Fopnuus dat Ramaphosa vanaand praat

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

’n Boodskap wat op sosialemedianetwerke die ronde doen dat pres. Cyril Ramaphosa vanaand praat en die land na vlak 5 van die inperking gaan skuif, is as fopnuus bestempel.

In die boodskap wat wyd versprei word, word aangevoer dat die nasionale Covid-19-bevelsraad Sondagmiddag sou vergader en dat pres. Ramaphosa dan Maandagaand die land sou toespreek. Dit word ook beweer dat Ramaphosa die land terug na vlak 5 van die inperking sal skuif vir ’n tydperk van sewe dae.

Verskillende weergawes van die boodskap word steeds versprei, met een van die skermskote wat selfs ’n eNCA-logo op het.

Phumla Williams, woordvoerder van die kabinet, sowel as Nonceba Mhlauli, woordvoerder van Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het die boodskappe as fopnuus afgemaak.

“Daar is geen beplande toespraak van die president nie. Al die spekulasie rakende daai boodskappe is fopnuus en ons doen ’n beroep op almal om dit te ignoreer,” het Williams gesê.

Die land is van 29 Desember af op ’n aangepaste vlak 3 van die inperking. Van die ingrypendste maatreëls op dié vlak sluit in die opskort van alle drankverkope, alle binnenshuise en buitelugbyeenkomste is opgeskort (begrafnisse mag voortgaan, maar met ʼn maksimum van 50 mense) en die landwye aandklokreël geld nou van 21:00 tot 06:00.

Die bepalings geld in hierdie stadium tot 15 Januarie. Pres. Ramaphosa sal die land na verwagting voor volgende week Vrydag toespreek wanneer die regulasies verval.

Altesaam 22 distrikte is reeds tot Covid-19-brandpunte verklaar.

Distrikte in die Oos-Kaap wat as brandpunte verklaar is:

  • Chris Hani
  • Buffalo City
  • Amathole
  • Alfred Nzo
  • OR Tambo
  • Nelson Mandelabaai-metro
  • Sarah Baartman

Distrikte in KwaZulu-Natal wat as brandpunte verklaar is:

  • eThekwini
  • Umgungundlovu
  • Ugu
  • Harry Gwala
  • King Cetshwayo
  • Ilembe

Distrikte in Gauteng wat as brandpunte verklaar is:

  • Wes-Rand
  • Tshwane
  • Ekurhuleni
  • Johannesburg

Distrikte in die Wes-Kaap wat as brandpunte verklaar is:

  • Weskus
  • Overberg
  • Wynland
  • Kaapstad
  • Sentrale Karoo
  • Tuinroete

Distrikte in Noordwes wat as brandpunte verklaar is:

  • Bojanala

Distrikte in Limpopo wat as brandpunte verklaar is:

  • Waterberg
  • Capricorn

In brandpuntgebiede is alle strande, damme, mere, riviere en openbare parke en swembaddens gesluit.

Diegene wat in brandpunt-distrikte woon, is ernstig aangemoedig om reis in die distrik tot noodsaaklike reise te beperk om kontak met ander mense te verminder. Reis na enige brandpunte moet so ver moontlik vermy word, het Ramaphosa gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.