Foto’s: Baba bring ‘vreugde in moeilike tyd’ ná rugbyspeler se dood

Kylah Beeslaar en baba Leham Armandt Pryor. Foto: Verskaf

Kylah Beeslaar en baba Leham Armandt Pryor. Foto: Verskaf

Kylah Beeslaar en Armandt Pryor, die jong rugbyspeler van Centurion wat onlangs in ʼn motorfietsongeluk dood is, se babaseuntjie is gebore.

“Alles het so vinnig gebeur, hy was eers veronderstel om op 19 Mei gebore te word, maar hy het ander planne gehad,” het ʼn trotse Kylah Maandag aan Maroela Media gesê.

Die paar se baba, Leham Armandt Pryor, is Woensdag deur ʼn keisersnee in die wêreld ingebring. Kylah het Leham na sy pa vernoem om hom te gedenk.

Sy het gesê Leham het die skaal op 3,2 kg laat trek en is ʼn lekker groot bulletjie.

“Hy lyk net soos sy pa. Hy het sy mond, neus en ogies. Hy bring regtig vrede vir ons almal in hierdie moeilike tyd.”

Kylah is Vrydag uit die hospitaal ontslaan en woon tans by haar ma in Garsfontein in die ooste van Pretoria.

“Hy is ʼn baie soet babatjie, hy huil net as hy honger is en as hy moet bad, want dan moet hy uit sy warm snoesige klere uit. Verder word hy lekker bederf, die mense wil nie ophou om vir hom te kom kuier nie,” skerts sy.

Sy het gesê sy is baie geseënd om ʼn bondeltjie vreugde soos Leham te hê.

Maroela Media het in April berig Armandt (23) is skaars ʼn maand nadat hy van Skotland teruggekeer het om by Leham se geboorte te wees, in ʼn motorfietsongeluk in Centurion dood.

Hy was op pad na sy broer, Tiaan Pryor, toe hy skaars ʼn straatblok van sy eindbestemming in Lyttelton in ʼn botsing betrokke was. Kylah was reeds by Tiaan se huis. Na wat verneem word, het hy gebots teen ʼn motor wat uit ʼn meenthuiskompleks gery het. Armandt is op die toneel dood.

Die kranige rugbyspeler is verlede jaar na Haddington in Skotland waar hy vir die Haddington-rugbyklub uitgedraf het. Hy het teen die einde van Februarie na Suid-Afrika teruggekeer.

Armandt het sy laer- en hoërskoolloopbaan in Centurion voltooi. Hy was ʼn leerling aan Laerskool Rooihuiskraal en het in 2009 sy matriek aan Hoërskool Eldoraigne behaal. Vir dié hoërskool het hy onder meer vir die eerste rugbyspan uitgedraf en ná sy skoolloopbaan ook vir die Centurion-rugbyklub gespeel en aan Vodacombeker-wedstryde deelgeneem.

Armandt het planne gehad om in Nieu-Seeland te gaan rugby speel. Dit was sy droom en hy en Kylah sou ná Leham se geboorte daarheen gaan. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.