Ford, kommissie gekap in parlement

ford1

Foto: AP Photo/Alan Diaz.

Die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid het gister die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) en Ford SA aangespreek omdat hulle glo te stadig op probleme met die Ford Kuga gereageer het.

Lede van die komitee wou weet waarom die herroeping van die Ford Kuga 1.6-liter EcoBoost eers vanjaar plaasgevind het nadat die motorreus reeds in 2015 van die eerste enjinbrande in dié sportnutsvoertuie te hore gekom het. Die enjinbrande het daarna in 2016 drasties toegeneem.

LP’s het aangedui dat Ford vinniger opgetree het toe hulle soortgelyke probleme met hulle voertuie in die VSA ondervind het terwyl daar gesloer is met optrede in Suid-Afrika. Hulle meen dit skep die indruk dat Suid-Afrikaanse lewens minder belangrik vir die motormaatskappy is.

Die komitee wou ook weet hoekom reguleerders so lank geneem het om by die ondersoeke rondom die Kuga-enjinbrande betrokke te raak. Komiteelede het dit duidelik gestel dat baie verbruikers hulle vertroue in Ford SA verloor het en daarop gewys dat meer voldoende en tydige inligting omtrent die probleme met die motorfabrikaat se enjin veel vroeër beskikbaar moes wees.

Die voorsitter van die komitee, Joanmariae Fubbs, het gesê dit is duidelik dat internasionale standaarde nie net vanselfsprekend vir die plaaslike mark aanvaar moet word nie. “Ons kan nie net vir iets rampspoedigs wag om te gebeur voordat ons optree nie. Dit is duidelik dat ons nie in sekere omstandighede kan staatmaak op internasionale toetse vir veiligheid en gehalte nie. Ons sal dit moet oorweeg om ons eie toetse hiervoor te ontwikkel, wat Suid-Afrika se klimaat en omgewing in ag neem.”

Verder het die komitee Ford SA aangemoedig om die saak van Reshall Jimmy op ʼn meer menslike wyse te hanteer. Jimmy het in Desember 2015 in sy 2014 1.6-liter Kuga in die Wildernis, Wes-Kaap, doodgebrand.

Ford SA het weer eens teenoor die komitee ontken dat die brand waarin Jimmy gesterf het, deur enjinoorverhitting veroorsaak is. Hulle het ook gesê dat hulle ondersteuning aan die Jimmy-familie gebied het. Verteenwoordigers van die motormaatskappy het verder aan die komitee gesê hulle verstaan dat die familie afsluiting rondom Jimmy se dood verlang, maar die motorreus kan nie net aanspreeklikheid vir die voorval aanvaar as hulle nog nie al die feite het nie. Ford SA het egter weer eens aan die komitee erken dat hulle nie goed genoeg oor die enjinbrande met die Kuga’s gekommunikeer het nie en dat hulle hul beste doen om dit te verbeter.

Die komitee het verder gehoor dat die Ford Kuga in 2013 in Suid-Afrika bekendgestel is en dat daar 15 000 van die voertuie verkoop is. ʼn Totaal van 4 556 1.6-litre Kugas is op 16 Januarie 2017 herroep nadat 47 van die voertuie sedert verlede jaar weens oorverhitting in die enjins vlamgevat het. Daar is reeds 3 200 Kuga’s nagegaan en 2 700 is gediens en aan hulle eienaars terugbesorg. Sowat 600 Kuga-eienaars kon egter nog nie opgespoor word nie.

Verteenwoordigers van die NVK het in hulle voorlegging gesê hulle het ʼn verdere 45 klagtes ontvang van Kuga-eienaars wat beweer hulle regte is geskend. Die kommissie het ʼn verdere ondersoek teen Ford SA voorgestel omdat die klagtes by die bepaling van die herroeping val. Ford het nog nie op die spesifieke klagtes gereageer nie en daarom kon die kommissie nie verder besonderhede daaroor aan die LP’s verskaf nie.

Nadat die komitee verdaag het, het Fubbs bevestig dat die komitee die Kuga-saak verder streng sal monitor. Sy het ook bevestig die komitee sal moet besluit of riglyne en wetgewing hersien moet word sodat daar vinniger opgetree kan word indien motors in die toekoms herroep moet word. “Ons moet leer uit ons foute en die plaaslike verbruikers ondersteun en beskerm,” het sy gesê.

  • Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die Ford Kuga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chris Ws ·

Gelukkig kyk ek al vir baie jare Ford produkte heeltemal mis wanneer ek ‘n voertuig wil koop.En so sal dit bly tot ek lepel in die dak steek.My kinders en onmiddelike familie doen dieselfde want daar is heelwat beter produkte in die plaaslike voertuig mark beskikbaar.

Dirk Wessels ·

Chris, ek ry al vir jare Ford produkte en het nog nie ‘n dag se probleme gehad nie. Ek weet van Toyota wat soortgelyke probleme ondervind het (kleuter wat doodgebrand het agv ruit skakelaar?) en as dit jou opinie is sal jy en jou familie eersdaags met die voet moet loop, want alle voertuie het ontwerps probleme. Hoop nie jy besit ‘n Mitsubishi Pajero nie ou maat.

Chris Ws ·

Dirk Wessels ,ek het 1.6, 2.5XL Big Six en 3liter XLE Cortinas gery.Die twee V6’e was puik voertuie.Geen klagtes daar gehad nie.Maar dis 30 jaar plus gelede.Die huidige motormark in ons land bied eenvoudig net te veel kompetisie vir Ford waar dit prys en gehalte betref.Nee ek ry nie ‘n Pajero nie.Wil ook nie.My voertuig is ‘n 16 jaar oue 2.5LE diesel d/c Isuzu.Ek was al deur 2 BMW eienaars genader om te ruil maar ek ruil hom vir NIKS.Dis ‘n puik voertuig met vandag se slegte paaie EN is baie goedkoop om te onderhou.

Daleen ·

FORD – FouteOralReparasiesDaagliks. My man vertel my altyd as ek ‘n Ford wil koop, moet ek sommer ‘n motorwerktuigkundige ook kry wat elke keer saam met my ry want hy (my man) gaan my nie kom help as ek langs die pad gaan staan met ‘n Ford nie

Wiebo ·

Ek het groot geword met die feit dat Ford”s olie lek en rook en dat die mense wat Ford’s ry, wolle op die dash sit en blink mags opsit. Wel ek het toe n paar jaar gelede n Ford Ka gekoop omdat die kar lelik en on populer is, en die kanse is min dat iemand die kar sal steel. Wel, wat n nagmerrie. Die een engine probleem na die ander. Dit wil net nie ophou nie. En die parte is ongelooflik duur vir so n klein karretjie. My vriendin ry ook n Ka, sit met dieselfde probleem, as my kar se flikkerlig unit breek, dan breek hare ook, en gloeilampe blaas aanmekaar op altwee voertuie, ry oor n hobbel in die pad, en die radio gaan af op altwee karre, en het ook altwee dieselfde rattles. Ford, nooit weer nie dankie!!!

pieter ·

ONS KLIENTE IS PLAINWEG STUPID,HOU OP OM MENSE SOOS DIE TE ONDERSTEUN , EN HULLE SAL REG OF WEG.

Mossie ·

Praat die wat tanne het LP s sê lewens is vir ford minner belangrik ha ha ha as jy na plaasmoorde kyk ie lewens vir hulle niks belangrik never mind ford se minner belangrik

ELSA ·

EK RY N FORD FIGO – KARRETJIE HET AL OOR DIE 169000 KM..GEEN PROBLEME,EK SAL ENIGE TYD N FORD KUGA KOOP .MY MAN HET AL 2 FORD RANGERS GEHAD,GEEN PROBLEME.

JP4ZEL ·

Alle simpatie met die persoon wat dood gebrand het se familie en naasbestaandes, maar ek wil net vra of dit normale optrede is van n persoon om in sy voertuig te bly as hy sien dis aan die brand? Persoonlike opinie: Daar is iets anders agter die betrokke persoon se dood as n verhittings probleem op n Ford Kuga.

J ·

My broer ry ook Ford Ranger bakkie en ratkas is 1 van die groot probleme ons moes net keer of hy het n vuurhoutjie getrek toe ratkas weer groet.

J ·

Jammer ford hou verby as ek sien hoe my broer met sy ford bakkie se ratkas sukkel meer stukkend as op die pad

alexander ·

Ford verdien om in die toekoms baie swak te presteer op die NAAMSA syfers.

Hierdie SA Ford het nie ‘n saak met SA se publiek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.