Formule E-motors kan in Kaapstad jaag

(Foto: Stad Kaapstad)

Kaapstad is as een van die gasheerstede vir die internasionale Formule E-toernooi in Februarie 2022 aangewys.

Volgens Dan Plato, burgemeester, hou die geleentheid moontlikhede van beleggings en werkskepping in, terwyl dit ook – indien die wêreldwye Covid-19-pandemie nie ’n stokkie daarvoor steek nie – ’n hupstoot vir plaaslike toerisme kan wees.

“Ons glo dat dit plaaslike ondernemings kan help, terwyl dit ook ’n groot trekpleister vir ons inwoners kan wees,” het Plato gesê.

Kaapstad het al vantevore met groot welslae motorsportbyeenkomste aangebied en die komende Formule E-skouspel kan net sy naam as gasheerstad verstewig.

“Ons sien daarna uit om alles agtermekaar te kry om aan die nodige vereistes te voldoen ten einde só ’n opwindende geleentheid aan te bied. Die stad beskik oor die nodige infrastruktuur en vaardighede vir ’n geleentheid van hierdie grootte.”

Kaapstad was juis in 2019 gasheer vir die suksesvolle Red Bull Cape Town Circuit en die samesprekings om ’n Formule E-wedren aan te bied het ’n rukkie daarna begin.

Slegs elektries aangedrewe motors word by Formule E-wedrenne toegelaat en dit word jaarliks gewilder.

In die drie jaar waartydens dit in Hongkong aangebied is, het dit na raming vir ’n ekonomiese inspuiting van R1,4 miljard gesorg.

Die Stad Kaapstad het in beginsel besluit om die skouspel met R2 miljoen te ondersteun, onderhewig daaraan dat toekomstige wedrenne ook in die stad aangebied word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elinette ·

Amper sluk ek my beker tee heel in – ek lees verkeerd en sien “Formule Een kan in Kaapstad ….” Ag, dêm, dit is Formule E ….”

VaalDonkie ·

Ek weet nie watter werk hulle gaan “skep” nie, maar sal nogal daarvan hou om te gaan kyk.

piet ·

Ek neem aan dit sal ‘n straatren wees. Dit sal die motors soos ‘n handskoen pas, die versnelling is so goed soos F1 net die hoogste spoed effe stadiger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.