Ford SA se hoof teruggeroep na VSA

jeffery-nemeth

Jeffery Nemeth voormalige uitvoerende hoof van Ford SA. Foto: Ford Media.

Jeffery Nemeth, die uitvoerende hoof van Ford SA, is laat Dinsdagmiddag na die VSA teruggeroep.

Die motorreus het gister aangekondig dat Casper Kruger, voorheen Toyota se vise-president van verkope en handelaarsnetwerke, van 1 April die leisels as besturende direkteur van Ford se Afrika-streek suid van die Sahara sal oorneem.

Nemeth se terugkeer na Amerika volg kort op die hakke van berigte dat plaaslike verskeringsmaatskappye Auto & General en Dialdirect beplan om regstappe teen Ford te doen. Hy is ook uit verskeie oorde skerp gekritiseer vir die manier waarop Ford SA die hele fiasko met die Kuga-brande onder sy leiding gehanteer het.

Ford SA het in Januarie vanjaar die 4556 1.6-litre Kuga EcoBoost sportnutsvoertuie wat tussen Desember 2012 en Februarie 2014 gebou is, herroep, nadat sowat 51 van die motors vlam gevat het op Suid-Afrikaanse paaie. Reshall Jimmy het in Desember 2015 in sy 2014 1.6-liter Kuga in die Wildernis, Wes-Kaap, doodgebrand. Ford hou steeds voet by stuk dat die brand in Jimmy se Kuga nié deur dieselfde fout veroorsaak is as die brande wat in die enjinkompartement van die ander Kuga’s ontstaan het nie. Die maatskappy blameer ʼn elektriese fout op dié motor vir die spesifiek brand. Jimmy se familie het gedreig om ʼn klasaksie saam met ander Ford-eienaars teen die motorreus in te stel.

Die Nasionale Verbruikerskommissie het ook amptelik einde Februarie ʼn ondersoek teen Ford SA ingestel nadat hulle 130 klagtes van verbruikers ontvang het wat verskeie kwessies insluit. Die motorreus is saam met die Nasionale Verbruikerskommissie gevra om aan die begin van Maart voor die parlement te verskyn om verslag oor die Kuga-fiasko te lewer. Die parlementêre komitee het albei instansies gekap oor die manier waarop hulle die hele situasie tot dusver hanteer het.

Luidens ʼn verklaring van Jacques Brent, Ford se president vir die Middel-Ooste en Afrika, hou Nemeth se terugkeer na die VSA egter nie verband met die Kuga of enige van die ondersoeke nie. Sy kontrak sou in elke geval in Junie 2017 tot ʼn einde gekom het en hy en sy familie keer terug na die VSA nadat sy seun se skooljaar tot ʼn einde kom.

Ford het gesê Nemeth is beslis nie afgedank nie, maar die maatskappy het nie uitgebrei oor wat sy rol by Ford in die VSA gaan wees nie. Hulle het hom bedank vir sy toegewydheid om die motorreus te ontwikkel en uit te brei in die sewe jaar wat hy sake in Afrika suid van die Sahara vir Ford bestuur het.

“Onder Nemeth se leiding het die span ʼn wêreldwye uitvoerprogram van stapel gestuur vir die plaaslike vervaardigde Ford Ranger en Everest. Die Silverton-monteeraanleg in Pretoria en die Struandale-enjinaanleg in Port Elizabeth is uitgebrei met beleggings wat miljarde rand beloop het en uitsette tot rekordhoogtes by die aanlegte gedryf het,” het Brent gesê.

  • Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die Ford Kuga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos1 ·

Is Ford nou ANC ondersteuners?
Word mense herontplooi in plaas van verantwoordelikheid vat?
En o ja, nie vergeet nie, dieselfde verskonings!

Ramkat ·

Kyk wat gebeur internasionaal as jy aanjaag. Jy word nie onvoorwaardelik beskerm nie, jy moet sorg dat dit nooit nodig sal word nie.
Daar word nie Vrae gevra nie. As jy nie jou taak tot die algemene beswil van die organisasie uitvoer nie word jy gepos.
Demokrasie werk so, behalwe die RSA WEERGAWE van n DEMOKRASIE.
Hier kan jy die grootste moontlike verleentheid wees keer op keer op keer op keer en jy sal beskerm word selfs tot nadeel van die land.
Daar bestaan selfs die moontlikheid dat jy tot LP of ambassadeur bevorder kan word.

Johann ·

RAMKAT…ongelukkig is jy reg. Erger nog; die attitude daaroor is ” so what?”. Jy durf nie die situasie aanspreek nie want dan is jy KOLONiserend!

FM ·

Ford is darem n baie beter produk as van ons geagte amptenare. Ford doen regstellende stappe, maar die geagte amptenarre, let wel amptenarre, waarvan ek praat, stel net belang in dit wat vir hulle belangrik is, nl hulself. Die land kan maar krepeer!!!So julle weet seker van wie ek praat.

WitBlits ·

Ford VSA indien julle nie geweet het nie, Numba 1 is ook terugroepbaar en verlos ons asb van die man!!!
Hy is uitstekend om homself uit moeilike posisies te wikkel en hy sou sekerlik ‘n uitstekende bydrae kon lewer met al die netellige situasies waarin julle die laaste jaar of wat was!
Dan nie eers te praat van die Guptavernuf wat hy as gratis bydrae kan saambring nie.

Jan Jooste ·

Genade dat Suid-Afrika ontslae is van Nemeth. Lanklaas ‘n besigheidsleier gesien wat so min voel vir etiek of sy kliënte. Na regte, as hy via die Guptas – SA burgerskap kon kry, sou hy regtig opgang maak in ‘n Zuma kabinet!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.