Fonds gestig om wildtuin se renosters te beskerm

renoster-rhinoconservation_org_4-320x253SANParke het aangekondig dat ʼn fonds van R255 miljoen op die been gebring is vir die stryd teen renosterstropery in die Krugerwildtuin.

Dié gesamentlike fonds van die Howard G. Buffet-stigting, die Suid-Afrikaanse openbare welstand-organisasie (PBO) en SANParke sal onder meer aangewend word om anti-stropery taktieke te toets. Die Krugerwildtuin is die tuiste van nagenoeg 40% van die wêreld se oorblywende 22 000 renosters. “Die wildtuin se stroperyprobleem word hoofsaaklik aangevuur deur onwettige kriminele netwerke in Mosambiek, Suid-Afrika en Oos-Asië maar daar is bewyse dat gewapende groepe elders in Afrika beduidende befondsing verkry uit stropery-aktiwiteite,” het SANParke in ʼn verklaring gesê. David Mabuza, uitvoerende hoof van SANParke, sê: “Die skaal, ingewikkeldheid en strategiese waarde van hierdie inisiatief is werklik ongekend vir SANParke en ons glo dit sal transformerend wees in ons voortgesette pogings om stropery en die uitdunning van die renosterbevolking in die Krugerwildtuin aan te spreek.”

Die departement van omgewingsake het Vrydag bekend gemaak dat 172 renosters reeds vanjaar in Suid-Afrika vir hul horings doodgemaak is. Albi Modise, woordvoerder van die departement, sê 113 renosters is reeds vanjaar in die wildtuin gestroop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.