Fotograaf ontferm haar oor ‘mishandelde’ donkies

Marlene Neumann by Sebastian. Foto: Marlene Neumann/Facebook

Marlene Neumann by Sebastian. Foto: Marlene Neumann/Facebook

Die soeke na ʼn foto van die perfekte aalwyn het die Oos-Londense fotograaf, Marlene Neumann, bewus gemaak van die lot van donkies in die Oos-Kaap.

Neumann het geboë in die stof in ʼn dorpie buite Grahamstad opgekyk toe ʼn donkiekar verbygery het. Die vier ingespande donkies het vir haar moeg gelyk en daar was draadtome in hul bekke. ʼn Bekommerde Neumann het twee pynappels by die drywer gekoop op voorwaarde dat die tome verwyder word. Volgens Neumann kon sy die aand nie slaap nie.

Neumann het die Nasionale Dierebeskermingsvereniging gevra om haar te help om die spesifieke donkies op te spoor. “Ek kon daarin slaag om die vrou wat saam op die donkiekar was op te spoor, maar nie die eienaar van die donkies nie. Iemand het vir my ʼn nommer gegee vir Jenny Copley, wat ʼn donkie-uitreikprogram in Grahamstad bestuur. Ek het gehoop sy sal iets kan doen.”

Copley is werksaam in agt dorpies in die Amathole- en Makana-streek waar sy mense oplei oor hoe om donkies veilig en gesond te hou. Haar organisasie, Farm Animal Centre and Education (Face), is bekommerd oor die fisieke mishandeling en beserings wat donkies opdoen as hulle verkeerd ingespan word.

“Jenny besoek die dorpies en leer mense om behoorlik vir hul diere te sorg. Sy het ook ʼn meer ‘menslike’ inspanstelsel bekend gestel waarvolgens plastiektome gebruik word wat nie die donkies seermaak nie,” het Neumann gesê.

Neumann het besluit om betrokke te raak en het Copley se veilige hawe vir diere in Manley Flats besoek waar sy aan talle gerehabiliteerde donkies voorgestel is. Dis hier waar sy Sebastian gevind het, ʼn donkie wat so erg mishandel is dat hy bang vir mense was.

“Deur Jenny se program is hy gerehabiliteer en vertrou nou weer mense. Ek het nie geweet dat donkies ook na liefde smag nie. Toe ek dit besef, het ek geweet ek moet iets doen om haar te help geld insamel sodat sy meer van die diere kan help.”

Neumann het verskeie opsies begin oorweeg om geld in te samel en daar is in samewerking met die eiendomsmagnaat, Pam Golding, op ʼn geldinsamelingsinisiatief besluit. – Daily Dispatch

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lea ·

Baie dankie vir julle inisiatief. Ek wil ‘n beroep doen op mense om by te dra vir hierdie saak. Daar is ‘n soortgelyke plek in McGregor in die Kaap, Eseltjiesrus, waar mens ‘n donkie kan aanneem en ‘n maandelikse bedrag bydra om te help om die donkies te versorg. Asb help, hulle het ons hulp nodig!

Marietjie ·

Asseblief raak betrokke by ‘n donkie projek. Soos Lea sê doen Eseltjiesrus wonderlike werk. Donkies het diep in my hart ingekruip en hulle word oorwerk, mishandel en dan gelos om dood te gaan wanneer hulle te oud raak om te werk. Komaan mense raak betrokke. Vir ‘n klein bedraggie van so min as R50 kan julle ‘n groot verskil maak.

Winston ·

Wie het gesê n volk se opvoedingspeil word bepaal deur die wyse waarop hulle hul diere hanteer? Ghandi?

Marina ·

Dit is rerig skokkend en hardroerend hoe donkies in die plattelandse dorpe mishandel word!!!! Blykbaar kan die DBV nie in-/optree nie, want die “drywers” en “passasiers” merk die karre/mense wat hulle aanspreek oor mishandeling!!!! :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.