Foto’s: Aasvoël by Hartbeespoortdam gered

Aasvoël by Hartbeespoortdam gered (Foto verskaf deur die NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ʼn aasvoël gered wat in hiasinte op Hartbeespoortdam in Noordwes verstrengel geraak het.

Arthur Crewe, stasiebevelvoerder van NSRI Hartbeespoortdam, het gesê sy span is Donderdag omstreeks 10:45 in kennis gestel van die aasvoël wat vermoedelik in die plante vasgekeer is.

Ooggetuies het bevestig twee privaat bote het vroeër gepoog om die aasvoël by te staan, maar dit wil voorkom of hulle ook moes omdraai weens die digte hiasinte.

“Ons NSRI-reddingsvaartuig het deur ongeveer 900 m digte hiasinte beweeg voor hulle by die aasvoël uitgekom het. Sy poot het in ʼn vislyn en die hiasinte verstrengel geraak.” Die aasvoël het beangs probeer wegkom toe die NSRI nader gekom het.

“Ons kon hom gelukkig uit die vislyn lossny en hom uit die hiasinte bevry. Hy het nie enige poging aangewend om enige van ons bemanningslede tydens die reddingspoging aan te val nie.”

Ná hy bevry is wou hy wegvlieg, maar hy was klaarblyklik te uitgeput en het in die water beland en gedryf, maar kon nie opstyg nie.

“Drie reddingswemmers is in die water ontplooi en hulle het hom na die oewer gelok. Die plaaslike aasvoëlbewaringsorganisasie Vulco is in kennis gestel en hulle het by die toneel opgedaag. Hulle het bevestig die aasvoël is vier maande oud.”

Natuurbewaarders het die aasvoël in hul sorg geneem en hulle sal hom voorberei op rehabilitasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.