Fonds vir landbou-studente gestig

Foto ter illustrasie. (Foto: marcela_net, Pixabay)

Helpende Hand het ʼn veldtog van stapel gestuur met die doel om studente wat in landbou of natuurbewaring wil studeer, te finansier.

Hierdie hulporganisasie gaan deesdae van krag tot krag en hulle studietrust reik al hoe wyer, oor meer en meer studievelde heen.

Hoewel daar reeds ʼn geruime tyd vir landboustudente voorsiening gemaak word, het Helpende Hand vanjaar besef daar is ʼn eiesoortige nood op plase en die platteland vir jong mense wat ook in beroepe soos landbou en natuurbewaring wil studeer.

“Landbou is gelyk aan voedselvoorsiening en, selfs belangriker, voedselsekerheid. Dit kan dus loshande as een van die belangrikste bedrywe gereken word. Namate die natuur al hoe meer verrassings vir ons uitdink, gaan hierdie bedryf meer kwesbaar word en in verskeie streke is die bewyse reeds daar dat dit kritieke afmetings toon,” waarsku Zander Botha, Helpende Hand se fondsbestuurder van hul studiefondssentrum.

“Beleggings in landbou en toekomstige landbouers word dus van sleutelbelang.”

Volgens Botha raak die lewe op die platteland al hoe taaier. “Ons besef dat die aanslag op ons boere en natuurbewaarders groot is. Behoeftige studente wie se ouers geraak word deur rampe en plaasellendes soos aanvalle, droogtes, brande en siektes neem toe en die kans om universiteit toe gestuur te word, raak al hoe skraler.

“Ons wil hierdie helde help omdat ons hulle vir die toekoms benodig. Ons wil verseker dat studiekoste nie nóg ʼn uitdaging vir hulle is nie. Daarom het ons besluit om ʼn studiefonds te stig waar donateurs en die gemeenskap ʼn bydrae kan maak, om sodoende behoeftige studente te finansier wat graag in ʼn landbou- of natuurbewaringsrigting wil studeer.”

Derhalwe is die “Hier sal ek boer-veldtog” van stapel gestuur. “Helpende Hand Studietrust droom om behoeftige studente se studiedrome te bewaarheid. Ons glo opleiding is die pad na ʼn beter en sterker toekoms,” sê Botha.

Die ander rede waarom Helpende Hand op landbou fokus, is omdat die bedryf teen ʼn geweldige tempo tegnologies ontwikkel en ekonomies groei. Dit is dus noodsaaklik om hierdie bedryf met genoegsame kennis en geleerdheid aan te pak.

Om te bepaal of studente wat vir die beurs aansoek doen wel hul studie ernstig gaan opneem, het Helpende Hand ʼn goeie siftingsproses. “Ons het ʼn betroubare platform waarop behoeftige studente aansoek kan doen, en hierdie studente word dan oorweeg volgens kriteria wat deur ʼn studiefondskomitee beoordeel word.

“Met ʼn volgende kriteriastelsel maak ons seker dat die mees verdienstelike en behoeftige studente hierdie lening ontvang. Een belangrike faktor is dat hulle op skool, asook tydens hul studie, akademies moet presteer.”

Die platform bied ook die geleentheid vir die gemeenskap om eenmalige, maandelikse of jaarlikse skenkings te maak, asook ʼn opsie vir lede van die gemeenskap om ʼn deel van hul testament aan die studietrust te bemaak. “Ons stuur ook verskeie projekte en veldtogte van stapel om geld in te samel.”

Helpende Hand se naam loop hom vooruit en Botha sê hulle is baie bevoorreg om ʼn paar sterk en lojale donateurs te hê. Die “Hier sal ek boer”-projek benodig egter nuwe donateurs om die volhoubaarheid van hierdie studiefonds te verseker, om sodoende honderde studente oor die volgende paar jaar te kan help.

Botha sê studies is nie goedkoop nie. Vir een student wat wil landbou studeer, beloop dit ongeveer R52 000 per jaar en dit is slegs vir klasgelde. “Ons het in 2021 om en by R1,25 miljoen vir studente wat in landbou, natuurbewaring of veeartseny wil studeer, beskikbaar gestel. In 2022 wil ons ongeveer R2,5 miljoen bewillig aan behoeftige studente wat ʼn passie vir landbou en natuurbewaring het. “Om dit moontlik te maak, het ons ʼn helpende hand van die gemeenskap nodig.”

Die “Hier sal ek boer”-veldtog word amptelik op 18 November in Centurion bekendgestel, met onder meer ʼn paneelgesprek waaraan Danie Bester, TLU SA se jongboer van die jaar, Francois Rossouw, hoof- uitvoerende beampte van Saai, Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand en Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem, gaan deelneem.

Vir meer inligting oor die veldtog kan hul webtuiste besoek word, of skakel Zander Botha by 083 254 0142.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Wonderlik, Sal baie kinders kan help wat graag wil boer en nie die fondse het om te gaan studeer nie. Hoop net nie hierdie projek gaan nou weer in ‘n RAS geskil opeindig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.