FOR SA verwelkom groen lig vir godsdiensbyeenkomste

Argieffoto (Foto: sspiehs3/Pixabay)

Freedom of Religion South Africa (FOR SA) het die aankondiging dat godsdiensbyeenkomste weer toegelaat word, verwelkom.

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand aangekondig dat die afsonderingsregulasies onder koronavirusvlak 3 effe verslap word. Dit sluit onder meer in dat godsdiensbyeenkomste – onderworpe aan gesondheidsprotokol – weer toegelaat word. Tydens dié byeenkomste word ʼn maksimum van 50 mense binnenshuis en 100 mense buite toegelaat. Waar die gebou of plek te klein is om dié getalle te hanteer, word ʼn maksimum kapasiteit van 50% toegelaat.

Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA, sê die organisasie is tevrede met die regering se besluit, maar wil nog ʼn paar kwessies oor die grondwetlikheid van die regering se besluite en die besluitnemingsproses rakende geloofsgebaseerde byeenkomste aanraak.

FOR SA het hom verlede week tot die Johannesburgse hooggeregshof gewend om die regering te dwing om die huidige en onbepaalde verbod op godsdiensbyeenkomste op te hef.

Die organisasie het in hofstukke spesifiek gevra dat die godsdienssektor oor dieselfde kam as casino’s, gesondheidsklubs, rolprentteaters en restaurante geskeer moet word wat betref die grootte van toelaatbare byeenkomste.

Die organisasie het ook gevra dat die regering wetenskaplike bewyse verskaf oor waarom alle geloofsgebaseerde byeenkomste tydens die aangepaste vlak 3-regulasies verbied word, terwyl ander, soortgelyke byeenkomste wel toegelaat word.

Dié hofaansoek, wat ondersteun is deur verskeie kerke en godsdienstige organisasies, sou vandag in die hof verhoor word – tesame met soortgelyke aansoeke deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum, AfriForum en Solidariteit Helpende Hand. In die lig van gisteraand se aankondiging en gewysigde regulasies het die partye egter ooreengekom dat daar nie meer ʼn dringende behoefte bestaan om in die hof argumente aan te hoor oor waarom die verbod opgehef moet word nie.

Die partye het egter ooreengekom dat die enkele beslissende kwessies wat nog ter sprake is wel in ʼn hofbevel aangeraak sal word.

Ingevolge die hofbevel moet die regering teen 15 Februarie rekords lewer van besluite wat hy rakende die kwessie wil lewer. Daarna sal FOR SA en die ander aansoekers die geleentheid hê om hul prosesstukke aan te vul, waarna die regering dieselfde sal kan doen. Die partye sal ook die adjunk-regter-president versoek om die saak so spoedig moontlik vanaf 17 Mei aan te hoor.

“Hoewel geloofsgebaseerde byeenkomste weer toegelaat is, kan nog golwe van die pandemie ons heel moontlik in die gesig staar. Dit is dus van sleutelbelang dat ons ʼn presedent skep rakende die grondslag waarop die regering godsdiensbyeenkomste voortaan wel wettig kan reguleer namate die pandemie ontvou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Maak nie sin nie, 50 in die kerk, maar 300 mense mag in ‘n in ‘n winkel ingaan.

Aikie ·

Ek kry die idee dat almal wat kla en hof toe wil gaan, nie regtig die welvaart van die publiek in die oog hou nie. Dit gaan meer oor die politieke punte wat hulle kan inoes in dié moeilike tye. Ek hou persoonlik ook nie veel van ons regering nie, maar ek weet hulle probeer veel groter probleme voorkom met hulle aksies. Vergeet liewer van al julle teenstrydighede en probeer tog asseblief saamwerk.
Laat my dink aan ou Van toe die ANC oorgevat het. Hy besluit toe om te emigreer en hy klim op ‘n skip. Doer diep in die see sink die skip en ou Van swem en hy swem. Net toe hy amper verdrink, spoel hy uit op’ n eiland, poegaai. Twee van die eiland bewoners kry hom en help hom op na hulle huis toe. Op pad vra ou Van: “Is hier ‘n regering op die eiland?” “Ja,” sê die twee. “Ek is teen hulle” sê Van.

BARNEY ·

Ek is verheug! Ons lidmate kan weer bymekaar kom en saam op een plek die Here loof en prys, en mekaar bemoedig. Alhoewel ons gebruik gemaak het van tegnologie om die Woord te deel, is dit nie dieselfde nie. Om saam te sing, en bid en die woord te hoor is wonderlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.