Formulemelk in SA herroep oor bakterie in produkte

Sekere 400g-blikke van Similac Alimentum word herroep.

Verbruikers is gevra om die 400 g-blikke Similac Alimentum vir ʼn terugbetaling na kleinhandelaars terug te neem omdat die babamelkformule as ʼn voorsorgmaatreël herroep word.

Thezi Mabuza, waarnemende kommissaris van die nasionale verbruikerskommissie, sê die vervaardiger, Abbott Laboratories-Nutrition, het die kommissie ingelig dat die produkte wêreldwyd vrywillig herroep word.

Die formulemelk word by die maatskappy se aanleg in Sturgis, in Michigan in die VSA, vervaardig en na verskeie lande, ook Suid-Afrika, uitgevoer.

Daar is besluit om die produk te herroep nadat sommige verbruikers aangemeld het dat hul babas sekere simptome toon nadat hulle van die formulemelk gedrink het.

“Interne toetse deur die verskaffer het die teenwoordigheid van cronobacter- en salmonella-organismes in die produk aangedui,” sê Mabuza.

Cronobacter sakazakii is ʼn kiem wat natuurlik in die omgewing voorkom. Volgens die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer (CDC) kan die kieme op droë kos soos babamelkformule, poeiermelk, kruietee en stysels leef. Dit kan diarree en urienweginfeksies in mense van alle ouderdomme veroorsaak, maar infeksies in babas kan baie ernstig wees.

Hoewel cronobacter-infeksies skaars is, kan dit dodelik in pasgebore babas wees, sê die CDC.

Die CDC het mense ook gewaarsku om nie die produk wat herroep word, vir babas te gee nie.

Volgens die vervaardiger is slegs vier gevalle in die VSA aangemeld, maar Mabuza sê die teenwoordigheid van cronobacter en salmonella in ʼn babamelkformule is nietemin rede tot kommer.

“Die kommissie wil benadruk dat daar nog geen gevalle in Suid-Afrika aangemeld is nie. Ons doen ʼn beroep op verbruikers wat die produk gekoop het om dit nie vir hul babas te gee nie, maar dit dadelik na die aankopewinkel vir ʼn volle terugbetaling terug te neem,” sê Mabuza.

Die geraakte produkte het ʼn vervaardigingsdatum van ná Maart 2021 en ʼn nommer onder die houer wat begin met die syfers 22 tot 37, wat ook die letters K8, SH of Z2 bevat.

Die kommissie het ouers wat vermoed hul babas het van die geraakte formulemelk gedrink, aangemoedig om mediese raad en hulp in te win.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anel ·

Nou wil ek bietjie weet, hier word 4 babas siek van ‘n formule melk en dit word wêreldwyd ontrek. Verstaan my mooi, ek kritiseer nie en moedig dit beslis aan. 1 onskuldige baba wat siek word van sy kos is 1 te veel. Maar nou, mense word wêreldwyd geforseer om gespuit te word met ‘n middel wat al mense se dood en ander siektes veroorsaak het, maar nog steeds word dit afgedwing! So hoe verstaan mens hierdie logika?

Marius ·

Daar is geen logika nie en die vermoeë om te redeneer is slegs ‘n mite. Dit gaan nie oor die virus nie.

Perdeby ·

Hou maar by die melk berig, want Covid het niks hiermee te doen nie.

Martin ·

Stem nie 100% saam met wat op die verpakking van daardie blik staan nie “Breast milk is the best food for babies”…?! Wie is nou so dom om so stelling te maak… Hierdie tipe produkte is alternatiewe voeding vir moeders wat byvoorbeeld nie voldoende melk beskikbaar het vir voeding nie. In alle geval, kry julle produk dan van die rak af indien daar iets fout is en vergoed die verbruikers wat julle “wonderlike” produk gebruik… Die Amerikaanse vervaardiger, Abbott Nutrition het ‘n aantal van sy Similac-handelsmerkprodukte herroep weens moontlike besmetting deur Cronobacter sakazakii en Salmonella-bakterieë…

VaalDonkie ·

Martin, hulle word geforseer om daai boodskappie op die blik te sit. My kind het die spesiale een vir preemies (my kind was op 28 weke gebore maar wou op 24 al uitkom) nodig gehad en ons het gesukkel om dit te kry. Ek het toe besluit ek wil ‘n besigheid begin wat spesifiek vir preemies blikmelk en ander goedjies verkoop. Dis toe dat ek van al hierdie snaakse reels en wette leer. Bv. het jy geweet jy mag GLAD NIE blikmelk adverteer nie? Jip. En jy MOET daai boodskappie op die blik sit.

En Similac is die beste onder die klomp behalwe as jy jou hande op daai goed kan kry wat hulle in die hospitaal in die kinders se melk gooi.

Janine ·

Miskruier, het jy kinders gehad? Geborsvoed? Ek kon nie borsvoed nie, want daar was niks. En ek het werklik probeer. Moet ook nie vrouens met diere vergelyk nie. Tsk.

Owlie ·

Bestaan daar nie meer iets soos behoorlike quality controll nie? Hoe is dit moontlik dat bakterie in enige voedings/kos produk kan wees en deurglip?
Wie gaan enige van die babas wat siek geword het of hul ouers se traumatise ondervindings betaal?
Hier is n hele paar koppe wat behoort te rol

Miskruier ·

Na twee jaar pandemie sou ek reken moeders sal als in hul vermoë doen om hul babas gesond te hou met borsvoeding.

vickysevroutjie ·

Nie almal het daardie voorreg om dit te doen nie, al wil jy bittergraag!
dont judge!

Gerhard ·

Miskruier, deel asb jou kennis met hoe die pandemie die moederskap van pap babas verbeter het?

mymasekind ·

Ek stel voor jy hou jou kommentaar vir jouself. Baie mammas kan nie borsvoed nie, weens watter rede ookal. Ek is een van hulle.. het alles probeer, pilletjies, natuurlike produkte, boererate, ouvrou stories.. niks het gehelp nie. Ek het eenvoudig nie melk gehad nie. So wil jy vir my sê ek is ‘n slegte ma weens dit? Jy kan maar gerus vlieg … jy weet waarheen

vickysevroutjie ·

ek like die comment van jou sommer 100 keer as ek kon!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.