Formele ondersoek oor sterftes by St Albans-tronk

Een van die beseerdes word van St Albans-tronk na 'n hospitaal geneem (26 Desember 2016) Foto: ANA

Een van die beseerdes word van St Albans-tronk na ‘n hospitaal geneem (26 Desember 2016) Foto: ANA

Drie afsonderlike ondersoeke is van stapel gestuur nadat tronkbewaarders by St Albans-tronk in Port Elizabeth aangeval is waartydens drie gevangenes dood is en verskeie kritiek beseer is.

Thabang Makwetla, adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie gesê die geveg het Maandagoggend begin toe 33 gevangenes aan die einde van ontbyt tronkbewaarders in die eetsaal van die Maximum B-fasiliteit aangeval het. “Volgens ʼn voorlopige verslag het 33 gevangenes omstreeks 10:00 die beamptes, wat aan diens was, begin aanval. Die oortreders het skerp voorwerpe en selfgemaakte messe gehad en die beamptes gewelddadig aangeval,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê 13 beamptes is beseer, waarvan ses kritiek. Hulle is in die hospitaal opgeneem.

Drie gevangenes is dood. Een persoon is by die kliniek in die tronk dood en twee by ʼn nabygeleë hospitaal.

Makwetla het gesê ʼn formele interne departementele ondersoek is ook van stapel gestuur en die polisie is ook besig met hul eie, onafhanklike ondersoek.

Hy het ook bevestig dat die geregtelike inspektoraat van korrektiewe dienste van die voorval in kennis gestel is en hulle sal die saak ook hanteer.

“Die ministerie wil die beamptes, wat die rebelle-aksie weer onder beheer kon bring, loof vir hul optrede. Dit kon rampspoedige gevolge gehad het,” het Makwetla bygevoeg. “In dieselfde asem betuig ons ons meegevoel en simpatie met die families en naasbestaandes van die gevangenes wat gesterf het.”

Makwetla het gesê die departement is nog besig om die families van die oorledenes in kennis te stel en hul name sal eers bekend gemaak word sodra dit gedoen is.

Hy het verduidelik die Maksimum B-fasiliteit het 674 gevangenes in 23 selle, en die gevangenes in selle 1 tot 21 was reeds in die eetsaal en het reeds geëet en na hul selle teruggekeer voor die aanval plaasgevind het. Die persone wat by die aanval betrokke was, was in selle 22 en 23.

Daar bly onderskeidelik agt en 25 gevangenes in dié twee selle en dit word gereserveer vir die “moeilikste gevangenes”.

Hy het gesê die gevangenes het vroeër griewe bekend gemaak wat verband hou met voorregte wat weerhou word. Hy het gesê die klagtes is reeds hanteer, maar daar was nog steeds onderliggende spanning in die selle.

Zach Modise, nasionale kommissaris van die departement van korrektiewe dienste, het gesê een van die grootste probleme van St Albans is bendebedrywighede, met die syferbendes, die 26’s, 27’s en 28’s wat goed verteenwoordig is.

Hy het gesê daar is veral spesifiek dae van die jaar, soos 26 Desember, waar dit algemeen vir gevangenes is om die tronkbewaarders aan te val.

Modise het gesê daar is tans ʼn tekort aan personeel by die tronk en dit word vererger deur die openbare vakansiedae en langnaweek, wat beteken dat daar ʼn aantal personeellede is wat óf met vakansie is óf die langnaweek af het.

Hy het ook gesê die tronk is ontwerp vir 4 000 gevangenes, maar daar is tans 4 387 misdadigers wat gehuisves word. Verhoorafwagtendes is nie by dié getal ingesluit nie. Die tronk is dus oorvol.

Makwetla het gesê die tronk bly gesluit vir die Maksimum B-fasiliteit as ʼn voorsorgmaatreël om seker te maak alles keer weer terug na normaal.

Hy versoek ook persone wat die gevangenes besoek, om nie enige verbode middels soos dwelmmiddels, messe of selfone in te smokkel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

wilma ·

sorry as jy krimineel is gn “regte”vi jou. Jy da uit vrye wil

Ex Bewaarder ·

Daar is nie net n tekort van Korrektiewe Beamptes by die spesifieke Korrektiewe Sentrum nie, maar n duidelike 18000+ personeel tekort nasionaal vir meer as 7 jaar al. Dit is met hierdie massiewe personeel tekort wat oortreders en verhoorafwagtendes duidelik weet, hulle kan maak en breek soos hulle wil. Die ergste van alles is dat die reeds vakante poste van meer as 18000 reeds gefinansieerde poste is wat nie gevul word nie. Verder gee Korrektiewe Dienste nie gehoor aan die wette en regulasies wat beroepsveiligheid reguleer en kontroleer nie en sodoende is werknemers en oortreders se lewens daagliks in gevaar nasionaal.. Die vakbonde wat in die bedingingskamer erken word, is te besig met politieke agendas en / of te lamsakig om hulle lede te beskerm. Jan alle man dra nie kennis dat die gebeure daagliks in bykans al die Korrektiewe Sentrums plaasvind in die land weens die redes soos bo uiteengesit en ek voorsien nie dat dit beter gaan wees in die toekoms, tensy Korrektiewe Dienste bogenoemde kwesies daadwerklik gaan aanspreek.

Annie ·

Voeg 5 jaar by straf wat gesit moet word … geen afslag tyd

KP ·

Wanneer word daar n formele ondersoek geloods na die aanvalle op boere.

Veronica ·

Hoop daar is formele ondersoeke na die plaasmoorde ook of is gevangenes belangriker

What a joke! ·

Die klomp skollies is in tronk oor hul nie in n normale samelewing by die wette kan hou nie so watter regte moet hul he,ek se geen…die tronk het n Holliday Inn geword vir kriminele ag te lekker man!!! Hul geniet meer regte en luuksigheid as die wetsgehoorsame burger….wat n grap!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.