Fochville-vyf wil borgtog hê

Die beskuldigdes Maandag by die landdroshof in Fochville. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die vyf beskuldigdes wat verlede week in hegtenis geneem is in verband met Natasha Wheeler Barnard (33) se moord, het Maandag in die landdroshof in Fochville aansoek om borgtog gedoen.

Maryna Doyle (37), haar kêrel, Sidney Scheepers (41), Cecilia Storbeck (23), Twane Wienand (31) en Rudolf Pretorius (23) het Maandag vir die tweede keer sedert hul inhegtenisneming in die beskuldigdebank verskyn.

Barnard is na bewering op 3 Maart in The Boule Vard-restaurant en ‑kroeg in Fochville aangerand en toe by haar ma se huis afgelaai. Paramedici het haar later dood verklaar. Sy het beserings gehad wat daarop gedui het dat sy aangerand is.

Volgens die vyf beskuldigdes se verskeie regsverteenwoordigers, sal dit in die belang van geregtigheid wees dat die beskuldigdes op borgtog vrygelaat word. Die regsverteenwoordigers het ook aangedui dat nie een van die beskuldigdes ’n vlugrisiko is nie omdat al vyf geverifieerde woonadresse kan verskaf.

Die regsverteenwoordigers het ook aangevoer dat nie een van hul kliënte ’n gevaar vir die samelewing inhou nie en ook nie vorige veroordelings teen hulle het nie.

Natasha Wheeler Barnard se ma, Frieda, suster, Chantell, en pa, John. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Boyle se regsverteenwoordiger het ook daarop gedui dat sy vir twee minderjarige kinders, onderskeidelik 15 en 12 jaar oud, sorg en dat hulle daaronder sal ly indien sy agter tralies moet bly. Volgens Scheepers se regsverteenwoordiger moet hy ook finansieel vir sy twee minderjarige kinders sorg wat in KwaZulu-Natal saam met hul biologiese ma woon.

Volgens die regsverteenwoordigers sal die beskuldigdes, indien hulle agter tralies moet bly, ernstige emosionele skade ly en dit sal ook druk op hul fisieke gesondheid plaas.

Die staat het aangedui dat hy die borgtogaansoek teenstaan en het die ondersoekbeampte A.O. Kitty Fourie as eerste getuie ingeroep om die feite rakende die ondersoek weer te gee.

Maroela Media het vroeër berig daar het die aand van 3 Maart ’n argument in The Boule Vard-restaurant en ‑kroeg uitgebreek waarby Barnard en die vyf beskuldigdes glo betrokke was.

Doyle het na bewering Barnard se broer gebel en gesê Barnard is dronk en wil nie in die motor klim nie. Hulle het haar (Barnard) daarna glo na haar ma se huis – waar sy in daardie stadium gewoon het – geneem en in die oprit uit die motor gegooi. Haar ma het die paramedici ontbied, wat haar later dood verklaar het.

Hou Maroela Media dop vir meer inligting oor die ondersoekbeampte se getuienis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Swerwer ·

Gemeen! Geregtigheid om op borgtog vry gelaat te word, Nèè………Waarom nou kinders wil gebruik om borgtog te verkry, daar was nie aan die kinders gedink wat emosionele skade kan ly toe hul gekuier het nie. Hul het nie aan die emosionele skade gedink wat hul Natasha Wheeler Barnard se ma, Frieda, suster, Chantell, en pa, John toegedien het nie. Maar nou ja, as daar tot op die kommunis se vlak gedaal word is daar geen salf aan te smeer nie.

Rooikopheks ·

Het hulle gedink aan haar 2 kinders toe hulle haar vermoor het?

Marcello ·

Dit is belaglik die rede wat aangevoer word, dat hulle afhanklikes het om voor te sorg, dit geld net vir sekere sake, moord is moord. Maar ouers word aangehou omdat hulle “kamstig” ‘n kind aangerand het, wat nie eers die waarheid is nie. Want jy mag mos nie meer jou kind pak gee nie. Dit is hoekom ons land in so toestand is.

Ivana ·

Aan al hierdie dinge moes hulle gedink het toe hulle haar aangerand en gelos het. Nou soek hulle simpatie – nee wat laat hulle sit tot hulle gevonnis word

Prontuit ·

ag nee wat my geduld is laaaaaaaaaankal op met die wat maak en breek soos hulle wil – hulle kon haar net huis toe gevat en end van storie hoekom haar aanrand ook nog – nee wat laat hulle sit, dalk moes hulle aan gevolge gedink het voordat hulle haar soos ‘n vadoek uit die kar gegooi het – soveel hartseer vir soveel onskuldiges en dit so onnodig! ek se mos elke besluit het maar ‘n ou gevolgie ne

Misky ·

Absoluut skokkend dat mense (boonop vrouens betrokke) iemand kan aanrand dat hulle aan hul wonde beswyk. Indien julle skuldig is, hoop ek julle kry die swaartste straf denkbaar.

Daleen ·

Hou hulle agter tralies tot waarheid uitkom wat gebeur het en laat skuldige/s dan boet!!

Annelie ·

Wat soek hulle in sulke kuierplekke as daar kinders is wat versorg moet word.

fs ·

Ag snert man.. waar was die kindertjies waarvoor hulle moet sorg toe hul gefuif en suip het..en ‘n dronk vrou wat haarself nie eers kon verdedig so aangerand het dat sy dood is van haar beserings…nee outjie – geen simpatie met julle issues .. SIT en SIT LANK!!! Het jul enige gedagte aan HAAR gesin gegee toe jul haar so aangerand het….mens betaal vir sulke dade….

Owlie ·

Nog n sinnelose moord met regs geleerdes wat moordenaars verteenwoordig, beskerm en oo straat sit – wst gaan julle regs geleerdes doen as dit jul geliefdes is wat aangerand, verkrag, Vermont of vermoor word

Janine ·

Elkeen het die reg op ‘n prokureur. Help nie jy blameer mense wat bloot hul werk doen nie. Dis onsinnig!

Natalie ·

Nou moet almal hulle jammer kry vir hulle dade, maar wat van daai arme moeder hart wat haar kind verloor het. Ek het niks simpatie met hulle nie. Jy wou pak uitdeel…. Ontvang dan wat na jou kant toe kom.

Janine ·

Soms skaam ek my morsdood vir sommige mede-Afrikaners! Hoe laag kan jy daal om iemand se lewe te neem? Waar is ons mense se opvoeding en trots heen? Aan Natasha se ouers, familie en vriende, my innige simpatie. Mag geregtigheid spoedig seëvier.

Denise ·

my hart gaan uot na die ouers en suster… mag daai 5 vir n lang tyd sit.. hulle verdien dit

TRP ·

Nou is die kinders belangrik en almal moet uit die tronk bly agv hulle kinders, wat van Natasha se kinders? Wanneer kom sy tuis? NOOIT, in my opinie, jammer vir al die kinders betrokke, maar elke aksie het ‘n reaksie. SIES MAN!!

Leana ·

Hoekom moet enige iemand omgee oor die beskuldigdes se kinders as hulle kinders van hul ma ontneem het. Wat maak hulle so wonderlik? Hulle moes gedink het voor hulle gedoen het.

SwartBees ·

Ewe skielik is hulle nou besorgd oor hul kinders. Toe hulle wil gaan jol en suip toe kon daai arme kindertjies vinnig aan op passers gegee word.

Mariana ·

Nee geen borg. Hulle moet gaan sit…..nie een keer gedink wat hul wandaad aan Natasha se kinders gedoen het nie, ook nie aan die res van haar familie nie. Toe hulle daar in daai kroeg was, was hul gedagtes nie eers by hul eie kinders nie.

May10 ·

Shame, hulle wil nou so graag die slagoffers wees. Hulle het nie aan Natasha se familie en vriende se welstand gedink toe hulle haar dood maak nie. Hulle lieg op hulle kinders se name, wat n skande!

Papsak ·

Sluit hulle almal toe Vir wat hulle gedoen het moenie jammer kry nie so mooi mens van haar Lewe ontneem en Vir wat sluit toe vergeet van hulle laat hulle boet Vir hulle Dade gemors

Pieter J ·

Die feit dat hulle borgtog soek wys net hoe arrogant hulle is en hoe min hulle oor die dame se dood gepla is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.