FlySafair in die hof gestuit

FlySafair

FlySafair

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag ‘n interdik teen die nuwe laekoste-lugredery, FlySafair, toegestaan.

Die aansoek is deur twee kompeterende lugrederye, Comair en Skywise, gebring. Hulle het beswaar aangeteken deur die bedryfslisensie wat die Suid-Afrikaanse Lugdienslisensiëringsraad aan dié maatskappy toegeken het.

Die hof het beslis dat FlySafair nie kan voortgaan alvorens die lisensie hersien is nie.

“Ongelukkig en teen ons verwagting het die hof die interdik, wat deur ons kompetisie aanhangig gemaak is, toegestaan,” het Dave Andrew, hoof uitvoerende beampte van FlySafair, in ‘n verklaring gesê. “Dié hofbevel verhoed ons om voort te gaan met ons bedrywighede totdat die lisensie hersien is.”

Volgens Andrew het duisende passasiers reeds vlugte bespreek en Comair moet nou dié passasiers, wat reeds kaartjies bespreek het, akkommodeer. Hy sê die lugredery kan bevestig dat passasiers vergoed sal word indien hulle besluit om hul vlugte te kanselleer. “Meer as 300 werknemers van FlySafair word ook deur die besluit geraak,” sê Andrew.

FlySafair se lisensie is reeds op 23 Augustus 2013 toegeken. “Ons sal alles in ons vermoë doen om seker te maak dat die raad se besluit bevestig word. Alhoewel die hofuitspraak ‘n terugslag is vir FlySafair, glo ons dat ons dié hindernis sal oorkom om meer kompetisie en laer pryse in die toekoms te verseker.”

Die maatskappy se eerste vlug sou binne twee weke plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie Acker ·

Wat ‘n jammerte. Met die afsterwe van One Time het vliegkaartjies se pryse die hoogte ingeskiet. In George sit ons nou net met Kulula en Airlink en kos binnelandse vliegkaarjies hiervandaan gereeld meer as oorsese vlugte. Nie dat Safair seker hierheen sou vlieg nie, maar Kulula en Airlink se pryse grens hier aan uitbuiting. En Safair het ‘n bewese veiligheids- en bestuursrekord.

Gert Strydom ·

O toggie. En ons is hoeka bespreek en het betaal vir die tweede dag se vlug vanaf ORTambo af. Verseker suur druiwe, wat anders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.