FN-leierskap glo slagoffer van ‘politieke intimidasie’

Foto: Front Nasionaal

Foto: Front Nasionaal

Die politieke party Front Nasionaal het Saterdag in ʼn verklaring gesê lede van sy bestuur het die afgelope week twee voorvalle van intimidasie beleef.

“ʼn Waarskuwing is aan die begin van die week ontvang van ʼn plaasaanval wat beplan word op die plaas van ons buitelandse woordvoerder, Lenel Cotty Wessels en haar man,” het Francois Cloete, woordvoerder van die party, gesê. “Die aanvallers is gefnuik, maar die polisie het inligting dat hulle duidelike aanwysings ontvang het oor watter plaas geteiken moet word.”

Volgens Cloete het iemand Vrydagagaand by een van FN se Wes-Kaapse provinsiale bestuurslede met ʼn opvoubare leer oor ʼn buitemuur geklim en ʼn plofapparaat langs ʼn vol gaskan gestel. “Vanweë die klammigheid na die onlangse reën het die apparaat nie ontplof nie.” Hy het bevestig die polisie ondersoek die saak.

“Dit is baie duidelik dat die boodskap wat FN dra, naamlik dat ons die diskriminasie teen en verdrukking van ons volk nie langer gaan verdra nie en alle wetlike, politieke prosesse gaan volg om vryheid en veiligheid vir ons mense te beding, iewers ʼn senuwee raak,” het Cloete bygevoeg. “Die boodskap dat die Nuwe Suid-Afrika van die ANC en die DA en ander pragmatiese politici nie vir ons as volk aanvaarbaar is nie, is duidelik nie ʼn gewilde waarheid nie.” Volgens hom is die politieke versetgroep “meer vasberade op ons koers as ooit en ons sal eenvoudig nie ophou voordat ons doelwit bereik is nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.