Fondse vir Heilbron-konsentrasiekamp

Foto: gravehunter-drw.blogspot.com

Foto: gravehunter-drw.blogspot.com

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Maandag gesê hy gaan fondse bewillig vir die instandhouding van die Heilbron-konsentrasiekampbegraafplaas.

Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) is 1 124 bejaardes, vroue en kinders in hierdie konsentrasiekamp oorlede.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir erfeniskwessies, is die begraafplaas die afgelope twee jaar deur die Erfenisstigting gerestoureer, maar dringende aandag is nodig om te verseker dat die goeie werk nie tot niet gaan nie. “Begraafplase is ʼn skakel met ons verlede, maar ook ʼn waardevolle bron van inligting oor maatskaplike en kultuurhistoriese omstandighede in die verlede,” het sy gesê.  “Ons is dit aan die mense wat in Heilbron se konsentrasiekampbegraafplaas ʼn laaste rusplek gevind het, verskuldig om hulle nagedagtenis met waardigheid te behandel en die terrein te bewaar.”

Bailey het gesê owerhede versaak toenemend hulle plig om erfenisterreine te versorg en as gemeenskappe soos dié van Heilbron en organisasies soos AfriForum nie saamwerk om iets aan die saak te doen nie, sal onvervangbare kultuurskatte tot niet gaan.

CW Els, AfriForum se gemeenskapkoördineerder vir die Vrystaat, het beklemtoon dat AfriForum graag deur projekte soos hierdie by die bewaring van plaaslike gemeenskappe se kultuurhistoriese erfenis betrokke wil raak. Dit is maar een van talle gevalle waar ‘n gemeenskap aangemoedig word om betrokke te raak by die doeltreffende bestuur van ʼn dorp. Om bloot aan te dring op grondwetlike regte is lankal nie meer genoeg nie, gemeenskappe moet beheer neem en self optree waar hulle dit nodig vind.

Individue of gemeenskappe wat graag met soortgelyke bewaringsaksies gemoeid wil raak, of ʼn AfriForum-tak wil stig, is welkom om AfriForum te kontak by [email protected] of 086 102 0030 of SMS jou dorp se naam na 45266.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.