Foto’s: Ballito weer ʼn branderplank-paradys

Ballito Pro (Foto: WSL Africa)

Die wêreld se topbranderplankryers stroom weer na die jaarlikse Ballito Pro-branderplankrykompetisie wat reeds 27 Junie in Willardstrand in Ballito, KwaZulu-Natal, afgeskop het.

Die Ballito Pro, aangebied deur O’Neill, vier dié jaar sy 51ste verjaarsdag en word beskou as een van die wêreld se oudste branderplankrykompetisies.

Die beste plaaslike en internasionale branderplankryers sê van 1 tot 7 Julie mekaar die stryd aan in ’n aparte mans- en vroue-afdeling.

’n Aparte junior afdeling wat reeds van 27 tot 29 Junie plaasgevind het, stel die beste Suid-Afrikaanse branderplankryers onder 18 jaar oud in staat om teen hulle internasionale eweknieë mee te ding.

Die Ballito Pro is egter nie net op branderplankry-entoesiaste gerig nie. Besoekers kry ook die geleentheid om aktiwiteite en vermaak in die heerlike winterson te geniet as deel van die Ballito Pro-fees. ’n Groot verskeidenheid musiek, geurryke kosstalletjies, verskeie strandsportsoorte asook kookkompetisies sal feesgangers heeldag besig hou.

Die hoogtepunt van hierdie jaar se fees sluit in die gratis musiekfees wat deur 5FM aangebied word. ’n Verskeidenheid van Suid-Afrika se gewildste musikante en klanke gaan 4 en 5 Julie sorg vir ’n groot partytjie op die strand.

Mense wat nie self op die strand kan wees nie, kan al die aksie op die Ballito Pro-Facebookblad of –webwerf volg.

Hier is ʼn paar foto’s van die afgelope paar dae se aksie op die strand en in die golwe:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.