Fopnuus of feite: Wys ʼn video werklik hoe sigarette na SA gesmokkel word?

’n Twitter-gebruiker het op 16 Mei ’n video getwiet van mans en vroue wat met sakke en kartondose op hul koppe ʼn rivier oorsteek. “Zimbabwiërs wat sigarette na Suid-Afrika smokkel”, het sy geskryf. Die video is meer as 500 keer gedeel en byna 20 000 keer gekyk.Maroela Media het ondersoek ingestel, en die video blyk grotendeels waar te wees, hoewel dit nie met sekerheid gesê kan word dat slegs sigarette in dié bokse verpak is nie. Die video het in April reeds op die internet verskyn.

In die video sien ’n mens die woord “Oya” in rooi op een van die kartondose gedruk. Volgens oyatobacco.com lewer Oya ’n “tabakproduk van gehalte” en het hulle vennootskappe in Zimbabwe en Maleisië om hierdie “gespesialiseerde” produk te vervaardig. Hoewel dit moontlik ’n aanduiding van die inhoud is, kan ’n mens egter nie met sekerheid sê dat sigarette die enigste produk is wat deur die rivier gedra word in die video nie.

’n Leidraad om vas te stel van watter land die mense in die video is, is die taal wat hulle praat. Een Twitter-gebruiker het gesê dit klink soos Zulu. ’n Internetsoektog het egter getoon dat Zulu en Noord-Ndebele, ’n taal wat meestal in Zimbabwe gepraat word, baie na aan mekaar is. Maroela Media het ’n Shona- en Ndebele-tutordiens gekontak en een van die tutors het bevestig dat die mense in die video wel Ndebele praat. Volgens hom sê die man wat die video neem: “Gaan net oor. Ek betaal mense volgens hoe hulle werk.”

Op 28 April het die Zimbabwiese nuuswebtuiste Bulawayo24.com ’n langer weergawe van dié video geplaas. Hulle berig dat oorgrenskoeriers of “omalayitsha” vermoedelik met inwoners van die Zimbabwiese grensdorp Beitbrug saamwerk om goedere van Suid-Afrika deur die Limpoporivier na Zimbabwe te smokkel. Volgens dié berig skree ’n koördineerder dat die mense hulle geld moet kom haal sodra die taak afgehandel is.

Die skrywer voer aan dat hierdie “smokkel-inisiatief” sy oorsprong het in die “feit” dat Beitbrug, die grens tussen Zimbabwe en Suid-Afrika, “as gevolg van die koronavirus gesluit is”. Hierdie stelling is egter onwaar. Die Suid-Afrikaanse minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, het in Maart aangekondig dat die Beitbrug-grenspos, die enigste grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe, sal oop bly vir die vervoer van goedere. Die Beitbrug-grenspos is dus nié een van die 35 Suid-Afrikaanse landsgrensposte wat van 18 Maart af gesluit is om die verspreiding van Covid-19 te keer nie.

Bogmeter: Elsabé Erasmus

Nog ’n Zimbabwiese nuuswebtuiste het op 21 April berig “Suid-Afrikaners spring oor die grens na Zimbabwe om hul dors te les”. Die berig haal Zimbabwiese burgers aan wat beweer dat Suid-Afrikaners as gevolg van inperkingsregulasies inkopies oor die grens bring om vir drank en sigarette te ruil. Volgens die berig is daar gerugte dat wagte wat veronderstel is om die gebied te patrolleer, die smokkelgoedere “belas” teen tot R15 per sak inkopies.

Sunday News het op 3 Mei die Zimbabwiese minister van binnelandse sake en kultuur, Kazembe Kazembe, aangehaal waar hy sê “meer polisielede word ontplooi om die gerugte van smokkelary tussen Zimbabwe en Suid-Afrika te ondersoek”. Die minister het mense ook gemaan om teen “fopnuus en ou foto’s” te waak. Hy het beklemtoon dat “die grootste gedeelte van die Limpoporivier tans droog” is, en dat mense dus bedag moet wees op foto’s van “bote wat goedere vervoer”.

Satellietfoto’s van 2020 toon egter dat hoewel die Limpopo-rivier redelik droog is, daar wel in die Beitbrug-omgewing gedeeltes met water is waar mense gemaklik sou kon deurstap soos in die video. Boonop toon AccuWeather dat daar op 14 April, ongeveer twee weke voor die foto’s en video’s begin sirkuleer het, sowat 8,9 mm reën in die Beitbrug-omgewing geval het.

Brig. Motlafela Mojapelo van die SAPD in Limpopo het teen Saterdagmiddag nog nie op navrae oor dié beweerde smokkelary gereageer nie. Sy kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Oujongvrou ·

Ek lag my klaar. Slim ANC met kopdoek aan die stuur. Daai mense sou tien teen een nooit enige misdaad gepleeg het nie, maar hulle is gedwing

Gawie ·

Gedwing sê jy? Ek sien nie ‘n geweer teen iemand se kop nie. Jy het altyd ‘n keuse.

katerinadiekat ·

Werklik? Ek het nie meer die keuse of ek sigarette wil koop of nie. Ek mag nou nie. Dit word verbied. Nkosazana het ook nie n geweer teen haar kop gehad om miljoene Suid Afrikaanse rokers te martel nie.

Albert Willem ·

Ja daai sigarette wat jy gewoonlik vir R180 koop, gaan nou al R400 + n karton

marius ·

Hoe kom die whiskey sakkies van Ghana af hier ? Deur Zimbabwe !

PieterP ·

Auntie Pat, jou heining is ‘n flop. Wel gedaan met die mors van die geld. So gepraat van die heining, way het van die ondersoek geword???

Snowball ·

Openlike smokkelary, op plekke wat skree vir polisiëring en veiligheidsmaatreëls maar nie ‘n Cele-dienaar of dik soldaat in sig nie?
Gelukkig staan hulle paraat om ‘n vrou wat alleen draf hardhandig in ‘n vangwa te gooi en ‘n ongewapende man dood te slaan omdat hy glo regulasies ‘oortree’.
Welkom in SA, waar die regering uitblink in SOTLIKHEID.

Wanda ·

Hulle smokkel net so lekker uit Mozambique uit ook.My man kry sy sigarette van daar af laaste ruk

Gemaskerde Sopbeen ·

Waar daar ‘n rokie is …………………………

Jack ·

Ek kan maar net se: n Boer maak n plan al is dit om onder onderdrukking voort te gaan met sy vrye lewe. Entrepeneurs van formaat die Zimmies

Scalla ·

En hier by ons word die smokkel sigarette met polisie vangwaens by spaza shops afgelewer, self dit gesien.

AH ·

Daar is nie verniet ‘n gesegde van ” waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg” nie! Al die rokers wat ek ken rook nogsteeds al kan hulle nie hul “brand” in die hande kry nie! Die hele SA regering sit die pot so ver mis om te dink dat om ‘n verbod op sekere goed te plaas enigiets te doen het met Covid-19 en/of die verspreiding daarvan. Alles word net vererger deur misdadigers vrye teuls te gee en van ons wetsgehoorsame burgers misdadigers te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.