Martin Coetzee, ʼn 82-jarige boer van Belfast in Mpumalanga, is onlangs erg aangerand nadat hy onwettige grondbesetters op sy plaas Suikerboskop, konfronteer het.
Coetzee het die burgerregtegroep AfriForum genader vir hulp. Charl Oberholzer, die kommunikasiebestuurder van AfriForum, het Vrydag aan Maroela Media gesê die organisasie het ʼn aanklag van poging tot moord, diefstal, en onwettige betreding by die Belfast-polisiestasie aanhangig gemaak.
“Coetzee is ʼn deeltydse boer saam met sy seun op die plaas,” het Oberholzer gesê. “Hy was op 26 Mei by die plaas toe hy besef daar word sinkplate en goedere uit sy plaasopstal vermis.”
Volgens Oberholzer was Coetzee bewus van ʼn groep mense wat al ʼn geruime tyd onwettig sy grond beset, en hy het hulle oor die diefstal gaan konfronteer. “Hulle het hom egter aangerand en twee vroue het hom vasgebind. Hy is drie keer met ʼn plank oor sy kop geslaan, en sy arm is gebreek.” Coetzee is sowat vyf ure lank aangehou voordat hy daarin kon slaag om los te kom en met sy bakkie te vlug.
AfriForum ondersoek ook ʼn bewering dat ʼn polisiebeampte van Springs, wat glo met die oortreders bevriend is, by die voorval betrokke was en daarvan geweet het. Die oortreders het hom glo na die toneel ontbied om hulle by te staan, waarna hy en twee vroue daar weg is sonder om Coetzee te help. “Ons is in gesprek met ons regspan om te besluit watter stappe ons teen die beampte gaan doen,” het Oberholzer bygesê.
Die polisie ondersoek die voorval.
hulle vat net oor en ons moet dit aanvaar dankie vir mense soos Afriforum wat na ons mense om sien
Wigte en teenwigte . . .?