SAOU-verslag: “Goeie diens, maar hersien hoof se salaris”

Die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) lewer ‘n goeie diens aan sy lede, en daar is geen aanduidings van finansiële ongerymdhede nie, hoewel die vergoeding van Chris Klopper, hoof van die SAOU, hersien behoort te word.

Dit is sommige van die bevindings in die verslag oor die werksaamhede oor die SAOU wat ná ses maande se ondersoek op 6 November aan verteenwoordigers van die SAOU se Nasionale Uitvoerende Raad (NUK) oorhandig is.

Maroela Media het in Mei berig die SAOU, wat sowat 37 000 lede by 3 800 skole verteenwoordig, het ‘n senior afgetrede regter, oudregter Willem Hartzenberg, aangestel om bewerings van finansiële ongerymdhede teen die vakbond te ondersoek. Die bewerings is aanhangig gemaak deur Michael Pashut, ‘n motorhandelaar wat ook minibusse aan skole verkoop.

Die verslag beklemtoon dat alle prosesse wat deur die SAOU gevolg word met alle toepaslike voorskrifte, insluitende dié van die Wet op Arbeidsverhoudinge, die King-verslae en die SAOU se eie konstitusie versoenbaar is.

Die verslag beveel wel aan dat die salaris, toelaes en winsdeling wat Chris Klopper, hoof van die SAOU, ontvang, hersien behoort te word.

Pashut het beweer dat die SAOU op ʼn onreëlmatige wyse bestuur is en dat die SAOU se bestuurslede hulleself verryk ten koste van die lede van die vakunie, dit wil sê die onderwysers wat almal lede van die vakunie is. Veral Chris Klopper, die SAOU se uitvoerende hoof, se jaarlikse salaris is bevraagteken.

Volgens Hartzenberg se verslag was Klopper se verdienste uit die SAOU/SAEF-groep vir die belastingjaar wat op 28 Februarie 2018 geëindig het in totaal R3 651 851, uitgesluit sy motorvoordeel. Dit het bestaan uit ‘n SAOU-pakket van sowat R1.6 miljoen, ‘n pakket van die South African Education Foundation (SAEF) van net onder R2 miljoen, en winsdeling in die TO Onderlinge Maatskappy (TOOM) van R57 735.

Hoewel die Klopper se vergoedingspakket saamgestel is op grond van aanbevelings deur PE Corporate Services, is Hartzenberg se aanbeveling in die verslag dat ‘n tweede opinie “nie skadelik kan wees nie”.

In sy verslag sê Hartzenberg dat Pashut nie ʼn lid van SAOU is nie en geen persoonlike belang by die geldsake van die SAOU-groep het nie. “Dit is egter so dat skole ʼn goeie afsetgebied is vir skoolbussies en dat die verkoop van skoolbussies ʼn goeie bron van inkomste vir mnr. Pashut is. Die jaarlikse skoolhoofdesimposium is ʼn uitstekende geleentheid vir mnr. Pashut om aanknopingsonderhandelinge te hê vir die verkoop van bussies. Die feit dat hy nie genooi is om ʼn stalletjie te bedryf by die simposium nie is beslis tot sy nadeel.”

Bewerings is ook deur sommige SAOU-lede gemaak dat daar finansiële wanbestuur, selfverryking en optrede in weerwil van wetgewing en voorskrifte by die SAOU bestaan, en van hierdie persone het selfs beweer dat die verkiesingsproses van die unie se bestuurstrukture nie demokraties plaasgevind het nie.

Die verslag het egter bevind dat daar nie substantiewe redes is vir die aantygings en bewerings wat teen die SAOU en die leierskap gebring is nie. Die verkiesingsprosedures vir verkose leiers is indringend ondersoek en daar is bevind dat die verkiesing van persone in bestuursposisies demokraties was, en dat daar geen suspisie kan wees oor hul verkiesing nie.

Op die terrein van finansiële bestuur is bevind dat die SAOU die beginsels van die King-verslae III en IV streng toepas en dat ouditeure hoegenaamd niks kon vind wat dui op enige wesenlike gebreke of wanbestuur in hierdie verband nie. “Daar is voortdurende kontrole oor die vloei van fondse. Daar ʼn hele aantal komitees wat moet toesien dat die geldsake behoorlik hanteer word. Alle state word geoudit en die SAOU het nog nie enige gekwalifiseerde oudits ontvang nie.”

Laai die volledige verslag hier af.

[pdf-embedder url=”https://s3-eu-west-1.amazonaws.com/rak2.spens.co.za/maroelamedia/20181108-saou-hartzenberg-verslag.pdf”]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christo ·

Ek sal verkies as Solidariteit ‘n onderwysunie op die been bring. SAOU is niks anders as besigheid met ‘n onderwysuniebaadjie nie. Die SAOU doen niks om die omstandighede van wetteloosheid in skole op parlementêre vlak aan te spreek nie. Dis mos lekker rustig in die SAOU kantore in Pretoria!

Mauritz ·

Die verslag van die regter is nie op die webtuiste beskikbaar nie. Die berig is dus op die NUK se opsomming gedoen. Lees Rapport, hulle doen ‘n verantwoordelike berig na hulle die regter se verslag bestudeer het. Ek het verantwoordelike verslaggewing verwag en nie’ n blote herhaling van ‘n opsomming nie. Beskuldigings in julle verslag teen vraagstellers is uiters onvanpas. Het julle ooit met klaers geskakel en hulle kant gekry…. Jammer, julle berig is skokkend eensydig en nie verantwoordelik nie.

Susan Lombaard ·

Dagsê Mauritz, die berig is intussen aangepas. Groetnis, Susan Lombaard (nms. Maroela Media)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.