[Foto’s] 350 brandbestryders by Gordonsbaai ontplooi

Foto: Verskaf deur Monique de Beer Photography.

Die Kaapstadse brandweer en reddingsdienste het Woensdagoggend laat hoor daar is steeds ongeveer 350 brandbestryders by Gordonsbaai ontplooi om die hewige brand wat Dinsdag uitgebreek het in bedwang te bring.

Theo Layne, woordvoerder vir die Kaapstadse brandweer en reddingsdienste, het gesê daar het sedert gister vyf huise in die slag gebly. Volgens Layne het drie huise heeltemal afgebrand, terwyl die twee ander eksterne skade opgedoen het.

“Die wind het intussen ʼn bietjie gaan lê, so dit het brandbestryders kans gegee om aandag te gee aan die brandpunte. Ons personeel was deur die nag op die toneel en is van plan om definitief nog vandag daar deur te bring,” het Layne gesê.

Charlotte Powell, woordvoerder vir die stad se rampbestuureenheid, het aan Maroela Media gesê kragtoevoer na die Sir Lowry’s Pass-nedersetting is intussen herstel. “Die elektrisiteit is nog nie weer herstel by Gordonsbaai nie weens die twee kragsubstasies wat deur die brand verwoes is,” het Powell gesê.

Sy kon nie ʼn geraamde tyd gee wanneer die probleme uitgestryk sal wees nie, maar het die versekering gegee dat daar aan die probleem gewerk word.

Volgens haar het daar nooit amptelike ontruimings van inwoners plaasgevind nie, hoewel die SAPD Dinsdagmiddag bevestig het inwoners het hul huise begin ontruim. “Mense het self gevlug omdat hulle bang was en die rook erg geraak het. Wanneer hulle teruggaan, hang van hul eie diskresie af,” het Powell gesê.

Die dierewelsynsvereniging in Helderberg in Gordonsbaai is Dinsdag ontruim, maar hul perseel is nie in die brand verwoes soos voorheen berig is nie.

Daar was Woensdagoggend geen antwoord by die nommer wat op hul Facebook-profiel verskaf word nie, maar volgens die stemboodskap moes diere en personeel Dinsdag noodgedwonge ontruim word. Daar word egter in die boodskap beklemtoon dat die dierehokke nog staande is.

In ʼn inskrywing op die vereniging se Facebook-blad word gemeld dat dit die eerste keer in 20 jaar is dat diere ontruim moes word. “Die brand was aanvanklik ver weg. Ons inspekteurs het gery om ondersoek in te stel en het teruggekom met vragte vol diere wat voor die vuur uitgevlug het. Huiseienaars het ook gevlug en hul diere by ons kom los. Die vuur het buite beheer gewoed,” lui die inskrywing.

Siek diere is na naburige veeartse geneem en personeel en vrywilligers het planne begin beraam met die ekstra diere. “Ek het die vrees gevoel. Ek wil dit nooit weer oorhê nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.