die generaals die voertuie op staatsveilings teen minimale pryse aan.

In die verslag word verder beweer dat rekenaars wat ʼn paar jaar gelede by die militêre intelligensiediens verdwyn het, in werklikheid nooit daar afgelewer is nie. “Dis verbasend dat daarvoor betaal is, want voor betaling geskied, vergelyk ʼn mens tog die afleweringsnota met die faktuur,” sê die fluitjieblasers.

Die militêre gesondheidsdiens word ook genoem; die diens het glo toerusting ter waarde van miljoene rande aangekoop om verouderde hospitale op te knap en hoewel daarvoor betaal is, is die toerusting glo nooit afgelewer nie.

Die bewering word gemaak dat die aankoopprys van waterpompe, watersuiweraars, kragopwekkers, voertuigonderdele en grondverskuiwingstoerusting wat na Afrikalande gestuur is waar die weermag steun verleen het met tot 300% deur die aankopers van die gesamentlike operasies-divisie gelaai is. Die militêre inligtingsdiens en die militêre polisie het die saak ondersoek, maar daar het niks van gekom nie. Die bewering is dat die betrokkenes senior lede van die gesamentlike operasies-divisie ingesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Diva ·

Sjoeweee ek hoop hier gaan iets aangedoen word. Snaaks dat die Valke nog nie toegeslaan het nie, of dalk gaan hulle nou…….all is too late….

piper ·

wel as ons sien wie die minister van verdediging is kan ek sien dat die dinge gebeur. wat weet sy van verdediging

koos ·

Al wat hulle van verdediging weet, is hoe om hulle sogenaamde onskuld te verdedig as hulle uitgevang word.

Michael ·

Daar is ook ‘n argument dat onderpresteeders skielik fluitjie blasers raak sodra hulle moet verslag doen op hulle onderprestasie.

Die Wolf ·

M, Ek wil dit anders stel. Nie noodwendig onderpresteerders nie, maar diegene wat nie hulle gedeelte van die pap gekry het nie.

Pieter ·

Julle kan en sal nooit n land kan best nie. Gaan terug skool toe die hele lot van julle en gaan maak graad een eers klaar.

Mariana ·

Wat in hierdie land is nog nie geplunder nie, waar was daar nog nie korrupsie nie? Geen departement in die ANC regering in onaangeraak nie. Daar is weinig oor van ons eens mooie goed funksionerende land. Dit is hartseer…..

Phillip ·

As dit waar is gaan daar groot koppe waai hoop die fluitjieblasers. loop lig foet hier kom nog n zondoe kommiesie

Kokerboom ·

Nog werk vir oorlaaide VALKE en NVG!!!Wys my EEN Dept onder ANC regime bestuur wat nie korrup is! Hoe kan ‘n land groei en vooruitgaan onder sulke absolute verrotting?

Maria ·

Hoekom is ons nie verbaas nie. Ek het in 1994 in die ry gestaan om te stem en geweet dit gaan nie uitwerk nie. Die mense is nie kapabel nie. Ek het egter nie geweet baie van hulle is so haatdraend, slinks en wreed nie.

Misky ·

As mens sommige van die bedrae lees sal mens dink dis R100 of R200, maar nee dis miljoene op miljoene op miljoene….. En dis ONS geld op die einde van die dag – joune en myne!!

Johan ·

Dis Afrika. Die streke van die mense sal nooit verdwyn nie. Dit gaan net erger word. Pak en kom hier weg as jy kan. Al is dit net vir jou kinders se toekoms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.