Foto’s: 1 000 leë stoele uitgepak vir restaurant-protes

1000 leë stoele word uitgepak (Foto: Kraak)

Op 22 Julie het die gasvryheidsbedryf hul misnoeë te kenne gegee met  die afsonderingsmaatreëls wat hul hande afkap. Derduisende werkers in dié bedryf is swaar geraak deur die maatreëls, veral nadat die verbod op alkohol weer ingestel is.

Die Kaapse geleentheidsmaatskappy Kraak het besluit om dié protes, bekend as die Million seats on the streets-protes, effens anders aan te pak deur ʼn visuele element daaraan te koppel om dit op sosiale media te versprei.

Die Kraak-span het ʼn 200 meter-lange tafel gedek op ʼn grondpad tussen die kanolavelde in Wellington met 1 000 stoele wat daarby aansit, om visueel uit te beeld hoe so ʼn groot leë tafel lyk.

Hannes Maritz, stigter en eienaar van Kraak, sê hulle wou nie net die leë sitplekke tydens die pandemie uitbeeld nie, maar ook die leë sitplekke wat daar na die tyd sal wees.

“Ons wou vir mense wys hoe 1 000 leë sitplekke visueel lyk, maar ons bring ook hulde aan die leë sitplekke wat mense later by hul tafels gaan hê as gevolg van die sterftes wat die virus veroorsaak,” sê hy aan Maroela Media.

1000 leë stoele (Foto: Kraak)

Hy sê hulle wou hul protes op hierdie manier wys sodat hulle sosiale distansiëring kan handhaaf, nie in groepe bymekaar hoef te kom nie en om iets te skep wat ver op sosiale media gedeel kan word.

Die pandemie het Kraak ook hard getref. Maritz vertel dat hulle sowat 30 groot funksies per jaar doen, waar daar elke keer 70 tot 80 personeellede werk.

“Dit is 80 broodwinners vir hul families. Dit sluit in sjefs, fotograwe, bloemiste, kelners, die kombuisspan en nog meer. Dit is 80 families wat nou nie ʼn inkomste het nie.”

Maritz verduidelik dat die gasvryheidsbedryf veral swaarkry  onder die drankverbod omdat hulle sonder alkohol nie veel wins kan maak nie.

“Ons wil net ʼn middeweg hê. Ons is bereid om honderd persent by die regulasie te hou en ʼn nuwe manier van uiteet te skep, sodat dinge net bietjie kan normaliseer. Ons het net die geleentheid nodig om te wys ons kan verantwoordelik funksies hou.

“Ons besef dit is belangriker om lewens te red as om funksies te hou, maar ons red ook lewens déúr funksies te hou, omdat duisende families finansieel afhanklik is daarvan,” sê hy.

Die foto’s van Kraak se inisiatief is vinnig en wyd op sosiale media gedeel. Mense van die omgewing kon ook gaan aansit by die 200 meter-lange tafel om te voel hoe dit is om alleen tussen 1 000 stoele se sit.

“Ons wil nie net leë stoele as gevolg van die virus laat nie; terwyl mense nog lewe, wil ons steeds saam met ons geliefdes aan ʼn tafel kan sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Asseblief moenie die ANC pla nie. Hulle is besig om hulle kommunistiese manifes te implementeer! Resturante en besighede wat vou, is vir hulle maar net kollaterale skade!

marius

Beskaafde protes optrede beteken niks in die land nie .

JF

Ek kry die bedryf jammer….. Wie gaan eet uit en geniet nie ń drankie nie. Sies, Regering. !!!

Johann

So amazing as wat dit is…so jammer is ek vir die opregtheid en dringendheid wat deel van die boodskap is, want sien, daars nie iets aan die brand gesteek, of gebreek, of verwoes, of iemamd anders benadeel nie, of gsrkree en gegil en ge toi toi nie, daar word nie DEMAMD nie, daar word nie gedreig nie…so jammer vir al die moeite mense maar in die RSA werk so iets nie. Veral nie as jy n miljarder president en sy mede vergrypers se aandag wil kry. Nog minder n reaksie kry. Hoop julle het.als mooi gaan bêre want ander word… Lees meer »

Pieter

Dit help nie die een wil protes vir drank en daai een protes vir sigarette. Ons moet almal saam protes of dit nou vir drank of plaas moorde of sigarette is. Dit is al wanneer die ANC komuniste gaan luister