Foto van ‘roof en ontvoering’ in Pta op Facebook geplaas

JONGSTE: Die eienaar van die bakkie is intussen opgespoor. Lees gerus die opvolgberig.

Die foto van die bakkie wat Keegan Holms op Facebook geplaas het.

Die foto van die bakkie wat Keegan Holms op Facebook geplaas het.

Daar word tans wyd gesoek na ʼn man wat Donderdagaand vermoedelik deur rowers by ʼn kitsbank in Pretoria gedwing is om geld te trek, voordat hulle hom in ʼn bakkie geboender en met hom weggejaag het.

Keegan Holms, ʼn inwoner van Pretoria, het ʼn foto van die voorval op Facebook geplaas en dit het sedertdien wyd opslae gemaak.

Holms het Vrydag aan Maroela Media vertel dat hy omstreeks 21:15 by ʼn kitsbank in Silverton gestop het om geld te deponeer. By die kitsbank het ʼn man gestaan en geld trek. “Hy het net ʼn broek aangehad, geen skoene of ʼn hemp nie, en was bedek met bloed,” het hy gesê.

“Agter hom het twee mans gestaan en in ʼn dreigende stemtoon vir hom gesê om nog geld te trek.” Holms het vermoed dat daar moontlik ʼn rooftog aan die gang was en het uitgestap om ʼn foto te neem van die nommerplaat van ʼn bakkie wat voor die bank gestaan het.

Toe hy terugkom, het die man pas klaar die geld getrek. Die twee mans agter hom het die geld en bankkaart by hom gevat en hom aangesê om uit te stap na die parkeerterrein toe.

Volgens Holms was daar wel ʼn veiligheidswag by die kitsbank, maar hy het eenkant gestaan en niks gedoen om in te gryp nie. “Toe die man by my verbystap, het ek hom gevra of hy oukei is, maar hy het net bly afkyk en verbygestap,” het hy gesê.

Die twee mans het die ander man in die Bantam-bakkie voor die bank geboender en weggejaag. “Ek het hulle agternagesit terwyl ek probeer het om die polisie in die hande te kry, maar het hulle ná so 20 minute verloor,” het Holms gesê. Hy het die polisie en die Silverton-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) genader, wat dadelik begin het om die bakkie te soek.

Kobus Koekemoer, ʼn woordvoerder van die Silverton GPF, het Vrydag gesê dat hulle lede ure lank na die bakkie gesoek het, maar dit nie kon opspoor nie. “Ons het later een van die bakkie se pap bande langs die pad gekry waar die insittendes skynbaar gestop het om die band te ruil, maar verder kon ons nog nie die voertuig opspoor nie,” het hy gesê.

Hy het gesê hulle het wel die adres wat by die bakkie se nommerplaat geregistreer is opgespoor en dit aan die polisie oorhandig.

Sers. Sam Shibambo, woordvoerder van die Silverton-polisiestasie, het aan Maroela Media gesê hy kon nog geen bewys kry dat die saak by die stasie aangegee is nie. Maroela Media wag vir verdere kommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael ·

Dit sal nogal help om beter beskrywing te gee ,Suid Afrika is’n diverse land met baie verskillende mense was die mans swart,wit ,Indiërs Chinese of miskien Pakistani ers dit sal dit net makliker maak om uit te kyk vir hulle

Patrys ·

Waarom wonder jy? As hulle niks noem nie is dit ‘n wit mens…….

Tascha ·

Skrikwekkend as ek daaraan dink dat ons vir meer as 2 jaar in Silverton gewoon het en my man gereeld by die bank wat ek vermoed die man na verwys gaan geld deponeer het. Wys mens net dat die sekuriteits wagte by die banke eintlik geen doel dien nie! Ek hoop hulle vind die man veilig terug. Natuurlik tipies van die SAPD om geen saak te vind nie, natuurlik is daar niks aangemeld nie want hulle het dan nie die foon ge-antwoord nie! Baie sterkte vir die man se gesin dit moet erg traumaties wees.

Bernice ·

Keegan Holms het vanoggend na die adres toe gegaan wat gese was is die eienaar van die bakkie se adres. Volgens Keegan Holms is die man veilig by sy huis en herstel. Ek wens ons mensdom kon meer so bymekaar staan en na mekaar omsien. Well done Keegan Holms and everyone involved

Rieks ·

As die persoon wat die foto geneem het dit gedoen het en probeer om nie opgemerk te word nie sal daar nie meer beskrywings wees nie… Almal doen in kritieke oomblikke wat hulle dink die beste is vir die situasie – hoop regtig hulle spoor die persoon op en dat die nie lelike nagevolge gaan laat nie. Almal moet meer bedag wees op hulle omgewing en mense wat rondom hulle is. Dit is gewoonlik die makste hondjie wat die seerste byt. (Moenie net mense vertrou nie!). Ongelukkig leef ons in ‘n land waar die wat werklik hulp nodig het dit nie kry nie deur andere se optrede.

Elsja Wolmarans ·

Werkskepping! Maak nie saak HOE die werk gedoen word nie. Sien die wagte by die banke hier by ons bou snotossies die HELE dag!

P J ·

Sekuriteitswagte is deesdae net daar vir n salaris en vir hulle agendskappe om hulle kontraktuele verpligtinge na te kom. Hoeveel gevalle is daar nie deesdae waar hulle nie net staan en toekyk nie. Vergeet van enige hulp van sekuriteitswagte

Natasha smuts ·

Die wagte is pateties.. My oom is so paar jaar terug in sy video winkel vermoor, omdat die pateet nie sy ID wou gee vir n dvd nie.. Die wag daai aand het ook niks gedoen nie..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.