Foto’s: Barberton eers weer kalm

Betogers het tydens die hofsaak Maandag wéér Barberton in chaos gedompel (2 Maart 2020) (Foto: Verskaf)

Na amper ’n maand van onluste in Barberton is dié dorp weer kalm, nadat twee van die voorbokke van die protesoptogte die afgelope naweek in hegtenis geneem is.

Mandla Mamba en Njabulo Shugu Mkhonto, wat die betogings grotendeels aangehits het, het Maandag in die Barberton-landdroshof verskyn. Hulle is borgtog geweier en die saak is na die hof in Mbombela (Nelspruit) oorgeplaas waar hulle Vrydag sal verskyn.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê betogers het tydens die hofsaak Maandag wéér die dorp in chaos gedompel, maar sewe betogers is toe in hegtenis geneem. Altesaam 36 moeilikheidmakers is tydens die afgelope maande se betogings in hegtenis geneem.

AfriForum het gekom om Barberton te help opruim (2 Maart 2020) (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig onluste het sowat ’n maand gelede uitgebreek omdat inwoners ontevrede is met swak dienslewering sedert die Mbombela- plaaslike munisipaliteit en Umjindi-munisipaliteit in Barberton in Mpumalanga vier jaar gelede saamgesmelt het. Die twee munisipaliteite moes saamsmelt omdat die Mbombela- plaaslike munisipaliteit bankrot was.

AfriForum het Dinsdag saam met Phoenix Security, Hi-Tech Security en die Mica-hardewarewinkel ingespring om die gemors wat die betogings in die dorp se strate agtergelaat het, op te ruim. Alle paaie wat tot in die dorp lei, was verlede week gesluit. Die meeste van hierdie paaie is nou weer oop vir motoriste, maar skole wat verlede week noodgedwonge moes sluit, bly vir eers toe. Cameron sê eienaars van plaaslike ondernemings het AfriForum verlede week moedeloos gekontak om hulp te vra. Munisipale dienste in die dorp was glo weke lank gestaak.

“Die dorp het miljoene rande se skade gely. Party ondernemings gaan dalk hul deure moet sluit weens die verlies aan inkomste,” vertel Cameron. Vier vragmotors van plaaslike ondernemings is tydens die betogings uitgebrand. Betogers het boonop die afgelope naweek twee geboue in die dorp afgebrand, waarvan een die ANC se streekskantoor is.

Die ANC-streekskantoor is aan die brand gesteek deur betogers (Foto: Verskaf)

Volgens Philip Minnaar, ’n DA-raadslid in Barberton, is daar nie tans enige onluste in die dorp nie, maar kan dit weer opvlam. Minnaar sê die oorblywende moeilikheidmakers het intussen weer gedreig dat hulle amok gaan maak indien munisipale dienste voortgesit word.

Intussen bly die skole nog gesluit totdat die departement van onderwys kan waarborg dat dit veilig is vir leerders om terug te gaan skool toe. Dit volg na betogers verlede week Hoërskool Barberton binnegedring het, klaskamers se vensters uitgegooi en van die leerders en onderwysers aangerand het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Niné ·

Eers betoog hulle oor geen dienslewering. Nou dreig hulle met nog betogings as dienslewering gedoen word. Cry my beloved county se voet. Burn my beloved country, burn. Die stomme dwase. Dankie Afriforum.

Hannahoekom ·

Twee vrae: Wie stem aanhoudend vir vrot dienslewering (ANC)? Sekerlik nie nie vuisvoos belastingbetalers / sakemanne nie, ne? Tweedens: Wat op dees aarde was die dorp se sakekern en vragmotor eienaars se skuld mbt dienslewering? Of was hulle maar net weer n sagte teiken?

Strandloper ·

Ons het geleer…bou steen vir steen….hulle verwoes dorp vir dorp. Dit is om van naar te raak. Dankie Afriforum.

henndrik ·

Daar word eenvoudig nie streng genoeg teen hierdie mense opgetree nie

Santjie ·

Nou hoekom steek hulle die ANC se kantore aan die brand? Hulle het dan gestem vir daai mense…. weet ook nie meer nie….

netekalleen ·

Vra die spul nie vir hulself HOEKOM DAAR SWAK DIENSLWEREING IS NIE ???????????????????
onbekwame regering

Stefan ·

Hoe is dit moontlik dat die voorbokke ‘n maand lank toegelaat word om hul vernietigende opruiing voort te sit.
As die voorbokke van enige oproer onmiddelik vasgevat word sal dit nie so handuit ruk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.