Foto’s: Bekende motorman se versameling opgeveil

Die 1958-Mercedes-Benz 300 Dora W189. (Foto: Verskaf)

Wyle Louis Coetzer se private versameling van meer as 140 klassieke motors word Saterdag in Johannesburg opgeveil.

Coetzer was een van die grootste motorversamelaars in die land en sy indrukwekkende versameling sluit in ’n verskeidenheid Amerikaanse klassieke motors uit die 1950’s en 1960’s, kragmotors en ’n hele paar Mercedes-Benz-versamelstukke – een van Coetzer se groot gunstelinge.

Kevin Derrick, uitvoerende hoof van Creative Rides, sê een van die motors wat Coetzer veral na aan die hart gelê het en waarmee hy oor die jare heen talle toekennings verower het, is ʼn 1958-Mercedes-Benz 300 Dora W189.

“Hierdie vierdeur- luukse motor was destyds die vlagskip van die handelsmerk en bied funksies wat dit in regstreekse markkompetisie met luukse handelsmerke soos Rolls-Royce plaas.”

Nóg ’n merkwaardige item op Saterdag se veilinglys is die 1953-Mercedes-Benz 300 Adenauer W186 – ’n model wat vroeër jare veral gewild onder staatshoofde was.

“Hierdie motors was hul tyd ver vooruit en het selfs in die 1950’s aan kopers opsionele funksies soos VHF-selfone en dikteermasjiene gebied.”

Ander voorbeelde van Coetzer se uitsonderlike Mercedes-Benz-modelle op die veiling sluit in:

  • ’n 1967-Mercedes-Benz 230S Fintail-stasiewa, vermoedelik die enigste model in Suid-Afrika;
  • ’n 1957-Mercedes-Benz Ponton 109-stasiewa, vermoedelik die enigste model van hierdie soort in Suid-Afrika;
  • ’n 1964-Mercedes-Benz Coupe 220SE.

Coetzer se versameling is egter nie tot luukse Duitse motors beperk nie.

“Oom Louis se belange was baie wyd en dit is baie duidelik uit die verskeidenheid voertuie wat Saterdag op die veiling aangebied sal word,” sê Derrick.

Van die ander motors op die veiling sluit in:

  • verskeie Chevrolet Impalas en Belairs;
  • ’n 1959-Chevrolet Kingswood-stasiewa
  • ’n 1958-MG Magnette;
  • ’n 1962-Pontiac Parisienne-afslaankapmotor;
  • ’n 1979-Chevrolet Corvette.

Louis Coetzer se 1979-Chevrolet Corvette. (Foto: Verskaf)

Joff van Reenen, uitvoerende hoof van High Street Auctions, sê daar word ’n groot opkoms by die veiling verwag. Die veiling sal omstreeks 11:00 by die Posthouse Centre in Sandton afskop.

Die motors word regstreeks, aanlyn en telefonies opgeveil.

Bieërs uit al nege provinsies in Suid-Afrika is reeds vooraf geregistreer terwyl talle internasionale bieërs uit Noord-Amerika, Suid-Amerika, Europa, die Verenigde Koninkryk, die Midde-Ooste en ander lande in Afrika aan die veiling sal deelneem.

Coetzer en sy vrou, Hermien, is in Januarie vanjaar dood toe hul motor by ’n krans in die Naudésnekpas in die Oos-Kaap afgestort het.

Die veiling van Coetzer se indrukwekkende versameling word deur sy drie kinders ter nagedagtenis van hul ouers aangebied.

Die virtuele veiling sal op High Street Auctions se app asook Zoom plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Duck ·

Snaaks, sekerlik is daar nie ‘n tekort aan geld in die familie nie. Ek neem aan iemand erf dit en raak nou ontslae vandie spog versameling. What a pity. Ek sal dit gehou het. Maar nou ja, erfgeld is swerfgeld het my ma altyd gesè

Piet ·

Ek dink dit is beter dat die motors aan regte versamelaars opgeveil word. Hierdie ouens het ‘n passie daarvoor en is dit ook die beste kans hoe die pragstukke op hul beste gaan bly.

Piet ·

Daai Corvette lyk modern selfs gemeet aan vandag se tye. BEAUTIFUL

Derek ·

El sal dit juis bewaar as nagedagtenis aan my ouers. So word ouers se goedere maar net verkoop, wat hulle oor jare opgebou het. Sal darem wat wil gee vir so n erfenis.

Bushy ·

????????
Die veiling van Coetzer se indrukwekkende versameling word deur sy drie kinders ter nagedagtenis van hul ouers aangebied.
????????
Ter nagedagtenis word dit verkoop????
Geen probleem as hulle dit verkoop nie, maar ter nagedagtenis ???? maak nie vir my sin nie.

Meyndert ·

Laat mens wonder, hoe ‘n motor kenner soos die, sy motor, met hom en sy gade, by ‘n krans laat afstort.

Elna ·

ag watse simpel aanmerkings! Moet kinders dan hulle lewens toetentaal verander om so n massiewe erfenis te behou? Dis nie almal se liefde nie. Ek hoop Jay Leno van Amerika weet van dié veiling!

amot ·

Volgens ‘n ander artikel het die kinders nie die kennis om die hele versameling instand te hou nie en daarom het hulle besluit om te verkoop. Dit is beter om die voertuie aan entoesiaste te verkoop as om die hele versameling agteruit te laat gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.