Formidabele regsbrein: Huldeblyke ná regter Yvonne Mokgoro sterf

Afgetrede regter Yvonne Mokgoro. Sy is vandeesweek in die ouderdom van 73 dood. (Foto: OCJ/X)

Talle huldeblyke is gebring aan afgetrede regter Yvonne Mokgoro nadat sy Donderdag in die ouderdom van 73 dood is. Die vermaarde regter is dood ná ʼn lang siekbed wat op ʼn motorongeluk gevolg het.

Mokgoro was met haar aftrede ʼn regter in die Konstitusionele Hof en onder meer die ontvanger van die Orde van die Kremetart.

Sy was in April verlede jaar in ʼn motorongeluk betrokke en was daarna baie lank in die hospitaal.

Pres. Cyril Ramaphosa het sy diepe medelye met haar man, prof. Job Mokgoro, haar familie en talle kennisse in plaaslike en internasionale regskringe betuig.

Mokgoro het van 1994, met die totstandkoming van die Konstitusionele Hof, tot met haar aftrede in 2009 as ʼn regter in die land se hoogste hof gewerk. Sy was veral ʼn kenner op die gebied van sosiologiese wetgeleerdheid en veral menseregte, gemenereg en met ʼn fokus op die uitwerking van wetgewing op die samelewing in die algemeen, maar spesifiek ook op vroue en kinders.

Sy het in 2015 die Orde van die Kremetart in brons vir haar uitstekende bydrae tot die regsgebied en lewering van geregtigheid in ʼn demokratiese Suid-Afrika ontvang.

“Regter Mokgoro se dood ontneem die nasie van ʼn formidabele intellek en onberispelike regsgeleerde wat ons demokrasie sedert sy ontstaan en in die jare daarna gedien het,” sê Ramaphosa.

“As ʼn swart vroueregter was sy ʼn baanbrekersverpersoonliking van en bydraer tot die transformasie van ons land en die regstelsel en nuwe wetgewing wat hierdie transformasie moontlik gemaak het.”

Die president sê ook Mokgoro se insiggewende en beginselvaste raad leef voort in die duisende regsloopbane wat sy help vorm het.

“Sy het ons onder uiters tragiese omstandighede verlaat en ons treur en bid saam met haar familie dat hierdie geliefde ma, patriot, leier en wêreldburger in vrede sal rus.”

Hoofregter Raymond Zondo het ook hulde gebring.

“Ons is diep bedroef deur die dood van regter Mokgoro. Ek neem die geleentheid namens myself, al my kollegas en die Konstitusionele Hof en die ganse regbank om ons diepe medelye aan die Mokgoro-gesin, ook haar kinders en uitgebreide familie, vriende en geliefdes te betuig. Regter Mokgoro het hierdie land met uitsonderlike en absolute toewyding gedien. Ons sal haar bydrae tot konstitusionele regsgeleerdheid nooit vergeet nie,” het die hoofregter gesê.

Zondo sê nie net het sy as ʼn regter in die Konstitusionele Hof haar stempel afgedruk nie, sy was ook ʼn regsprofessor wat talle regslui wat vandag nog praktiseer, help oplei het. Sy het selfs ná haar aftrede steeds ʼn bydrae op tuisbodem én internasionaal gemaak.

Adv. Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en konstitusionele ontwikkeling, het namens die party medelye betuig.

“Haar dood is ʼn noemenswaardige verlies vir Suid-Afrika. Haar nalatenskap is een van integriteit, wysheid en  ʼn ongelooflike bydrae tot die land se regslandskap,” sê Breytenbach.

Breytenbach sê as ʼn baanbrekerslid van die Konstitusionele Hof en die eerste swart vroueregter van die land se hoogste hof, het Mokgoro grense verskuif en nuwe paaie oopgetrap.

“Sy het die gees van gelykheid en geregtigheid vir almal verpersoonlikheid. Haar noemenswaardige prestasies en onverbiddelike toewyding tot die handhawing van die oppergesag van die reg, het ʼn onuitwisbare merk op ons samelewing gemaak,” sê Breytenbach.

“Ons treur oor die tragiese dood van regter Mokgoro en sluit by talle ander aan om haar te vereer vir haar merkwaardige lewe en nalatenskap. Mag haar familie berusting vind in die wete dat haar impak nog geslagte lank gevoel gaan word.

“Sy sal geweldig gemis word.”

Ook Songezo Zibi, leier van RISE Mzansi, het hulde aan Mokgoro gebring.

Zibi sê die regter het ʼn onmiskenbare rol gespeel in die ontwikkeling, administrasie en beskerming van Suid-Afrika se konstitusionele demokrasie binne die regsveld, akademia en burgerlike samelewing. “Hierdie bydrae kan nie en moet ook nie onderspeel word nie,” sê Zibi.

“Kom ons gebruik hierdie oomblik om nie net te treur oor die verlies aan ʼn lewe wat goed geleef is nie, maar ook om onsself opnuut te verbind tot ons demokrasie, Grondwet en sy voorskrifte …” sê Zibi.

“Namens RISE Mzansi wil ek my diepe medelye met regter Mokgoro se familie en geliefdes en die ganse regsberoep te kenne gee. Mag haar siel in vrede rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.