Foto’s: Affies vier eeu van Afrikaans-wees

Leerders in blou en groen geklee sit vir ‘n groepfoto by die Seunskool (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) en Afrikaanse Hoër Seunskool (AHS) in Pretoria, beter bekend as Affies, het Dinsdag hul 100-jarige bestaansjaar met ’n feesoptog gevier. Personeel, leerders en alumni het saamgedrom om terug te kyk op die 100 jaar waarin dié skool van ’n nederige begin tot ’n spogskool gegroei het.

“Die opwinding wat hierdie dag betref, bou al vanaf verlede jaar op. Ek voel baie trots om deel van só ’n unieke gebeurtenis te kan wees,” sê Perry Joynt, wat verlede jaar as skoolhoof van AHS aangestel is.

Die feesviering is afgeskop deur ’n groepfoto by die Seunskool, gevolg deur boodskappe deur die skoolhoofde, Joynt en Marna Jordaan van die meisieskool. Voormalige skoolhoof van die Seunskool, dr. Pierre Edwards, het ook ’n terugblik gegee op die skool se geskiedenis.

Leerders in blou en groen geklee sit vir ‘n groepfoto by die Seunskool (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die Afrikaanse Hoëgere Skool Pretoria is op 28 Januarie 1920 met 35 leerders en drie onderwysers in ’n huis in die lewe geroep. Gedurende die skool se eerste sewe bestaansjare is dit in die woonhuis van genl. Piet Joubert gehuisves. Onder leiding van Frank le Roux as die eerste permanente skoolhoof is die skool in 1927 na ’n nuwe gebou verskuif. Die hoeksteen vir dié gebou is reeds op 25 November 1925 deur die destydse eerste minister, genl. Barry Hertzog, gelê. Teen 1929 het hierdie gebou nie meer genoeg ruimte gebied nie en is daar besluit om die seuns en meisies te skei. In 1930 word twee afsonderlike hoërskole gestig, naamlik die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Afrikaanse Hoër Meisieskool.

Ná afloop van die verrigtinge is leerders en personeel met busse na Burgerspark in die middestad van Pretoria geneem. ’n Simboliese houtbalk, afkomstig van die woonhuis van genl. Joubert, is deur die skoolhoofde aan die hoofleiers oorhandig. Dié balk, wat in twee gedeel is vir die twee skole, word jaarliks as tradisie aan hoofleiers oorhandig as simboliese teken van die ouer generasies wat die leisels aan die jonger generasies oorhandig. Die balk is ál wat van dié historiese huis oorgebly het.

Leerders het vroegmiddag fier en regop die staptog van Burgerspark terug na die Seunskool aangepak.

Die staptog simboliseer die dinamiese vooruitgang en groei waarna die Seuns- en Meisieskool streef. “Ons eer ons voorsate en ons verlede, maar ons streef ook om die kultuur, karakter en tradisies wat die fondament van die skool gelê het steeds vir latere generasies te behou,” het Joynt gesê.

Skoolhoofde Perry Joynt en Marna Jordaan (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Joynt beklemtoon die sterk Christelike karakter en Afrikaanse moedertaalonderrig as hoekstene wat die skool regop hou. “Ons skool is besonders omdat ons die oudste suiwer Afrikaanse Hoërskool in Suid-Afrika is. Wat ons nóg meer uniek maak, is dat die skool vyf jaar vóór die erkenning van Afrikaans as amptelike taal gestig is.”

Vir Joynt is die gehalte-onderrig, toegewyde personeel, opvoedende onderrig en balans tussen sport en kultuur die skool se geheim tot sukses. “Ons wil ’n voorbeeld wees in alles wat ons aanpak. Ons wil gebalanseerde kinders die wêreld instuur om ’n baken van hoop vir vandag se jeug te wees ondanks die talle uitdagings daarbuite.”

Marna Jordaan, skoolhoof van die Meisieskool vir die afgelope 13 jaar, sê sy is baie trots op die 100%-slaagsyfer wat die skool jaarliks bereik. Die res van die leerders het ’n gemiddeld van 75,5% behaal.

Jordaan sê dit is ’n besonder groot voorreg om die hoof van só ’n uitnemende instansie te wees.

“In alles wat ons aanpak, daag ons onsself uit om bo die gemiddeld uit te styg. Die meisies werk hard en toegewyd aan hul toekoms. Hulle lyk ook gelukkig,” vertel Jordaan.

Tradisies soos dankbaarheid, lojaliteit, kameraadskap en respek het oor die jare dieselfde gebly, meen Jordaan. Vir haar lê die taak nou in hulle hande om die aflosstokkie na die volgende Affies-generasie aan te gee en dié tradisies veilig vir die toekoms te bewaar.

Danielle Heyns, oud-Affie en adjunkhoof van die Meisieskool (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Van die oud-Affies het ook deel gehad aan die eeufeesviering. Danielle Heyns (56), die adjunkhoof van die Meisieskool, het in 1981 haar blou-keppie as Affie-matrikulant gedra. Vir haar het die skool en die karakter van die skool oor die jare dieselfde gebly. “Toe ek by Affies as onderwyseres kom skoolgee het, was dit soos ’n tuiskoms. Die liefde en respek wat die Affie-susters vir mekaar het, is nie net ’n behoue tradisie nie, maar ’n leefwyse,” vertel Heyns.

Werner Bornman het in 1986 aan die Seunskool matriek behaal en sy vrou, wat in dié stadium ’n leerder by die Meisieskool was, tydens ’n debataand by die skool ontmoet. Hul seuns het jare later ook deel geraak van die Affie-familie. “Dit is ongelooflik hoe die oud-Affies nog verbind bly aan die skool etlike jare later. Een maal ’n Affie, altyd ’n Affie,” sê Bornman.

Marisha Hermann en Abigail Tollig is tans in matriek (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Marisha Hermann en Abigail Tollig, wat tans in matriek is, sê die afgelope vier jaar by die Meisieskool is ’n wonderlike ervaring, enig in sy soort. “Affies gaan oor tradisies. Susterskap. Een-wees. ’n Hartklop wat blou klop. Hier kan jy net jouself wees, terwyl jy gevorm word om ’n dame te word. ’n Affie-meisie lyk anders en dra haar trots aan haar lyf,” sê Hermann.

Vir Hermann en Tollig is die graadagts se groet van die boerenooientjie iets wat hulle altyd sal bybly. “Dag, my nooi, jy is so mooi,” sê die graadagts vir die matrieks.

Van links: Adriaan van Wyk, Christiaan Swanepoel, Armand Knoetze en Henri van der Westhuizen (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Henri van der Westhuizen en Armand Knoetze, matriekleerders en leiers van die Seunskool, meen die heelhartige deelname van die leerders is een van die skool se hoofeienskappe. “Ons slagspreuk lui: Dit is nie wat Affies vir jóú kan doen nie, maar wat jý vir Affies kan doen,” sê Van der Westhuizen.

Van der Westhuizen en Knoetze sê hulle het vyf jaar gelede op die skool se opedag die rooibaksteengebou gesien en dadelik hoendervleis gekry. “Iets is in my aangewakker en ek het geweet hierdie skool is vir my,” sê die trotse Affie-seuns.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

African ·

Volgende week dank Lesufi die Hoof af……..
Teveel wit gesiggies

Marlene Brayshaw ·

Is absoluut wonderlik. Soooooo trots op julle. Baie dankie daarvoor , en mag daar nog ‘n 100 jaar vorentoe wees vir julle

Lee ·

Hoendervleis!! Pragtig om te sien!! Ons het nog TOP Afrikaanse skole in Suid-Afrika!!

Trots ·

My seun is die jaar in gr10 Affies… So ongelooflike skool!

Potjie ·

Hoendervleis sake. Dis so lekker om n groep gedissiplineerde jong mense by mekaar te sien. Ordelik en stigtelik. Dit kielie die hoop spiertjie hier binne.

Humor ·

Baie geluk. Voowaar skole on op trots te wees. Doen so voort. My tots skool bly maar PK de Villliers. Keetmanshoop.. Baie engelse vanne kom voor. Lyk my die boere het goeie werk gedoen en ver vooruit gesien. Lesufi behoort tevrede te wees.

Jan ·

Is Affies ń publieke of privaat skool, anders is hulle voorland transformasie en integrasie deur Pantsufi en sy departement.

Ettienne ·

Geluk AFFIES!
‘n Ongelooflike mylpaal in ons land.
Trots is ons op ons geloof, taal, kultuur en skool.
Viva Affies!
(Matriek ’94)

Dries ·

Wonder of Lesufi ook by die feesvieringe was, dis mos darem een van ‘sy’ skole.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.