FNB, Absa getuig voor Zondo-kommissie

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se ekonomiese transformasiekomitee, het FNB twee jaar gelede gekontak om met die ANC te vergader oor die sluiting van die omstrede Gupta-familie se bankrekeninge.

Johan Burger, wat tot einde Augustus 2018 uitvoerende hoof van die First Rand-groep was waarvan FNB deel is, het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat hy dit vreemd gevind het dat die ANC wou vergader oor ʼn kliënt se bankrekeninge.

Volgens Burger het Godongwana hom versoek om hom beskikbaar te maak vir ʼn vergadering met die sekretaris-generaal van die ANC, destyds Gwede Mantashe, oor die sluiting van die Guptas se bankrekeninge.

“Dit was ʼn onverwagse oproep en ek kon nie verstaan hoekom ek genooi is na ʼn vergadering met die ANC nie. Ek het hom meegedeel dat ek uitstedig was en oor ʼn paar dae sou terug wees. In my 32 jaar in die bankwese was dit die eerste keer dat ek ʼn versoek van ʼn politieke party of ʼn interministeriële komitee ontvang het om te vergader oor ʼn bank se verhouding met ʼn kliënt. “

ʼn Reeks SMS’e het hierna tussen Burger en Godongwana gevolg. Volgens Burger het Godongwana hom toe meegedeel dat dit nie meer nodig is vir hom om die vergadering by te woon nie en het hulle nie weer hierna gekommunikeer nie.

Volgens Burger is die Guptas se bankrekeninge gesluit aangesien die bank bekommerd was oor sy reputasie en die risiko’s wat hiermee gepaard gegaan het.

“Indien ʼn mens nie aan die regulatoriese raamwerk van die land waarin ʼn mens werk voldoen nie, sal daar ʼn reputasie-risiko wees wat verband hou met nie-nakoming. Daar sal ook ʼn reputasie-risiko wees as ʼn bank aktiwiteite bedryf wat deur belanghebbendes as onregverdig, onwettig en oneties beskou word.”

Volgens Burger het FNB by die Wet op Finansiële Intelligensiesentrum gehou en verdagte Gupta-aktiwiteite aangemeld soos wat deur die wet vereis word.

Regter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Yasmin Masithela, uitvoerende hoof van strategiese dienste by Absa, het getuig die bankgroep het die Guptas se bankrekeninge so vroeg as 2014 al begin hersien en risikobepaling gedoen namate mediaberigte oor die omstrede familie toegeneem het.

Masithela het getuig dat Absa, destyds ʼn filiaal van Barclays PLC, moes voldoen aan beleid rakende geldwassery wat vereis dat hoërisiko- en politiek-blootgestelde kliënte elke jaar meer toegewyde omsigtigheidsondersoeke moet ondergaan.

Volgens Masithela was daar bewyse van groot onverklaarbare oordrag van fondse by Oakbay aan ander banke. Absa kon nie rekeningskap gee van die oordragte nie. Mediablootstelling rakende Gupta-maatskappye het ook toegeneem en Absa het besluit om die rekeninge te sluit.

Masithela het getuig Absa is, soos FNB en Standard Bank, ook versoek om met die regerende party te vergader. Volgens haar het Absa met Mantashe, Godongwana, Jessie Duarte en Krish Naidoo vergader.

Volgens Masithela het die bank dit duidelik gemaak dat hy nie die verhouding met die kliënt kon bespreek nie en het dit daartoe gelei dat die bankregulasies en -reëls bespreek is. Absa is ook later versoek om met die interministeriële komitee te vergader maar het geweier.

Nedbank sal Woensdag voor die komitee getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

humor ·

Hoe lank sal ons nog hierdie 2 eerlose skurke se gesigte moet verdra.

Daan ·

Sal die Bank asb my besonderhede bekendmaak. Met my rekening nommer. Almal sal my jammer kry en ‘n paar rand skenk.

Bobby ·

Jessie Duarte you must be ashamed of yourself. Stealing money for the guptas from the poor people of our country. Please answer these allegation from the banks. Drop your head in shame, and come clean.

Ouman ·

FNB het hulle nie laat boelie deur die kaders nie. Ek haal my hoed af vir Johan Burger en sy span. Skielik is almal in die ANC nou onskuldig en het geen duistere motiewe gehad nie. Net jammer dat daar nie teen hulle opgetree sal word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.