Foto’s: Beskeie staatsbegrafnis vir Tutu gehou

Aartsbiskop Desmond Tutu se begrafnis (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Suid-Afrika het Saterdag ʼn beskeie staatsbegrafnis vir aartsbiskop Desmond Tutu gehou.

Hy is verlede Sondag in die ouderdom van 90 oorlede.

Hy het opdrag gegee dat dit ʼn eenvoudige seremonie sonder enige fieterjasies moet wees met ʼn goedkoop kis en ʼn eko-vriendelike verassing.

Familie, vriende, geestelikes en politici het by die St. George-katedraal in Kaapstad opgedaag. Die katedraal is verlig in pers – die kleur van sy klerikale drag. Tutu het jare lank self hier gepreek.

Pres. Cyril Ramaphosa het ‘n amptelike kategorie 1-begrafnis vir Tutu goedgekeur wat gewoonlik vir presidente gereserveer word.

“Hy was ʼn voorloper in die stryd na vryheid, geregtigheid, gelykheid en vrede. Nie net in Suid-Afrika nie, maar reg oor die wêreld,” het Ramaphosa tydens sy grafrede gesê. “Alhoewel ons geliefde [Nelson Mandela] die pa was van ons demokrasie, was aartsbiskop Tutu die geestelike pa van ons nuwe nasie.” Hy het hom beskryf as “ons morele kompas en nasionale gewete”.

“Hy het sy lewe eerlik en ten volle geleef. Hy het die wêreld ʼn beter plek agtergelaat. Ons dink terug aan hom met ʼn glimlag,” het Ramaphosa gesê voor hy die landsvlag aan Tutu se weduwee, Leah, oorhandig het.

Onder ʼn grys hemel en fyn reën was van die roubeklaers in die katedraal die voormalige president van Ierland Mary Robinson en Mandela se weduwee, Graça Machel. Ander sluit in die weduwee van oudpres. FW de Klerk, wat in November oorlede is, en voormalige presidente Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe.

Die Dalai Lama, een van Tutu se nabye vriende, kon nie die begrafnis meemaak nie weens sy hoë ouderdom en Covid-19-beperkings, aldus sy verteenwoordiger.

Tutu se jarelange vriend, die afgetrede biskop Michael Nuttall, wat ʼn deken was toe Tutu die aartsbiskop van Kaapstad was, het die diens behartig.

Minder as ʼn kilometer daarvandaan het talle mense op die Parade bymekaargekom waar die diens op ʼn groot skerm uitgesaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.