Foto’s: AfriForum betree nuwe fase met nuwe gebou

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, en Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, en Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer

Steve Hofmeyr en Sorina Erasmus, ook bekend as “die Flooze”, was van die talle gaste wat Dinsdag tydens ʼn spoggeleentheid AfriForum se nuwe hoofkantoor in Centurion ingewy het.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, betree dié burgerregte-organisasie met sy nuwe hoofkantoor ʼn nuwe fase met die fokus op selfstandigheid vir Afrikaners. “AfriForum betree ʼn nuwe fase met ʼn sterker fokus op die mobilisering van ons 100 000 lede om selfstandig na hul en hul gemeenskappe se belange om te sien, benewens die aktiewe beskerming van burgerregte,” het Kriel gesê.

Die aankondiging is vervat in AfriForum se toekomsplan met die titel, “Prioriteitsprojekte post 100 000 lede”. Die toekomsplan bestaan uit drie bene:
1. Aksies ter verbetering van die bestaande werklikhede in die land;
2. die vestiging van nuwe werklikhede deur selfstandigheidsaksies; en
3. die versterking van AfriForum as voertuig ter uitvoering van die toekomsplan.

Volgens Kriel is die belange van minderhede nie deel van die regerende party se agenda nie en sal minderhede soos Afrikaners toenemend verantwoordelikheid moet neem om vir hulleself ʼn beter toekoms te skep. “Dit is bevrydend om selfstandig skouer aan die wiel te sit om die samelewing te verbeter, sodat jy weet dat jy nie aan die genade van owerhede oorgelaat is nie,” het hy gesê.

Hy het daarop gewys dat die netwerk gemeenskapsveiligheidstrukture wat AfriForum tans landswyd binne die raamwerk van die wet in plaaslike gemeenskappe vestig, een van die organisasie se kern selfstandigheidsaksies is.

Kriel het AfriForum se nuwe gebou, wat meer as 70 voltydse werknemers huisves, beskryf as ʼn lewende monument vir dit wat ʼn gemeenskap kan bereik as hulle deur sterk burgerlike instellings self verantwoordelikheid vir hulle toekoms neem en bou aan ʼn beter samelewing. “Die tafel is nou gedek om AfriForum nog sterker te maak as die meer as 100 000 bestaande lede wat afsonderlike gesinne verteenwoordig. AfriForum kan nou ʼn nóg groter rolspeler word om ʼn beter toekoms te bou.”

AfriForum het ook tydens die gebou se opening die AfriForum GPS vir ʼn verskeidenheid slimfone bekend gestel. Steve Hofmeyr se stem gee in Afrikaans die aanwysings op die nuwe GPS. Die GPS kan gratis afgelaai word deur AfriForum GPS in te tik op die Google Play Store, Apple App Store en Blackberry World. “Nou gee ons almal die geleentheid om vir Steve huis toe te neem,” het Charl Oberholzer, AfriForum se kommunikasiebestuurder, geskerts.

Die eerste uitgawe van AfriForum se nuwe ledetydskrif, FORUM, is ook bekend gestel. Dié tydskrif, onder die redakteurskap van Alet Rademeyer, sal lede op hoogte hou van AfriForum se werksaamhede en in-diepte artikels bevat oor aktuele sake in die land.

AfriForum se “Prioriteitsprojekte post 100 000 lede”-beleidsdokument is by www.afriforum.co.za beskikbaar.

Foto’s: Burger Meyer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

monika ·

baie geluk met die nuwe gebou vir ons afrikaanse mense en ons almal sal saam met steve wil huis toe gaan. Dit is baie goed dat daar mense is soos Afriforum. DANKIE WAT JULLE DOEN

Johannes ·

Baie geluk met die nuwe gebou en alles van die beste vir die toekoms en mag Afriforum van krag tot krag gaan en mag ons nooit vegeet wat ons doel in SUID AFRIKA is nie.

HEVW ·

Ons se baie geluk. Hiedie taak, stryd is grensloos groot. Ons kan verseker wees van hoe pieke en donker dale. Die wete dat God aan ons kant sal wees is belangrik en motiverend, maar wat baie belangrik is, is die sekerheid dat ons biddend aan God se kant sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.