Fotograaf se familie boos vir Gift of the Givers

Dr Imtiaz Sooliman

Die familie van die vermiste Suid-Afrikaanse fotojoernalis is ontsteld oor die wyse waarop die rampverligtingsorganisasie Gift of the Givers (GOTG) sy verdwyning tot dusver hanteer het.

Shireen Mohamed, die ma van die fotojoernalis Shiraaz Mohamed, het Donderdag in ʼn verklaring uitgevaar teen GOTG en veral die stigter, dr. Imtiaz Sooliman, omdat hulle kwansuis haar seun se lewe in gevaar stel.

Shiraaz is na bewering op 10 Januarie 2017 in Darkoesj in Sirië ontvoer. Hy is aanvanklik daarheen om die lyding van die Siriese inwoners op kamera vas te vang. Gift of the Givers het Sondag in ʼn verklaring gesê Shiraaz het uit aanhouding ontsnap.

“Die besonderhede van sy ontsnapping is nog vaag, maar hy is deur mense gehelp wat hom goedgesind is. Hierdie mense het geweet van sy saak, danksy die bewuswording wat GOTG wêreldwyd hieroor geskep het,” lui die verklaring.

Volgens GOTG het Shiraaz Saterdag al oor die Turkse grens beweeg en is aan Turkse intelligensielede oorhandig.

‘n Skermgreep uit ‘n video van Shiraaz in aanhouding. (Video verskaf via ANA)

Dit is op dié verklaring wat Shireen Donderdag reageer het deur te sê die organisasie stel haar seun se lewe in gevaar.

“Hoewel ons Saterdag al ingelig is van Shiraaz se ontsnapping, was ons geskok toe ons Sondag nuusberigte daaroor lees, gegrond op GOTG se mediaverklaring. Ons het spesifiek gevra dat hierdie inligting nie bekend gemaak word nie, totdat ons amptelike bevestiging hieroor vanaf die owerhede ontvang het,” sê Shireen. “Ons het aan dr. Sooliman verduidelik dat die inligting voortydig is en dat dit Shiraaz se lewe in gevaar kan stel indien dit wyd versprei word. Hy (Sooliman) het egter voortgegaan om die inligting aan die media uit te basuin, ongeverifieerde inligting te deel en vals hoop te skep oor sy (Shiraaz se) terugkeer.”

Sy sê dít maak dit moeiliker vir haar seun om na sy familie terug te keer. Sy sê ook dat dr. Sooliman nóg haar toestemming nóg haar seun s’n het om te praat oor pogings om hom terug te bring huis toe, aangesien GOTG nie betrokke is by die proses nie.

“Ek wil my seun terughê by die huis. Ek wil hom nie in ʼn kis terugkry weens roekelose uitsprake nie,” sê Shireen.

Sooliman ontken egter dat die uitsprake vroegtydig is en Shiraaz se lewe in gevaar sou stel. “Ons het eers ʼn verklaring uitgereik toe hy veilig in Turkye was. Ons het ook nooit beloftes aan die familie gemaak dat GOTG sou help om hom terug te kry nie.”

Luidens GOTG se verklaring het die organisasie hom reeds in Junie vanjaar aan die onderhandelings onttrek, maar steeds die boodskap van Shiraaz se ontsnapping aan die familie deurgegee nadat sy bevryders GOTG direk genader het.

Sooliman sê Shiraaz het op sy eie na Turkye gegaan en nié saam met GOTG, soos vroeër berig is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Liza ·

Stem saam met sy moeder. Dit kan steeds sy lewe in gevaar stel. As hulle nie betrokke is nie, hoekom dit uitbasuin?

Spogsog ·

Ai my ou tannie – GOTG was die enigste ouens wta jy gehelp het sonder enige kostes, nou dat jou seun vry is nou wil jy gal braak oor GOTG……

Nettie ·

@Spogsog … klink my ook alteveel na “byt die hand wat jou voed” hierdie.

Sandra Nieuwoudt ·

Spogsog/Nettie lees die berig GOTG het hul self al laas jaar in Junie ontrek so hoekom nou Kom koning kraai as hul al Meer as n jaar gelede van die geval weg gestap het geen helpende hand word hier gebyt nie ek dink eerder GOTG soek aandag na hul niks gedoen het nie Sooliman se ook dat hy op sy eie na Turkey onstnap het sonder hul hulp. Lees asb die berig.

Vernon ·

In my opinie is GOTG net n manier om geld te syfer na ISIS …maar dis net my opinie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.