[Foto’s] 30 gered ná vistreiler aan die brand slaan

Foto: Netcare 911

Twee mans moes Dinsdag per helikopter na ʼn hospitaal geneem word nadat die vistreiler waarop hulle deel van die bemanning was aan die brand geslaan en begin sink het.

Andre Fletcher, adjunkstasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Durban, het gesê die NSRI se Durban-bemanning en lugreddingseenheid is Dinsdag teen 10:05 in kennis gestel van die beseerde mans wat van die sinkende vistreiler gered is.

Volgens Fletcher was ʼn bemanning van 30 op die Taiwannese vissersboot Hsiang Fuh No. 6 toe die boot Sondag ongeveer 400 seemyl van die KwaZulu-Natalse kus aan die brand geslaan en begin sink het. Die bemanning het twee reddingsbote gebruik om die treiler te verlaat en is later deur twee ander skepe gevind en aan boord geneem.

Die NSRI is Dinsdag in kennis gestel dat ʼn man met erge brandwonde in ʼn ernstige toestand op die vaartuig Ever Diadem ongeveer 25 seemyl van die hawe af is. Die NSRI-reddingsboot, Eikos Rescuer II, is met ʼn Netcare 911-paramedikus aan boord uitgestuur om die skip tegemoet te gaan. Die beseerde man, ʼn 29-jarige Filippynse burger, is na die reddingsboot oorgebring en behandel vir die tweede- en derdegraadse brandwonde wat hy oor 40% van sy lyf opgedoen het. ʼn Tweede man, ʼn 63-jarige Chinese burger, is ook behandel vir ʼn kniebesering.

ʼn Helikopter van die Suid-Afrikaanse weermag met drie paramedici aan boord is ontplooi en die twee beseerde mans is opgehys na die helikopter. Die helikopter het direk met die mans na ʼn hospitaal gevlieg.

Die ander 28 oorlewendes wat almal ongedeerd op die twee skepe was, is teruggebring na die hawe. Volgens Fletcher is alle skepe per radio in kennis gestel van die verlate vistreiler wat in die see agtergebly het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

pop2 ·

Dit lyk nie vir my soos n vistrailer nie maar n skip wat “kontainers” vervoer

Cherokee ·

Askies Pop, het jou kommentaar gesien net nadat ek gepos het.

Cherokee ·

Net ‘n terloopse aanmerking, dit op die foto is nie ‘n vissersboot maar die Evergreen vragskip (oftewel container ship). Het nou net toe ek hierdie lees en die foto sien, deur die venster gekyk en die Evergreen is op hierdie oomblik besig om vas te meer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.