Foto’s: ‘Aansienlike skade’ aan stadion ná Pta-storm

Groot gedeeltes van die Ekangala-stadion is tydens die storm beskadig. Foto: Verskaf

ʼn Erge storm het Maandagaand grootskaalse skade aan ʼn stadion onder beheer van die Tshwane-metro oos van Pretoria aangerig.

Die Tshwane-metro het Dinsdag gesê groot gedeeltes van die Ekangala-stadion in Ekangala, noord van Bronkhorstspruit, is tydens die storm, wat met sterk winde gepaard gegaan het, beskadig. Sommige gedeeltes van die dak wat afgewaai het, het ook ander gedeeltes van die stadion beskadig.

Rdl. Ntsiki Mokhotho, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskaps- en maatskaplike ontwikkelingsdienste, het Dinsdag die gebied besoek om die omvang van die skade te help bepaal.

“Die stadion is deel van die stadion-geriewe wat in 2011 geërf is toe die voormalige Metsweding-streeksmunisipaliteit met die Tshwane-metro saamgesmelt het,” het Mokhotho gesê.

“Voorlopige evaluering het toe al die vervalle toestande by die stadion aangedui en bevind dat die stadion opknappingswerk moes ondergaan.”

ʼn Verslag wat destyds deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) saamgestel is, het aangedui die vernaamste oorsake van die agteruitgang was die langdurige gebrek aan instandhouding, kwaadwillige beskadiging van die eiendom en normale slytasie.

“ʼn Voorkomingsprogram sou destyds R4.89 miljoen gekos het. Ongelukkig is die program nie deur die vorige administrasie onderneem nie. Die skade wat deur Maandagaand se storm aangerig is, is aansienlik. Dit sal waarskynlik die verwagte koste soos destyds aangedui, oorskry.”

Mokhotho het gesê sy sal ʼn beroep op die departement doen om ʼn deeglike en professionele waarneming van die omvang van skade vir begrotingsdoeleindes te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jack daniel ·

Toe Kos die erfstuk hulle baie geld na die skade. Ja, jy moet veral erfstukke in stand hou. Maar ek het vergeet dat instandhouding nie by hulle job description ingesluit is nie.

Lolla ·

Oe ee ee! Aangesien julle nie die onderhoud kon deurvoer nie, en kwaadwilligge beskadigging reeds daar was, en ons nie meer wereld spele in ons land gaan he nie, sloop die ding, voor julle ons finansies weer sloop. Gaan bou nog Engelse skole in Gauteng man!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.