Fopnuus: ‘Fees van die oningeligtes’

internet-tabletrekenaar-koffie

Foto: Kaboompics // Karolina/Pexels.com

Onlangs nog is die land én groot dele van die wêreld geruk deur ʼn sogenaamde stelling van die Suid-Afrikaanse minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, wat kwansuis sou waarsku dat kinders liefs nie vir té lank moet lees of agter hul boeke moet deurbring nie, want dít hou glo ʼn gevaar vir breinkanker in.

Gebruikers van sosiale media was stomgeslaan: Hóé kan ʼn minister – nogal dié van onderwys – só iets kwytraak? Die storie het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en Motshekga is wyd gekritiseer.

Daar was egter een probleem: Motshekga het haar nooit skuldig gemaak aan só ʼn stelling nie. Dié gerug was bloot net nóg ʼn voorbeeld van fopnuus wat duisende op sosiale media vir die waarheid aanvaar het.

Motshekga is nie die enigste een wat al geteiken is nie – emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, oudpres. Thabo Mbeki en talle ander bekendes was ook al sagte teikens vir die skrywers van fopnuus wat onakkurate inligting onder die dekmantel van ware nuus publiseer.

Die kwessie van fopnuus het Donderdag tydens ʼn Boekejol-paneelgesprek in Pretoria onder die loep gekom. Esté Meyer-Jansen, ʼn ondersoekende joernalis van Maroela Media, was in gesprek met Andries Cornelissen, eNCA-redakteur, Barnard Beukman, Beeld-redakteur en Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

Om fopnuus te definieer
Die paneel het saamgestem dat dié verskynsel kompleks is en dat die onrusbarende neiging om fopnuus te versprei, vandag groter is as voorheen.

“Fopnuus is ʼn té sagte vertaling van wat dit werklik beteken,” meen Cornelissen. “Die vertaling van ‘fake news’ na fopnuus maak dit byna onskuldig, en dit is nié onskuldig nie. Ons moet waarskynlik soek na ʼn beter vertaling vir dié verskynsel. Die woord ‘nuus’ dra ʼn spesiale betekenis, en dit is veronderstel om gesaghebbend te wees, maar om dit aan ‘fop’ te koppel, neem van die erns van die kwessie weg.”

Lombaard het gesê daar is waarskynlik meer as ʼn paar betekenisse vir “fopnuus”. “Toe ek ʼn tydjie gelede gaan ondersoek instel het om meer te wete te kom oor fopnuus, was daar sowat drie betekenisse daarvoor. Toe ek later weer gaan soek, was daar sewe en toe agt. Dit is ʼn verskynsel wat net meer gereeld sy kop uitsteek – dat vals nuus opgedis word as iets wat die waarheid is. En dan kom dit boonop voor in meer as net artikels: Dis soms elemente soos grafika wat gemanipuleer word of selfs wanneer ou nuus voorgesit word as iets nuuts. Wanneer jy so daaraan dink, word dit baie kompleks.”

“Die omgewing waarin iets soos fopnuus gedy, is wat ek noem die fees van die oningeligtes,” sê Beukman. “Die publiek raak al hoe meer oningelig. Tien jaar gelede sou fopnuus waarskynlik nie gewerk het nie omdat mense te ingelig was, maar vandag is daar ruimte daarvoor omdat mense se oningeligtheid ʼn teelaarde vir fopnuus skep.”

tablet-rekenaar-boek-papier

Foto: Tookapic/Pexels.com

ʼn Teelaarde vir fopnuus
“Mense is vandag baie onseker oor die politieke toestande in die land. Dinge gebeur baie vinnig – massas mense emigreer en lande word platgeskiet. Daar is allerhande skuiwe wat ons self nie verstaan nie en dit skep ʼn tyd van onsekerheid. Dié onsekerheid – wat terugkom na die politieke klimaat in die land – skep ʼn teelaarde vir fopnuus,” sê Beukman.

“Dit is egter nou juis ʼn tyd om ingelig te wees. Mense werk hard en hulle is van soggens vroeg tot saans laat besig. Hulle het minder tyd om aan die media te bestee en dus minder tyd om die feite te gaan soek. Dit verseker dat daar vandag ʼn groeiende getal mense is wat vatbaar is vir baie dinge. Ons as mense is veronderstel om minstens ʼn goeie gevoel te hê wanneer iets nie waarheid is nie, maar daardie vermoë gaan by die dag verlore.”

Die media as hekwagter
Fopnuus kom waarskynlik in vandag se tyd selfs meer na vore omdat die media se tradisionele rol as hekwagter nie meer so belangrik soos in die verlede is nie. Dié rol is waarskynlik besig om weg te val omdat die gewone man op straat deesdae homself as ʼn joernalis kan voordoen.

“Daar is voordele daaraan verbonde dat mense vandag toegang het tot inligting. Mense kan deesdae op enige platform na die nuus gaan kyk, so die media kan nie die nuus vir hulle manipuleer nie, omdat hulle bloot die nuus op ʼn ander platform kan gaan soek,” sê Lombaard.

“Daar is egter nadele ook daaraan verbonde: Tradisioneel is ʼn joernalis opgelei om sy werk te doen en uiteraard ʼn gevoel te hê wanneer iets verkeerd is. Dié rol van die media as hekwagter val byna weg, want die gewone ou op straat raak nou ʼn joernalis. Al wat jy nodig het, is ʼn selfoon in jou hand en ʼn plasing op sosiale media, en jy is ʼn joernalis wat die nuus aan mense kan opdis. In baie gevalle is dié persoon nie opgelei nie en sy feite is ook nie nagegaan nie.

“Die vermoë van tegnologie vandag om iets regtig eg te laat lyk is kommerwekkend. Stories is deesdae só manipuleerbaar dat ʼn mens amper nie eers meer jou eie oordeel kan vertrou nie. Dit sorg vir ʼn groot uitdaging in die toekoms,” sê sy.

Foto: Pixabay/JESHOOTS

Waarom word fopnuus geskep en versprei?
Daar is talle redes waarom fopnuus geskep en versprei word, sê Cornelissen.

Een van dié redes is die media se gebrek aan geloofwaardigheid. “Daar is ʼn gebrek aan geloofwaardigheid by die hekwagproses. Die joernalis is nie ʼn rolspeler in ʼn storie nie, maar bloot net die verteller van die inligting. Hy is nie die een wat veronderstel is om die storie te filter nie, maar om dit eg te vertel presies soos dit is. Die media het ongelukkig baie van sy geloofwaardigheid verloor, en dit maak dit makliker vir die gewone man op straat om fopnuus te skep en te versprei. Verder hou mense natuurlik ook daarvan om dinge te glo wat hulle vooropgestelde idees bevestig, en die fopnuusstories en artikels bied dit vir hulle.”

Lombaard sê fopnuus sorg heel waarskynlik vir ʼn inkomste. Sy sê propaganda is ook aan die voortou wanneer dit kom by presies waarom fopnuus geskep word.

Vroeër het Meyer-Jansen dit gestel dat propaganda tog al voor die Eerste Wêreldoorlog voorgekom het. Wat veral Lombaard beaam het.

“Propaganda is ʼn gewilde rede waarom fopnuus geskep en versprei word. Mense dryf hul eie idees of dinge waarin hul vas glo daarmee omdat dit bevestig wat hulle glo of sê. Dan is daar natuurlik ook die kwessie van die inkomste wat jy met fopnuus kan genereer. Ek het nou die dag ʼn storie gelees van ʼn man wat regtig ʼn passie het vir joernalistiek. Hy het ʼn webwerf waarop hy die nuus skryf en weergee wat werklik saak maak. Dié webwerf is egter nie ʼn dawerende sukses nie, om die waarheid te sê, dit gaan eintlik glad nie goed nie. Die man moet steeds ʼn inkomste genereer, daarom het hy drie fopnuuswebwerwe geskep wat uitstekend vaar. Dagin en daguit sit hy en dink fopnuus uit om te skryf, en dít finansier sy webwerf waar hy die regte nuus kan skryf. Dit is skrikwekkend.”

Om fopnuus hok te slaan
Barnard meen die hoofstroommedia het ʼn verantwoordelikheid om eers sy geloofwaardigheid te herstel voordat dié verskynsel minder sal voorkom. Om dit hok te slaan, of heeltemal stop te sit, is waarskynlik nie moontlik nie.

“Die hoofstroommedia se geloofwaardigheid is in ʼn mate aangetas. Daar is ʼn aversie wat ontstaan het in die politieke omgewings. Die media mag nie wegskram van sy eie geloofwaardigheidsprobleme nie. Natuurlik moet ons nie die baba met die badwater uitgooi nie, maar dit is nodig vir die media om introspeksie te doen. Die onus rus op die media om uit te staan en weer die geloofwaardigheid terug te wen,” sê hy.

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Om fopnuus hok te slaan, is die beginsel van goeie en etiese joernalistiek die belangrikste.

Lombaard meen dit bly die verantwoordelikheid van elke joernalis om die beginsels van etiese joernalistiek te volg. “Dit is deesdae baie belangrik vir die media om eerste te wees met die nuus, en talle foute glip daarmee saam in. Weer anderdag praat ek met ʼn joernalis: As dit laat Saterdagaand is en sy het ʼn goeie nuusstorie maar sy kry nie ʼn bron om dit te bevestig nie, sal sy voortgaan met publikasie? Haar antwoord was dat haar redakteur van haar sal verwag om te publiseer sodat die publikasie eerste die nuus kan verkondig. Dit is sekerlik een van die media se grootste flaters.”

Daar is natuurlik ook verskeie maniere om fopnuus te identifiseer, sê Lombaard. “Kyk na die geloofwaardigheid van die bronne: Is hulle anoniem? Word mense in die nuus aangehaal? Wat sê die ander media? Hoe lyk die URL-kode van die webwerf? Mense moet vergewis van maniere om fopnuus te kan identifiseer. En dan staan dit hulle natuurlik vry om ook fopnuus aan te meld, veral op ʼn platform soos Facebook.”

Cornelissen sê die media moet wel sy geloofwaardigheid behou, maar dit is ook nodig dat die publiek geloofwaardige handelsmerke ondersteun. “Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid – as leser en joernalis – om jaloers te waak oor die waarheid. Deesdae sien mens dat talle se lewe bepaal word deur die hoeveelheid likes, maar dit is ons taak dat die media nie so raak nie.”

Argieffoto

Fopnuus nié tydelik nie
Fopnuus gaan ongelukkig nie binnekort in die toekoms tot ʼn einde kom nie. Dit is steeds ʼn verskynsel wat deurentyd beveg moet word, meen die paneel.

“Fopnuus is nié nuut nie, maar dit het nou opgevlam as gevolg van sosiale media en omdat inligting so wyd beskikbaar is. Dit is nou meer invloedryk as ooit vantevore. Ons moet nog maniere bedink sodat geloofwaardigheid die deurslag kan gee. Die belangrikste is om die publiek in te lig oor die verskynsel, en om altyd die boodskapper van die hele waarheid te wees.”

Die Boekejol en Filmrolfees word nog tot 20 Augutus in Pretoria aangebied. Vir meer inligting oor ander gesprekke wat aangebied word, besoek die fees se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Deidré ·

Ja, Barnard die Hoofstroom Media het sy geloofwaardigheid verloor as gevolg van eensydigheid en Politieke Korrektheid. Nee, die Publiek is vandag baie meer ingelig as voorheen. Vir jare moes ons, ons eie opinies en persepsies vorm op wat die eensydige Media aan ons opgedis is. Die feit van die saak is dat die Publiek nie meer eensydige nuus vir soetkoek opeet nie…ons kan nou vir ons self dink!

Lee-Ann ·

Vandag is die algemene persoon baie meer ingelig. Elektroniese media maak nuus baie meer toeganklik. Nuus is ook nou verniet beskikbaar in vergelyking met 10 jaar terug. Enige persoon kan nou “nuus” skryf en dit beskikbaar maak. Om n stelling te maak dat mense minder ingelig is as 10 jaar terug, is vals en word deur n oningeligte persoon gemaak.

JoeV64 ·

Het tydens Mei en Junie maand met twee rekenaar, een op CNN en ander op FOX nuus gesit. Dit is absoluut lagwekkend wat CNN uit die verhore in VSA kan haal teenoor wat FOX nuus daarvan maak. CNN berig vir persone met IK van seker so tussen 45 en 60 want die vet weet die mense wat na daai twak luister moet begaafde onnoselheid besit, Veral as ene Tray Gowdy die gewese FBI baas ondervra het, hy hom telke male op lewindigeTV uitvang lieg, dan het CNN heeltemal ander storie terwyl dieselfde stroom op CNN gewys het.
Kom ons noem dit “bedrog-nuus” want die doel is om mense te bedrieg. ‘n Fop is ‘n grap, die is nie een nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.