Fotograwe tydens Springboktoets besteel

Die vryskutfotograaf Christiaan Kotze (Foto: Facebook)

Die Springbokke se nederlaag was nie die enigste demper op Saterdag se vreugdevuur by Emirates Airline-park (Ellispark) in Johannesburg nie.

’n Kamera en lens ter waarde van derduisende rande het tydens die tweede epiese toets tussen die Springbokke en die All Blacks in Ellispark se medialokaal voete gekry terwyl een fotograaf buite die stadion van sy selfoon beroof is.

Dié voorvalle het plaasgevind ten spyte van “ongelooflike sekuriteit” buite die mediasentrum.

Die vryskutfotograaf Christiaan Kotze wat Saterdag sy 150ste Springboktoets gedokumenteer het, sê hy blameer nie die stadion nie. Dit is wel vir hom ’n groot slag.

“Ek het dadelik gedink aan die volgende werksgeleentheid wat ek môre, oormôre nie gaan kan doen nie omdat ek nie meer my kamera het nie. My brood en botter is van my ontneem binne in ’n veilige omgewing.”

Kotze onthou hy het ná die toets vinnig by die medialokaal gedraai voordat hy elders in die stadion heen is om foto’s van die mediakonferensie te neem.

“Toe ek terugkom by die lokaal sien ek die ander fotograwe brom en raas,” vertel hy Maandag aan Maroela Media.

Hy is meegedeel dat een van die fotograwe se lens van sowat R120 000 gesteel is. Kotze het dadelik in sy eie kamerasak geloer en besef dat sy Nikon Z6 met ʼn beraamde waarde van R48 000 weg is.

“Jy word koud. Jou moed sak in jou skoene en jou gemoedstoestand word sommer net swart.”

Hy het dadelik geweet dat hy beroof is. “Dit is nie asof ek my goed misplaas nie. Ek werk nie so nie.  Ek het een van die laaste foto’s op die veld met dié kamera geneem en die foto nog [voor die mediakonferensie] in die medialokaal afgelaai. Ek het dit nie misplaas nie.”

Die span fotograwe wat Saterdag se aksie op Ellispark op kamera vasgelê het. (Foto: Verskaf)

Daar word bespiegel dat ’n onbekende vrou wat met ’n gesigmasker en breë slaprandhoed na bewering in die hoek van die medialokaal gesit en later verdwyn het, moontlik verantwoordelik is vir die vermiste kamera en lens. Die polisie kon egter teen Maandagmiddag nog geen inligting rakende die voorval verskaf nie.

“Die vraag is hoe die vrou daar kon inkom?” wys Kotze daarop.

Hy vertel dat dit besonder moeilik is om by die medialokaal in te kom aangesien daar streng sekuriteit by die ingang gehandhaaf word en alle fotograwe geakkrediteer is.

Kotze het sedertdien ʼn saak van diefstal by die polisie aanhangig gemaak. Daar is egter glo geen veiligheidskameras in die medialokaal nie, wat die ondersoek vermoedelik sal bemoeilik.

Ellispark-stadion (Foto: Gauteng Film Commission)

Kotze sê hy het boonop nie versekering op die gesteelde kamera nie. “Dit is taai as ’n vryskutjoernalis. Kameras is hel duur. Ons kan nie sulke versekeringspremies bekostig nie.

“Ons is altyd so waaksaam as moontlik want ons weet hierdie goed gebeur. Ons probeer onsself beskerm. En in hierdie geval het dit binne in die veilige plek gebeur waar ons ons werk verrig. Daar moes iewers ’n sekuriteitsfout in die beplanning gewees het.”

Pieter Burger, besturende direkteur van Ellispark, sê dit is ’n jammerte dat die voorval die opwinding rondom die toets oorskadu.  ’n Ondersoek na die voorval is reeds gelas.

“Daar was ongelooflike streng sekuriteit by die mediasentrum. Dit was SA Rugby-sekuriteit. SA Rugby het beheer oor die losie vir die dag geneem en almal wat genooi was, is deur SA Rugby genooi en geakkrediteer.

“Niemand anders kon daar inkom nie. Dit is een van die strengste bewaakte plekke. Dit is ongelooflik moeilik om daar in te kom.”

Kotze sê hy sal ten spyte van die voorval beslis weer by Ellispark gaan werk. “Hierdie is nie ’n normale ding wat gebeur het nie. Ek is nie kwaad vir die mense van Ellispark nie. Ek doen baie werk vir die Leeus. Ek is elke tweede of derde week daar. As dit nie ʼn wedstryd is nie, neem ek spanfoto’s.

“Ek sal teruggaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Swerwer ·

Hello! Wat is daar verwag. Hierdie is mos ‘n land wat jy vat wat nie aan jou behoort nie en dan nog loskom ook.

Helgard ·

Chele het seker geskree sssshhhhhrrrruuuuppppp kommen suid afrika. Wat dink die all blacks van die screw up land

Christine ·

Ek vra die vraag: Wie is die sekuriteit en wie is die stelers? Dalk omgekoop.

Manie ·

Indien die sekuriteit so goed was as wat beweer word, waar was die kameras wat oor die lokaal moes waghou, dit sal mev Hoed se bewegings mos duidelik uitwys?

Marianne ·

Heel moontlik vooraf beplan in samewerking met wie ookal –

Johann ·

Mmmmm? Slapband hoed? Gaan seker nou weer ‘n issue wees as ek na stywe band Madhatter verwys?

Misky ·

Hou maar dop en kort voor lank sal daai persoon daai kameras wil verkoop. Kan nie teveel van hulle daar buite wees nie, so dit sal uitstaan bo ander kameras en pandjieswinkels sal polisie kan laat weet.

MAGRIETHA ·

Die wedstryde moet in die middag gespeel word en nie in die aande nie

Vexed ·

Ja nè, mens se gemoed raak maar swart onder sulke omstandighede…

Niklaas ·

En dit word spoedig verkoop teen R 2000 by ‘n pandjieswinkel.

Alida ·

So paar jaar gelede, by ons kantoorgebou met sy ongelooflik goeie sekuriteit en baie sekuriteitswagte het goed in ‘n stadium ook begin wegraak … selfs uit kantore wat oornag gesluit is. En raai, dit was toe een van die sekuriteitsmense self. Dalk het die sekuriteitspersoon wat die mediavertrek moes oppas, ‘n vriendin met’n hoed …

Wielspore ·

Ellispark is in die midde van JHB waar swendelaars rondbeweeg en net een swak punt in sekerheid en misdaad vind plaas.

Jacobus ·

“Ongelooflik” beteken eintlik, jy glo dit nie, wat beteken daar was geen regte sekuriteit nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.