Formule 1: Is dit Hamilton of Verstappen?

Max Verstappen en Lewis Hamilton. Foto: Emilio Morenatti/AFP.

Wanneer Lewis Hamilton (Mercedes) en Max Verstappen (Red Bull) Sondagmiddag op die Yas Marina-baan in Abu Dhabi in die laaste ren van vanjaar se Formule Een-reeks aantree, sal een van die grootste tweestryde sedert 2008, toe Hamilton sy eerste wêreldkampioenskap verower het, beslis word.

In die een hoek is die 36-jarige Hamilton, ʼn meesterlike besadigde renjaer wat in ʼn baie betroubare en vinnige Mercedes jaag. Die Brit mik na ʼn rekordgetal agt wêreldkampioenskappe. Hy het reeds 106 F1-renne gewen, spog met 151 plekke op die podium en agt oorwinnings in vanjaar se reeks.

Maar hy word uitgedaag deur die veel jonger Verstappen, ʼn 24-jarige onverskrokke Nederlander wat met 19 F1-oorwinnings spog en nege renne vanjaar beklink het. Volgens Hamilton steur Verstappen hom nie juis aan die reëls nie en dis wat die belangstelling prikkel.

Albei het 369,5 punte en alles is dus op die spel.

Max Verstappen en Lewis Hamilton. Foto: Christophe Simon/AFP.

Hul tweestryd herinner aan vorige epiese tweestryde tussen Juan Manuel Fango en Stirling Moss, James Hunt en Niki Lauda, Nigel Mansell en Nelson Piquet, Ayrton Senna en Alain Prost en Jim Clark en Graham Hill.

Dit voer my terug, om presies te wees na Nuwejaarsdag, 1968.

Ek en my ouer broer het slegs ʼn paar dae tevore op Kersdag die eerste keer ʼn gedeelde Kersgeskenk gekry: ʼn Scalextric-stel met Clark se rooi Lotus en Hills se donkergroen BRM as renmotors. Vir dae lank het ons byna niks geslaap nie, net gejaag en gejaag en teen mekaar meegeding. My broer het die meeste van die renne gewen, want hy was ouer, wyser en vaardiger, net soos Hamilton.

Al hoe ek hom kon klop, was om in hom vas te jaag wanneer hy voor was.

Ons het Oujaar by ʼn plaasboerneef gaan kuier en oorgeslaap, saam met die res van die familie tot Tweede Nuwejaarsdag.

Ek onthou nog die reuk van beesmis en vars plaasmelk wat ons stadsjapies nie wou drink nie.

Groot was ons vreugde toe die mans besluit het om Nuwejaarsdag die SA Grand Prix op Kyalami by te woon. Agterop een van neef Freek se plaaslorries (met ʼn tydelike plank-stellasie daarop gebou) het ons in die Sunset-draai parkeer en kon van die stellasie af byna driekwart van die baan gade slaan.

Ons helde was almal daar: Clark en Hill, John Surtees, Jack Brabham, Jackie Stewart, Jackie Ickx, Jochen Rindt en drie Suid-Afrikaners, Jackie Pretorius, Basil van Rooyen en Dave Charlton, asook die destydse Rhodesiër John Love.

Clark was eerste, met Hill op sy hakke.

Maar dit was ook Clark se laaste Formule 1-ren, want hy het slegs ʼn paar weke hierna in ʼn Formule 2-ren op Hockenheimring verongeluk. Mag dit nie Sondag gebeur nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jr ·

Hulle :WIE SUPPORT JY IN F1?
EK : ENIGE IEMAND WAT HAMILTON WEN OF BINNE IN HOM VAS RY

Chris dupreez ·

Ek hoop regtig Verstappen, maar ek sal nie geld daarop sit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.