Fort Klapperkop: Nog ʼn aanval, deurbraak gemaak

Hi-Risk Unit op die toneel. Foto: Hi-Risk Unit

Hi-Risk Unit op die toneel. Foto: Hi-Risk Unit

Daar is moontlik ʼn deurbraak gemaak in die stryd teen ʼn vlaag aanvalle die afgelope tyd by Fort Klapperkop in Pretoria.

Dit volg nadat drie verdagtes Saterdag in hegtenis geneem is, kort nadat ʼn fietsryer die oggend daar aangeval en beroof is.

Arthur Crewe, hoof van Hi-Risk Unit-veiligheidsdienste, het Maandag aan Maroela Media gesê die fietsryer, in sy 40’s, het omstreek 07:00 by uitkykpunt 1 fietsgery toe hy deur twee mans aangeval is.

“Een van ons reaksievoertuie het ʼn roetinestop by dié uitkykpunt gedoen en ʼn rumoer in die veld gehoor. Die veiligheidsbeampte het gaan ondersoek instel,” het Crewe gesê. “Die fietsryer het terselfdertyd die reaksievoertuig gesien, sy aanvallers gegryp en probeer om hulle daarheen te sleep.”

Die verdagtes het probeer om die fietsryer met klippe te slaan en kon daarin slaag om los te kom. Hulle het op vlug geslaan met die slagoffer se selfoon en sportfiets. “Ons beampte het seker gemaak die fietsryer is veilig, waarna hy die verdagtes agternagesit het.”

Meer reaksievoertuie en Hi-Risk se honde-eenheid is na die reservaat ontbied en die twee verdagtes is kort daarna aangekeer. Die slagoffer se selfoon is in hul besit gevind.

“Een van die verdagtes het ons na nog ʼn verdagte in die Salvokop-omgewing gelei wat glo deel is van ʼn sindikaat wat verantwoordelik is vir die aanvalle in die gebied. Die drie verdagtes, in hul 30’s, het vir ons goeie inligting gegee wat tot meer inhegtenisnemings gaan lei.”

Die verdagtes is deur die Pretoria-Sentraal-polisie in hegtenis geneem.

Crewe het gesê die slagoffer se fiets is later in die reservaat gevind. Die fietsryer het geringe beserings opgedoen.

Maroela Media het vroeër berig ʼn vrou is op 28 Mei wreed deur vier mans aangeval toe sy by Fort Klapperkop fietsgery het. Hulle het haar in die bosse ingetrek en haar herhaaldelik met ʼn klip geslaan en probeer om haar te wurg. Die vrou kon daarin slaag om haar valhelm aan te hou en dit het moontlik haar lewe gered. Sy kon wegkom en het in die rigting van die R21 gevlug waar ʼn motoris haar opgelaai en na veiligheid gebring het.

Twee weke tevore is nog ʼn fietsryer daar aangeval en van sy fiets beroof. Talle gewelddadige aanvalle het die afgelope paar maande by Fort Klapperkop plaasgevind sowel as in die nabygeleë Groenkloof-natuurreservaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johann ·

En als te danke aan n PRIVAAT sekuriteits maatskappy! Nie n gedagte van die polisie om die en ander voorvalle op te volg nie? Dankie High Risk

Wat-ek-lees ·

Johann, “polisie”? Wat se goed is dit? Seker tuis by die huis of lê en slaap by die stasie soos op Middelburg gebeur het.
Hoop nou maar dat hulle nie gaan ontsnap . . .

Wonder ook ·

Ja, dit was my eerste reaksie ook…ons weet mos dis ‘n risiko area, hoekom wag ons vir ‘n privaatmaatskappy om uiteindelik die stappe te neem. Dis hoe dit is deesdae. Ek het meer vertroue in die maatskappye as in ons polisie. Die ouens sal help in nood of jy nou ‘n kliënt is of nie.

alida ·

En die mense leer nooit nie. Vermy die reservate en parke asb. Julle soek moeilikheid om dit te besoek. Ons in SA is beperk tot ons tronkhuise waar jy ook nie veilig is nie !!!

Stem nie saam nie ·

Nee Alida ek stem nie saam nie, ons moet juis vir die aanvallers wys dit is ons plekke en hul sal uitgesorteer word. Gaan in groepe en vat goed saam wat kan alert, seermaak en weet hoe dit werk. Dit is nonsens, dat hul wegkom met hul gedrag, Baie dankie aan High Risk, daar is baie eerlike mense in die land wat deel van hierdie misdaad bekamping sal word en gebruik sosiale media, stig groepe en as jy gevaar sien, maak alarm, die hulp sal kom. Iewers gaan ons voorkom as mens hul net daadwerklik begin vasvat en sê tot hiertoe en nie verder nie. Ek bedoel nou nie jy moet met ‘n pepper sproei of messie in ‘n pistool of geweer se loop probeer stry nie, maar hou jou sosiale medium gereed en sê vir iemand ek gaan nou ry, probeer in groepe ry en meld aan as jy anderkant kom, ons werk tye uit en as jy dit nie doen nie, bel ons en dan reageer ons. Staan op teen misdaad.

Frans C ·

Die rede vir die hoë mismaad is omdat die staat nie sy verpligting nakom om ‘n veilige omgewing te skep waarin sy burgers hul aktiwiteite kan beoefen nie, want van die bewaarders maak hulself skuldig aan misdadige praktyke.

Koos ·

Ek stem ook nie saam nie daai storie van draai die ander wang werk duidelik nie wees slimmer as hulle en baklei terug hulle moet bang wees om ‘n persoon aan te val

Sanette ·

Ek stem saam, Alida. Bly weg van plekke wat jy weet gevaarlik is – soos Fort Klapperkop. Ek gaan verseker nie die risiko vat om aangeval of dalk nog geskiet of dood gemaak te word net om die kriminele ‘n punt te bewys nie.

Inge ·

Stem nie saam nie, ek dink nie jy is reg nie. Is dit regtig jou lewe werd om die misdadigers te “wys” dat jy nie bang is nie? Nee! Bly weg van hierdie plekke af. Gaan ry fiets by jou gym.

Eliza-beth ·

Stem nie saam nie – ek is met jou. Ek as belastingbetaler help om pelkke soos hierdie te onderhou, ek help ook om die polisiemag daar te stel, dis ‘n vry land en as ek en mede-landgenote sulke plekke wil gebruik is dit my REG! Ons laat ons inhok deur kriminele, ons moet saamstaan en sorg dus dat jy voorsorg neem – soos bv Stem nie saam nie voorstel. Dis tyd dat daar paar keer lokvalle ook vir die gespuis gestel word, BAIE maklik – en hul dan aankeer. Hulle moet begin leer ons gaan nie meer hul intimidasie en gedrag net aanvaar nie.

Stoney ·

Ek verskil van vorige kommentaar. Hiekom moet ek myself isoleer? Ek is ‘n wettige burger van hierdie land, betaal my belasting en hou by die wet soos voorgeskryf. Vang die skelms, sluit hulle toe en hou hulle daar. As die wette toegepas word sal dit beter gaan in die samelewing. Punt !

Griki ·

Nee, Stoney, ek dink ook nie dis goed om jouself te isoleer nie. Maar ons moet paraat en baie versigtig wees en in ‘n situasie soos hierbo, verkieslik gewapen met (ten minste) pepersproei. Dis ook nie vir my reg dat ons moet wegkruip in ons huise en die kriminele vry daarbuite rondloop nie. Ons moet ons land van hulle af terugneem.

Absoluut ·

Absoluut Griki, ‘n paar sekuriteits reëls en vat ons wêreld terug,d it is nonsens, hul is beslis in die minderheid (gewelddadiges) en hoe meer ons terugstaan, hoe verder sal hul gaan!

Phillip ·

Ek stem met “Stem nie saam nie”. As ons aanhou toegee en ander roetes begin ry, sal daardie roetes mettertyd geteiken word en waar eindig ons dan op? Maroela Media, sover as wat my kennis strek, was die fiets nie gevind nie…

humor ·

Wil van die sikiriteitsbeamptes nie van tyd tot tyd vermom as paartjies of as dames en die ding behoorlik doen nie. Stem saam ons staan nie terug vir dit wat krimineel is nie en ons geniet ons regte, maar in hiedie omstandigheid met verantwoordelikheid en teenoffensief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.