Ford Kuga-saga: Geregtelike ondersoek volg meer as drie jaar later

Reshall Jimmy (Foto: Kaveen Jimmy/Facebook)

Die familie van Reshall Jimmy (33), die man wat in Desember 2015 dood is toe sy Ford Kuga aan die brand geslaan het, is ʼn paar treë nader aan ʼn antwoord van dié motorvervaardiger.

Renisha Jimmy, Reshall se suster, het Donderdag aan Maroela Media bevestig die familie het ʼn kennisgewing van die departement van justisie ontvang dat ʼn geregtelike ondersoek op 4 Februarie 2019 sal plaasvind.

Die familie is al jare lank in ʼn stryd met Ford gewikkel om te bepaal waarom Reshall se motor aan die brand geslaan het.

Volgens die kennisgewing sal die ondersoek die omstandighede en oorsaak van Reshall se dood ondersoek.

Sy het bevestig voormalige staatsaanklaer adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, is betrokke en hanteer die saak namens die Jimmy-familie.

jimmy-ford-kuga

‘n Foto van Reshall Jimmy (33) se uitgebrande Ford Kuga wat in Desember 2015 in Wildernis, Wes-Kaap gevind is. Foto: Kaveen Jimmy/Facebook.

Nel het intussen gesê hulle is bly dat die proses uiteindelik begin. “Dit was ’n baie traumatiese tyd vir die gesin, wat desperaat is vir genesing. Ons sal ons beskouing van en ervarings met Ford en hul regspan in die komende week of twee onthul – veral Ford se uitgesproke houding jeens hul kliënte.”

Renisha het gesê Nel en sy span was instrumenteel om die familie te help om vir ’n geregtelike ondersoek ná haar broer se dood te veg. “Sy volharding het hierdie ondersoekdatum moontlik gemaak. Ons geveg met Ford om met die waarheid oor die omstandighede rondom die brand vorendag te kom, is al vir jare aan die gang, en as familie is ons nie bereid om die geveg op te gee nie.

“Al ons interaksies met Ford oor die afgelope drie jaar – waartydens ons daarop aangedring het dat hulle hul bevindinge onthul, maar wat hulle tot op datum nog nie gedoen het nie – kan nou deur die hooggeregshof afgedwing word. Ons is vol vertroue dat die toepaslike gevolgtrekkings en bevindinge gemaak sal word,” het Renisha bygevoeg.

Reshall se Ford Kuga het in Wildernis in die Wes-Kaap aan die brand geslaan terwyl hy met vakansie was. Minstens 80 ander Kugas het in Suid-Afrika aan die brand geslaan en 4 556 Ford Kuga 1.6-liter EcoBoost-sportnutsvoertuie is in Januarie 2017 herroep vir veiligheidsopgraderings.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die Ford Kuga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jack ·

As jou motor begin brand, spring jy uit en maak seker dat jy veilig is. Dit is as jou motor verseker is. Ford, vind tog asb. uit of die man se motor verseker was?

Gerhard ·

Ek dink jy gaan in elk geval uitklim. Die vraag is waarom het hy nie. Enige voertuig se deur sal van binne oopmaak selfs al is hy gesluit. Waarom het hy nie net uitgeklim nie?

Vraagteken ·

Die betrokke voertuig het van agter begin brand. Die Kugas het van voor begin brand. Dus wou Ford nie die saak deeglik ondersoek nie want hulle hou vol dat die betrokke voertuig nié deur hulle vervaardigingsfout veroorsaak was nie.

vissie ·

Nee enige voertuig se deur maak nie net oop van die binnekant nie . So wyle terug by winkel sentrum wou ek en vroulief uit motor klim maar deure reageer nie. Gelukkig het ek die voertuig se meganiese sleutel saam my elektroniese sleutel op een sleutel ring gehad. Die venster het oop gemaak en kon ek met die deur sleutel deur die venster die deur oop maak. ook net bestuurder se deur. Na n ondersoek is bevind die een fuse het geblaas. So die geskarrel om agter te kom wat gaan aan het seker maklik so ses min. geduur voor die deur oopgesluit kon word. Genoeg tyd om te verbrand sou ek se.

vya ·

iewers het n voëltjie gefluir die betrokke kuga kon gebrand get agv klankstelsel deur die oorledene laat installeer. gerrie nel hou van hierdie hoëprofiel sake wat eeedsop n spits gedryf is, maar bes die gabriella en zuma sake is dit ook sovwer dit gaan. hkm is sy stem stil met die middelburg en colgni duo’s se sake? nee wat! die man is tandloos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.