Fonds vir Brink-gesin: ‘Finansies moet hul nie bekommer’

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Lise Brink, die vrou wat steeds in die hospitaal behandel word nadat sy, haar man en hul kinders op 16 Desember in ʼn ernstige motorongeluk betrokke was, gaan kaakchirurgie moet ondergaan en moet ook ʼn rugstut en prostese vir haar linkerbeen bekom.

Dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en bestuurshoof van Solidariteit, het gesê Lise se kaakchirurgie word vir volgende week beplan. Intussen is daar ook X-strale geneem om te bepaal of chirurgie op haar rug enigsins nodig is. “ʼn Rugfusie sal uit die aard van die saak ʼn groot impak hê op Lise se vordering. As dit nie gedoen hoef te word nie, maak dit haar herstel net soveel gouer en makliker,” het Hermann gesê.

Intussen stroom bydraes vir die André en Rachel Brink-fonds in, ʼn fonds wat gebruik sal word om te help om die gesin se mediese onkoste te dek. Ernst Vorster, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, het gesê die totale bedrag in die fonds staan tans op R135 000. “Die oop hande en warm harte van mense wat omgee het hierdie besonderse bedrag moontlik gemaak,” het Vorster gesê.

“Ons kan net dankie sê vir almal se bydrae, groot en klein. Wanneer ons saamstaan kan ons wonders verrig.”

Volgens Vorster is die volle impak van die gesin se mediese onkoste nog nie bekend is nie, maar is hulle reeds bewus van Lise se komende kaakchirurgie, die rugstut, dringende nasorg en die ontwikkeling van die prostese vir haar linkerbeen wat onder die knie geamputeer is. “Die koste van hierdie ingrypings beloop honderde duisende rande. My uitdaging aan die publiek is dus om die volgende mikpunt van R300 000 in te samel om die gesin te ondersteun. Ons wil verhoed dat finansies deel van die gesin se kommer word.”

Volgens Lise se man, dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is Lise al sterk genoeg om te praat eerder as om net te fluister. “Sy praat wel met ʼn effense falsetto, maar sy praat!”

'n Gedenkdiens is Sondag vir André en Rachel Brink gehou (Foto: Maroela Media)

‘n Gedenkdiens is Sondag vir André en Rachel Brink gehou (Foto: Maroela Media)

Maroela Media het vroeër berig Lise, Danie en hul vyf kinders was op 16 Desember op pad om by familie aan te sluit vir die vakansie toe hul motor naby Theunissen in die Vrystaat buite beheer geraak en gerol het. André (13) en Rachel (8) is in die ongeluk dood, terwyl Lise kritieke beserings opgedoen het. Haar galblaas is verwyder ná die ongeluk. Johann (9) het ook kopbeserings en harsingskudding opgedoen, maar is kort daarna ontslaan.

ʼn Gedenkdiens van André en Rachel is Sondag in Pretoria gehou.

Hermann het gesê familielede help tans met Johann en Mieke se tuisskoolprogram sodat hul skoolloopbaan soos normaal kan voortgaan. “Danie skakel baie stadig in by die werk, maar beplan om nog rustig te wees voordat hy volspoed inval. Sy huis en gesin is nou absoluut die heel belangrikste dinge,” het Hermann gesê.

Hy het gesê die fonds word streng binne Solidariteit Helpende Hand bestuur. Die fonds se bankbesonderhede en donasiemetodes is op Helpende Hand se webtuiste beskikbaar.

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Helen ·

Dis so onregverdig dat mense moet insamel om met kostes te help. Ek voel dat mens baie betaal aan mediese fondse, wat net sekere dele van onkostes dek. Waarom kan die medies nie al haar koste dek nie, dis mos nie asof daar elke dag hordes mense is wat haar klas van beserings het nie. Dis nie reg nie. Ek hoop daar word genoeg ingesamel om haar te kan help. Maar ek voel maar net dat mediese fondse mense uitbuit. Hulle het buitensporige paaiemente, maar as dit kom by uitgawes, put hulle eers die “spaarplan” uit, en dan word jy beperk met die res van die eise. Ons as verbruikers sal net nooit kan wen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.