Video: Bank of Lisbon-gebou in puin gelê

‘n Skermgreep van die sloping.

Die Bank of Lisbon-gebou in die Johannesburgse middestad is Sondagoggend gesloop.

Die gebou is omstreeks 09:00 in puin gelê en het die omgewing in ’n digte stofwolk gehul. Dít volg sowat 14 maande nadat ’n brand by die gebou uitgebreek en die lewe van drie brandbestryders geëis het.

“Dit bring ’n einde aan ’n pynlike hoofstuk vir die familie en vriende van die gestorwe brandbestryders. Ons sal nooit julle opoffering vergeet nie,” het die Stad Johannesburg se nooddienste op Twitter gesê.

Maroela Media het vroeër berig twee brandbestryders is dood terwyl hulle die brand op 5 September verlede jaar in die 22 verdieping hoë gebou help blus het, en ʼn kollega is dood toe hy van die gebou geval het. Die oorledenes was Simphiwe Moropane (28), Mduduzi Ndlovu (40) en Kathutshelo Muedi (37).

Agt brandbestryders is destyds met verskeie beserings in die hospitaal opgeneem, van wie ses binne ʼn week ontslaan is. Twee is langer as twee maande in die Netcare Milpark-hospitaal behandel.

’n Strukturele evaluering het bevind die gebou het groot strukturele skade gedurende die brand opgedoen. Luidens ’n verslag het tien van die gebou se 22 verdiepings sedertdien nie meer aan veiligheidsregulasies voldoen nie.

Kyk hier na die oomblik toe die gebou ingetuimel het:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hans ·

Nasionale gesondheid versekering moonlik ook in die ry om so gefix te word.

Daan Erasmus ·

Ek is skoon verbaas. En hou my asem op. Hierdie is Suid-Afrika, dalk hoor ons nog maandag: oops jammer verkeerde gebou.

André-Chris ·

Ek wil nie die graderingsagentskappe se reaksie hoor nie ….

Toekoms ·

Die video beskryf die toekoms van daai land mooi. Ons gesin is gelukkig daar uit.

Cornelius ·

Ek prys God vir die wonderlike toekoms wat voorlê vir Suid Afrika. Vir my lewendige God is niks onmoontlik nie.

heinrich ·

9/11 het meer gelyk geval. dit het gelyk of die struktuur wil omval

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.