FOR SA hof toe oor verbod op kerkdienste

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Freedom of Religion South Africa (FOR SA) sleep onder andere die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, hof toe oor die algehele verbod op godsdienstige byeenkomste wat einde verlede jaar ingestel is.

Die verbod is tydens die algehele inperking verlede jaar ingestel om die verspreiding van Covid-19 te beperk en in Januarie onbepaald verleng. Dit is egter intussen aangepas om kerkdienste toe te laat, mits venues waar kerkdienste plaasvind nie 100% vol is nie.

FOR SA wil egter steeds die algehele verbod op godsdienstige uitdaag en as “onwettig en ongrondwetlik” laat verklaar, aangesien dié organisasie meen dat dit enige tyd weer ingestel kan word.

Die organisasie beoog ook om godsdienstige leiers as noodsaaklike werkers tydens ʼn afsonderingstydperk te laat verklaar.

Dít volg byna tien maande nadat ’n dringende aansoek deur FOR SA in Februarie reeds aangehoor sou word. Die regering het die verbod egter ’n dag voordat die aansoek aangehoor sou word, opgehef en daar was dus geen meer gronde om die saak op ’n dringende basis aan te hoor nie.

Die saak sal nou volgende week van Maandag tot Woensdag (22 tot 24 November) virtueel in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor word.

Dlamini-Zuma voer aan dat die algehele verbod op godsdienstige byeenkomste reeds opgehef is en staan die aansoek op grond van dié argument teen.

Maar FOR SA sê dit is belangrik dat ’n regter steeds die saak aanhoor en daaroor beslis, aangesien dit ʼn wetlike presedent sal skep oor die vraag “tot watter mate en onder watter omstandighede die regering in tye van krisis mense kan verhoed om hul grondwetlike reg tot godsdiensvryheid uit te oefen”, sê Michael Swain, uitvoerende hoof van FOR SA.

Die organisasie wys ook daarop dat die minister haar hoegenaamd nog nie daartoe verbind om nooit weer ’n algehele verbod op godsdienstige byeenkomste in te stel nie, terwyl ander byeenkomste toegelaat word om voort te gaan.

Suid-Afrika is sedert September op ’n  vlak 1 van die afsonderingstydperk.

Godsdienstige byeenkomste word dus in dié stadium tot 50% van die normale kapasiteit van die venue beperk, met ʼn maksimum van 250 persone vir binnenshuise geleenthede en 500 persone vir buitemuurse geleenthede.

  • FOR SA se aansoek sal gelyktydig met die aansoeke van die Suid-Afrikaanse Nasionale Christenforum (SANCF), Solidariteit Helpende Hand, die Moslem-prokureursvereniging (MLA) en ander organisasies aangehoor word, wat almal die afsonderingsregulasies op ’n soortgelyke basis betwis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Mallie ·

Wie dink sy is sy. Ek sal kerk toe gaan al bars hy uit sy nate
As sy n anti chris is is dit haar probleem. Die armsalige siel.

Christina ·

Ek glo dat geestelike werkers ook nie verhoed moet word om hospitaal besoeke te doen nie. Ek dink daar is baie wat dit nodig het.

Martie Smartie ·

Kyk daardie antie is nie vars nie. En sy weet dit blykbaar nie …

Trotse Boervrou ·

Maar Justin Bieber mag ‘n helse konserttoer kom hou….

Zombie ·

Wanneer kom die Bieber-outjie? Eerskomende Sondag of eers later in volgende jaar?

Sarel ·

Ek stem nue saam mrt Anti Kopdoek se besluite nie
Maar ook nie met sommige Organisasies se optrede sois om die Polisie aan te val nie. Mensebdn Leiers moet hier
die nodige versntwoordelikheid openbaar.
Maar ja ek sou reken ‘n versoek sou beter werk as ‘n verbod. Masr nou ja ons ken haar ook as die
Tabak Anti

Zombie ·

Kan hulle nie sommer bid in plaas van hof toe gaan nie? Nou kom dit voor asof hulle meer vertroue in die hof as hul God het. Ek stem egter saam dat die mense wat wil kerk toe gaan, die reg het om dit te mag doen.

anniekiewiet ·

Hulle weet nie dat hulle deur die duiwel misbruik word om christene se geloof te probeer stop nie.
Verlede jaar het iemand die woorde geplaas en aangestuur: satan het gedink hy het kerke toegemaak. Toe antwoord God hom: toemaar, nou is daar n kerk in elke huis.

Porseleintjie ·

Kerk toe sal ek gaan al swaai sy haar kopdoek in die wind. Die stem van God sal nie sy of enige duiwel ooit kan stilmaak nie. Die dag kom nader dat elke knie voor Jesus sal buig… Ook sy.

AmY ·

Met die inperking verlede jaar, het ons pastoor se aanlynboodskap ook daai mense in my huis bereik wat nooit kerk toe gaan nie…
Ja, dit was nie lekker om nie te kon kerk toe gaan nie, maar ons pastoor se boodskap het meer mense as gewoonlik bereik.

Malan ·

Nou wat gaan bereik word hiermee? Dit is lankal verby. Sy gaan tot in die hoogste hof apelleer en dit alles op die belastingbetaler se koste. Al word sy ook skuldig bevind gaan dit niks beteken nie. Sy sal dit weer doen en dan word dieselfde prosedure weer gevolg. Ek kan hierdie onsinnige hofsake net nie meer bekostig nie.

Waarnemer ·

Soveel geld onnodig om hof toe te gaan daaroor…die kerke is mos nou weer oop,waarom dit in die hof gaan beveg,,,gedane sake het geen keer nie.

Samuel ·

Nee wat, hierdie kommunis weet sy moet ten alle koste nie net die Christelike geloof ondermyn nie, maar alle geestelike bedrywighede. Die kerke hou vir haar en CR en andere gevaar in. Sterkte vir julle FOR.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.