Foto’s: AfriForum stap vir plaasmoordslagoffers, oorhandig memorandumv

Foto: @LorraineClaasen op Twitter.

Foto: @LorraineClaasen op Twitter.

AfriForum, vriende, familie en lede van die gemeenskap het Saterdagoggend in Thabazimbi, Limpopo ‘n staptog gehou vir die vermoorde Britse burger, Christine Robinson (59), wat op 30 Julie vanjaar op haar plaas vermoor is.

Volgens AfriForum is die staptog gelyktydig in Thabazimbi, Londen (Engeland), Liverpool (Engeland) asook in Vancouver in Kanada gehou ter nagedagtenis aan Robinson en ook om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om plaasmoorde in die land te prioritiseer.

“Familielede het vandag in samewerking met AfriForum ook 430 briewe aan die eerste minister van Engeland, David Cameron, by 10 Downingstraat in Londen oorhandig. In Suid-Afrika het AfriForum ʼn memorandum aan die polisie oorhandig waarin die burgerregte-organisasie die prioritisering van plaasmoorde versoek,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Cameron het verder gesê dat daar by elke staptog ʼn memorandum saam met ʼn ope brief van familie én vriende voorgelees is. Daar is ook ’n oomblik van stilte gehou waarna ballonne vrygelaat is om Robinson en ander slagoffers van plaasmoorde se lewens te herdenk.

“Volgens AfriForum se statistieke, wat konserwatief bereken is, was daar al minstens 90 bevestigde plaasaanvalle in 2014, en sedert die aanstelling van die nuwe minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, was daar al sowat 20 moorde op boere,” het Cameron gesê.

AfriForum het Judith Macgregor, die Britse hoë kommissaris in Pretoria, vroeër ook versoek om Britse burgers te waarsku voordat hulle landelike gebiede in Suid-Afrika besoek of wil bewoon.

“Ons doen die beroep op die Britse regering omdat die Suid-Afrikaanse regering nie meer die vermoë het om landsburgers en mense van ander lande te beveilig nie, veral nie in landelike gebiede nie,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Volgens Cameron is daar versoek dat die Britse regering hul diplomatieke en politieke invloed gebruik om druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen om onder meer mev. Robinson se moordenaars vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.