Foschini kry groen lig om Jet te koop

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Facebook/Vincent Park)

Die Mededingingskommissie het besluit die Foschini-groep mag Jet by Edcon koop.

Die kommissie het Donderdag gesê hy het reeds aanbeveel dat die Mededingingstribunaal die voorgestelde onderhandeling goedkeur.

Foschini het verlede maand gesê hy het ʼn ooreenkoms gesluit om Jet se bates by die administrateurs van Edcon te koop. Edcon sukkel die afgelope paar jaar om kop bo water te hou en het vroeër vanjaar om sakeredding aansoek gedoen.

Foschini het in Julie aangekondig dat hy 371 winkels en ʼn paar van Jet se bates vir R480 miljoen gaan koop.

Die Mededingingskommissie het bevind dat die voorgestelde onderhandeling waarskynlik nie tot ʼn wesenlike voorkoming of vermindering van mededinging in enige relevante markte sal lei nie.

Daar is wel sekere voorwaardes verbonde aan die samesmelting. Die partye moet minstens 381 Jet-winkels behou en minstens 4 664 Jet-werknemers behou.

Edcon-werknemers sal ook vir die volgende drie jaar voorkeur geniet indien Jet enige vakatures het.

Die samesmeltende partye is ook daartoe verbind om die aantal Jet-winkels wat ná die samesmelting behou sal word, uit te brei.

Die Mededingingskommissie is een van drie onafhanklike owerhede wat ingestel is om billike handel in Suid-Afrika te verseker. Die kommissie is die ondersoek- en handhawingsowerheid, terwyl die Mededingingstribunaal uitspraak lewer oor aangeleenthede waarna die Mededingingskommissie hom verwys. Die Mededingingsappèlhof hanteer appèlle of hersienings teen tribunaalbesluite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VannieBaai ·

So nou gaan ons Foshini pryse betaal vir Jet produkte……..

Anoniem ·

Netsô …. maar die kwaliteit van die goedere bly nog zero….

Lorette ·

Foschini koop volgens berig 371 Jet winkels, maar moet 381 behou, hoe nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.