Fopnuus of feite: ‘Covid-19’ as oorsaak van dood aangedui ná selfdood? 

’n Skermgreep op Facebook waarin beweer word dat Covid-19 as die oorsaak van dood op die doodsertifikaat aangebring is van ’n man wat sy eie lewe geneem het, is vals. Op Suid-Afrikaanse doodsertifikate word die oorsaak van sterfte slegs as “Natuurlike oorsake”, “Onnatuurlike oorsake” of “Hangende ondersoek” aangedui. Daar is ook nie ’n motief vir dokters om met opset ’n sterfte verkeerdelik as Covid-19 aan te meld nie.

Die skermgreep is van ’n Facebook-kommentaar geneem en is altesaam byna 6 000 keer op dié sosialemediaplatform gedeel. Die skrywer, wie se naam in rooi doodgekrap is, vertel met behulp van verskeie uitroeptekens, vraagtekens, hoofletters en spelfoute dat ’n vriendin se man homself drie weke tevore “gehang” het en dat die oorsaak van sy dood op die doodsertifikaat as “Corona Virus” aangedui word.

“Die mediese oorsaak van dood verskyn nooit op Suid-Afrikaanse doodsertifikate nie,” sê dr. Gavin Kirk, kliniese hoof van die Wes-Kaapse regering se forensiese patologiediens. “Dit is dus nie moontlik dat ’n familielid ‘Covid-19’ of ‘Corona Virus’ as oorsaak van dood op die doodsertifikaat kon sien nie.”

Hy benadruk wanneer iemand met Covid-19 aan ’n onverwante oorsaak soos trauma weens ’n motorongeluk of selfdood dood is, moet die oorsaak van dood aan daardie trauma toegeskryf word. “Die feit dat die persoon Covid-19 onder lede gehad het toe hy of sy dood is, is nie relevant wanneer dit by die oorsaak van dood kom nie.”

Doodsertifiseringsproses

Kirk, wat ook aan die Universiteit van Kaapstad se patologiedepartement verbonde is, verduidelik daar is ’n aantal verskillende dokumente betrokke wanneer ’n persoon sterf, wat dikwels verwar word.

“Wanneer iemand doodgaan, is die eerste vorm wat gewoonlik deur paramedici ingevul word die doodsverklaringvorm. Hierdie vorm verklaar die persoon is dood, maar gee nooit die oorsaak nie.”

Die doodskennisgewingvorm moet deur ’n mediese praktisyn voltooi word. Hierdie vorm bevat die identiteit van die oorledene, die dokter, die informant wat die oorledene uitken, en die begrafnisondernemer wat die liggaam wegneem.

Volgens die doodsertifiseringsgids vir die voltooiing van die doodskennisgewingvorm moet die mediese praktisyn besluit wat die onderliggende oorsaak van die persoon se dood is, en dit bepaal gewoonlik of die oorsaak “natuurlik” of “onnatuurlik” is. Indien daar ’n fisieke of chemiese invloed op die liggaam was (soos in die geval van selfdood of ’n ongeluk), is die oorsaak “onnatuurlik” en behoort die geval onmiddellik na die forensiese patologiediens verwys te word sodat die manier waarop die persoon gesterf het, verklaar kan word.

Uiteindelik sal daar “Natuurlike oorsake” (in die geval van Covid-19), “Onnatuurlike oorsake” (in die geval van selfdood) of “Hangende ondersoek” (indien die oorsaak nog onbekend is) op die doodskennisgewingvorm staan.

“Op die laaste bladsy van die dokument skryf die dokter die mediese oorsaak van dood,” verduidelik Kirk. “Hierdie laaste bladsy word verseël in ’n koevert en aan die ander drie bladsye geheg.”

Die departement van binnelandse sake moet dan die dood registreer sonder om die verseëlde bladsy met die mediese oorsaak oop te maak, en reik ’n doodsertifikaat uit waarop die oorsaak van dood as natuurlik, onnatuurlik of hangende ondersoek aangedui word.

Die verseëlde koevert met die mediese oorsaak van dood word aan die nasionale departement van gesondheid gestuur, waar die inligting gebruik word om nasionale sterftestatistieke saam te stel.

“Die dokter wat die doodskennisgewingvorm invul en die departement van gesondheid is dus die enigste partye wat veronderstel is om die ware oorsaak van sterfte te sien,” sê Kirk.

Geen rede vir oneerlikheid

Kirk gee toe dit gebeur soms dat familielede of ander partye onregmatige toegang tot die laaste bladsy van die doodskennisgewingvorm kry en dat dit moontlik is dat foute al gemaak is met die invul van ʼn doodskennisgewingvorm.

“Daar is egter geen rede waarom dié fout doelbewus gemaak sou word nie,” sê Kirk.

“Daar is ook geen motief vir ’n mediese praktisyn om doelbewus die oorsaak van dood op die doodskennisgewingvorm te vervals nie, met die moontlike uitsondering van ’n geval waar ’n dokter op ’n oneerlike wyse sy eie fout, wat die dood van die pasiënt kon veroorsaak het, sou wou toesmeer. Daar is beslis geen finansiële beloning om die oorsaak van dood as Covid-19 aan te dui nie.”

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, beaam dit. “Daar is geen motief nie,” sê sy. “Die aanmelding van die oorsaak van dood, onderliggende oorsaak van dood en die bydraende faktore kan wel problematies en ingewikkeld wees. Daar word tans ʼn voortgesette professionele ontwikkelingskursus opgestel om dokters hierin op te lei.”

Meer oor die skrywer: Lynné Schoeman

Lynné Schoeman is ’n meesterstudent in joernalistiek aan die École Supérieure de Journalisme de Lille in Frankryk. Haar tesis het gehandel oor die rol van sosiale media in fopnuus en feitekontroleringsjoernalistiek, met AFP se Fact Check-afdeling as gevallestudie.

Deel van: SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakes

Die verduideliking wat Kirk hier gee kan sekerlik bevraagteken word. Die term dat n persoon aan Covid verwante siektes gesterf het is ietwat vaag en tog word dit op reelmaat in die nuus en op media platforms genoem. Die terme “‘natuurlike of onnatuurlike” oorsaak van dood is ook vaag want dit bepaal nie aan watter spesifieke siekte die persoon gesterf het nie asook agv watter onnatuulike oorsake die persoon gesterf het? Ek is seker dat hierdie terme in n hof n moontlike nadraai kan he.

NetM

Onregmatige toegang se die Kirk ou. WOW!

Vranet

Nou waar kom die gegewens dan vandaan wat wys dat mense aan Covid19 oorlede is?

Kobus

Nee wat, As iemand so vinnig op die agtervoet is dan is daar beslis meer agter al die sogenaamde Covid 19 Sterftes. “Geen rede vir oneerlikheid nie” mmm, wonder wie betaal vir al die mense wat oorlede is se behandeling in die Hospitale?

Fedup

Fake or not.
In this country, anything is possible.