Foto’s: Bejaarde vakansieganger met helikopter gered

Die helikopter neem die pasiënt na die hospitaal Foto: Steph le Roux, NSRI

Die helikopter neem die pasiënt na die hospitaal Foto: Steph le Roux, NSRI

ʼn 79-jarige man van Krugersdorp is Donderdag by die Robberg-natuurreservaat in Plettenbergbaai in die Wes-Kaap met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem nadat hy tydens ʼn staptog geval en ʼn kopbesering opgedoen het.

“Die man, wat tydens sy vakansie in ʼn karavaanpark tuisgegaan, het saam met twee ander persone gaan stap,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, in ʼn verklaring gesê. “Ons is om 12:50 ontbied nadat die man tydens die stappery geval en sy kop beseer het.”

Volgens Lambinon het hulle die toneel van die see se kant af genader en NSRI-reddingsbeamptes en die Med-Life-ambulansdiens het die toneel van die Robberg-parkeergebied genader en na die toneel gestap.

“Twee persone, wat by dieselfde karavaanpark vakansie hou en saam met die man gaan stap het, was by die pasiënt toe paramedici by die toneel opgedaag het. Hy het ʼn kopbesering opgedoen en moontlik van sy ribbes gebreek. Hy het gesukkel om asem te haal,” het Lambinon bygevoeg.

Die man is op die toneel behandel en die besluit is geneem om hom met ʼn helikopter na die hospitaal te neem, eerder as om die kans te waag om hom verder in gevaar te stel deur hom per see te vervoer of met hom op ʼn draagbaar terug te stap na die parkeerterrein toe. “Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het die Skymed-helikopter ontbied.”

Die man is in ʼn stabiele toestand na die hospitaal geneem vir verdere behandeling en sal na verwagting ten volle herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Het die man met ‘n stapstok gestap, verkieslik die lengte van ongeveer tot by die ken? Dan word balans redelik goed behou veral wanneer jy ‘n rugsak dra of net gly. Sterkte aan die man.
Die woord “karavaanpark” is egter verkieslik “woonwapark”.
‘n “Karavaan” het met kamele (in die woestyn) te doen.

Ai tog ·

@ Peet ek praat al die jare van ‘n karavaan die een wat baie mense mee vakansie gaan hou en dan is daar ‘n liedjie “Caravan of love ” Ek het ietsie geleer vandag van die woord karavaan.

Peet Schabort ·

Ai tog, vir die Amerikaners is ‘n “caravan” ‘n woonwa en ‘n “trailer” (“a large van or wagon” soos ook ‘n “parkhome/park home”) is ook ‘n woonwa en by ons ‘n sleepwa(entjie). Vandaar die “Caravan of Love” met sy oorsprong in die VSA. Die Amerikaners wat maak dat ons struikel.
Is die “woonwa” nie ‘n mooi beskrywende woord teenoor “karavaan” ?
So ook “Beeldradio” teenoor “TV” (Tie-wie).

Elfie ·

Haai ou Peet – dis eintlik waar! Ek praat maar al die jare van karavaan, maar as ek dit nou mooi bedink is dit eintlik nes jy sê! Sal moet hard werk daaraan om die “gesetelde” woord nou uit my kop te kry en woonwa te gebruik.

Tammy ·

Baie dankie aan almal wat gehelp het om die man na veiligheid te bring! Julle is elkeen n held in eie reg. Spoedige herstel aan die beseerde.

Piet Snot ·

As ek op 79 nog so kan gaan stap, sal ek baie dankbaar wees. 10/10 vir daardie oom.

Maroela, julle is nie dalk lus om later ‘n opvolgberig te doen oor hierdie merkwaardige man nie – vertel ons van hom; dit sal inspirerend wees.

Peet Schabort ·

Piet, dit was seker 20jr gelede dat ‘n oom van der Walt van Pretoria die Visrivier Canyon gestap het.
Ek en my seun het die dag vanaf Ai-ais ‘n ent opgestap met die rivier toe hier voor ons ‘n oom en tannie staan. Ek merk toe op teenoor my seun of hulle dalk die Canyon gestap het waarop hy lag en sê: “Nee-wat Pa, kyk in elk geval hoe netjies is die oom en die tannie uitgevat, hulle het ook maar net so ‘n ent soos ons opgestap”.
Groot was ons verbasing toe hulle sê hulle WAG vir die res van die groep (sowat 30) wat nog aan die kom is! Sy goed was nou wel opgedeel onder die ander in die groep maar op ouderdom van TAGTIG en die tannie op 65 was dit ‘n prestasie.
Daar is tawwe ooms en tannies. Veral hierdie tenger vrouens stap ‘n hond uit ‘n bos!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.