Ford moet miljoene opdok ná Kugas brand

Ford Kuga Foto: IPSS

Die motorreus Ford is ʼn administratiewe boete van R35 miljoen deur die nasionale verbruikerskommissie (NVK) opgelê in verband met die Ford Kuga-saak.

Thezi Mabuza, waarnemende kommissaris van die NVK, het Vrydag tydens ʼn mediakonferensie bekend gemaak dat die NVK bevind het dat Ford in werklikheid by verbode gedrag betrokke was deur Kuga-voertuie te versprei wat moontlik kon faal weens ʼn probleem met die verkoelingstelsel.

Die NVK het ʼn totaal van 160 klagtes van verbruikers ontvang wat beweer het hul regte is deur Ford geskend. Die ondersoek het bevestig dat 56 Kugas aan die brand geslaan het.

Ford en die NVK het ʼn skikkingsooreenkoms bereik waarvolgens Ford erken dat hy aanspreeklik is. Ford het reeds van die eienaars van Kuga-voertuie wat gebrand het vergoed.

Verbruikers het egter ook nou drie opsies om van Ford te eis vir Kuga-voertuie wat beskadig of onttrek is. Hulle kan ʼn betaling van R50 000 van Ford ontvang en dan geen verdere eise teen die maatskappy instel nie.

Die ander opsie is vir verbruikers wat glo dat hulle geregtig is op meer as R50 000. In dié opsig kan ʼn klagte teen Ford gebring word ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming.

As ʼn derde opsie kan verbruikers kies om deur die howe te gaan om skadevergoeding te eis.

“Die kommissie sal met die individuele verbruikers wat klagtes by die kommissie ingedien het kommunikeer om die roete wat hulle kies te bepaal en om enige leiding te gee rakende die eisproses indien hulle dit benodig,” het Mabuza gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Outoppie ·

En al die wat die Ford besit en dit kort kort moes inneem vir herstel. Word hul ook vergoed vir hul tyd en geld

bb ·

Nou waar gaan die R 35 miljoen heen en die klaers is moontlik geregtig op 50K?

Piet parys ·

Dis n klug .Wou ek ook vra bb. Lyk my die nvg doen sulke sake om geldelike voordeel te trek . Die Kuga eienaars se voertuie moes deur ford terug gekoop word en so ook die herstelwerk koste aangegaan deur eienaars Gelukkig het ek nie n Ford nie . INTEGRITEIT IS BESLIS NIE EEN VAN FORD SE LEUSES NIE.

Daan Erasmus ·

En die Staat / Regering kry 35 miljoen. Dan kry die gewone persoon ‘n piepklein bedrag wat dieselfde vir almal is. Daar is mense wat geen skade gely het, die versekering het die skade. En wat van die wat nie versekering gehad het nie het alles verloor. Dit is ‘n skande

HPV ·

Kry vir julle, Ford! Die herstel van ontwerp foute op my bakkie waarvoor ek jare later self moes betaal laat my nou ‘n klein bietjie beter voel.

Danie T ·

NVK: Admin vergoeding van R35 milj!!! Waarvoor? Dis blatante diefstal deur Staat! Die boete kom regmatig die persone toe wat skade gely het! Hoe is die bedrag bereken?
Wat het hul daarvoor gedoen?Eintlik voel hul niks vir verbruiker. Net daar om te parisiteer. Absolute skande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.