Foto’s: 12 sluise in propvol Vaaldam oop

Pont de Vaal-landgoed onder water (Foto: Verskaf)

Altesaam 12 sluise van die Vaaldam was teen Saterdagmiddag ten volle oop om die watervlakke in dié oorvol dam te beheer.

Swaar en aanhoudende reënval het die afgelope twee weke in die dam se opvangsgebied uitgesak.

Die Vaaldam is tans 112,1% vol en ʼn gemiddeld van 300 mm reën is teen Saterdagoggend (sedert 1 Februarie) in Parys, Vrystaat, gemeet.

Strate in Parys was Saterdagoggend reeds onder water soos die Vaalrivier begin opstoot het. Parys Toerisme Radio het aan Maroela Media gesê dat die brug na die Parys-gholflandgoed vanuit die dorp onder water was. Die rivier by Grewarlaan stoot oor sy walle by sekere dele.

Die rivier het ook oor sy walle begin stoot in Fickstraat, links van die bekende 1919-hangbrug.

Verskeie vakansieoorde en lodges is ook toe weens die rivier wat oorloop en die aanhoudende reën. Die bekende Pont de Vaal-landgoed in die Parys-distrik is onder water.

Inwoners in die Lochvaal-gebied, wat langs die rivier geleë is, is versoek om die gebied te ontruim weens die water wat opstoot.

Die R500 tussen Fochville en Parys is ook onder water.

Die uitvloei van Bloemhofdam was teen Saterdagmiddag 2 400 kubieke meter per sekonde.

In Standerton, Mpumalanga, het die Vaalrivier ook reeds Vrydag begin opstoot en strate naby die rivier en in die sakegebied onder water gelaat.

Hoewel die hele dorp nog nie deur die vloedwaters geraak is nie, raak hulle egter bekommerd omdat die rivier aanhou styg en die reën nie skietgee nie.

Soos vroeër berig, het van die winkels in die sakegebied waterskade opgedoen, terwyl sommige skole ook kinders huis toe gestuur het.

Inwoners in hierdie dele van die dorp is gestrand en ʼn groot deel van die dorp sit sonder krag omdat kragsubstasies onder water is.

Die Grootdraaidam het Saterdag op 112,86% kapasiteit gestaan, met drie sluise wat oopgemaak is.

Die invloei van die dam het teen Saterdag opgestoot en die Meyerville-brug is intussen vir lede van die publiek gesluit, het Hillel Coetzer, ʼn inwoner van die dorp, gesê.

ʼn Ander inwoner het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê hulle is van die dorp afgesny noudat die brug toe is. Die inwoner woon aan Meyerville se kant en moet nou ʼn ompad van 100 km ry om in te gaan dorp toe en terug te ry huis toe.

Boonop word die inwoner se man se staalwerkonderneming tans geraak deur die oorstromings en die gesin sit al drie dae sonder krag.

“Ons is bang vir wat kan voorlê. Die natuur is maar ʼn snaakse ding en ons as mens weet nooit wat om volgende te verwag nie,” vertel die inwoner.

Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.