[Foto’s] Betogings woed voort in Mpumalanga-dorp

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Gewelddadige betogings woed al meer as ʼn week lank in die klein Mpumalanga-dorpie, Waterval-Boven, waar betogers paaie versper, winkels plunder en geboue aan die brand steek.

Sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het gesê die betogers het Donderdag die munisipale kantore, die gemeenskapsaal en die brandweerdienste se kantore aan die brand gesteek. Volgens Sedibe het die betogers weereens paaie versper en gewelddadig geraak.

Die betogings het op 5 Januarie begin en kon sedertdien nog nie onder beheer gebring word nie. “Altesaam 11 mense is al in hegtenis geneem, waarvan sewe mense Donderdag gearresteer is,” het Sedibe gesê. “Die ander vier het reeds in die hof verskyn op aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging en is op borgtog van R5 000 vrygelaat.”

Rudolph Pretorius, ʼn inwoner, het aan Maroela Media gesê die betogers is ongelukkig oor dienslewering en die feit dat hul eiendomsbelasting en munisipale heffings aansienlik verhoog is. “Ek het simpatie met hulle, want die dienslewering hier is pateties,” het hy gesê.

“Die paaie is in ʼn slegte toestand en die water is so vuil dat ʼn mens nie kan waag om dit te drink nie. Ek het waterfilters by my huis laat installeer en ons moet dit weekliks skoonmaak soos die slym en gemors daarin vassit. Die elektrisiteitsinfrastruktuur word ook nie in stand gehou nie en alles val uitmekaar.”

Volgens Pretorius moes sakeondernemings hul deure sluit omdat winkels deur die betogers geplunder word en die skole is ook gesluit om veiligheidsredes. “Dit is ʼn groep van meer as 200 mense wat betoog. Hulle kom hier in die hoofstraat af en eers as hulle ʼn halwe blok van die polisiekantoor af is, skrik die polisie wakker en probeer hulle keer. In die tyd wat die polisie met die eerste groep te baklei, gaan steek ʼn ander groep geboue en voertuie aan die brand.”

Hy het gesê hy het al die afgelope paar jaar ook telkemale oor dienslewering gekla, verskeie briewe aan die Emakhazeni-munisipaliteit gestuur en talle oproepe na munisipale beamptes gemaak, maar tevergeefs. “Hulle het altyd ʼn verskoning dat hulle nie kan uitkom om aandag te gee aan ʼn probleem nie.”

Chantelle Geldart, nog ʼn inwoner, het vertel die geweld is grootliks tot die sakesentrum van die dorp beperk. “Die oproerpolisie moes al ʼn paar keer ingeroep word om die betogers met waterkanonne uiteen te jaag. Hulle gooi vullisdromme om en brand goed af. Ons kry boodskappe van ander inwoners wat sê ons moet eerder nie in die dorp ingaan nie,” het sy gesê.

Pretorius het gesê teen Donderdagmiddag het groepe betogers steeds in die strate vergader, wat aandui dat die betogings nog nie op ʼn einde is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Mariska ·

Hierdie betogings gaan allesbehalwe oor dienslewering. Dis n oefening.

Paul ·

Dan het hulle darem baie oefening nodig, aangesien sulke betogings al vir die afgelope twintig jaar plaasvind…

Meraai ·

Nou wonder ek maar net wat hulle nou eintlik reggekry het?

Kon dieselfde energie wat gebruik is om te plunder, aan die brand te steek en asblikke om te gooi nie beter aangewend word nie? Hoeveel sou dit neem om ‘n streepsak te vat en die gemors in die strate op te tel of om vuil plekke in die gemeenskap skoon te maak?

Ek bly in so ‘n dorp waar ons saamstaan en skoonmaak na ‘n pensioendag of maandeinde en ja, nou praat ek van blanke mense wat moue oprol. Kan gedoen word!

Louis ·

Die kapasiteit is nie daar om te skep nie, dit is telkemale al bewys.

Meraai ·

Hulle moet die klomp bymekaar maak sodat hulle kan gaan regmaak en skoonmaak waar hulle aangejaag het. Wonder of hulle dan nog so graag ‘n asblik sal omgooi?

DPJ ·

Ja nee dit is mos weer verkiesing en mense moet vir ANC gewerf word. Wie beheer die dorp.

HEVW ·

Was vir 2 weke in pragtige dorpie in Taiwan. Daar bestaan nie n minisipaliteit nie. Ellke laaste Saterdag van die maand staan die inwoners op n goed georganiseerde basis saam en sorg vir n netjies skoon tuiste waarop almal trots is. Maar is dit hier waar verskillende kulture vermeng is moontlik?

Dee ·

Helle steek privaat eiendom aan die brand, beskadig voertuie en ander privaat eiendom, beroof winkels terwyl vele van hulle waarskynlik geen munisipale fooie betaal en Rudolph Pretorius het simpatie met hulle.

Kiewiet ·

Die dapper suster van die kliniek wat afgebrand het kon net betyds die leêrs red sodat al die inligting van pasiënte nie verlore is nie. Die kliniek was geidentifiseer as ‘n “Ideal clinic”. Sy en haar span het vir ‘n jaar baie hard geweel om alles in plek te kry sodat hulle top gehalte diens kon lewer aan die in nood. Haar trane was ‘n hartseer gesig.

Werner ·

Eks verlig die woord “entitlement” kom by niemand op nie.

Estelle van Moerkerken ·

Dit is verskriklik. Ons bly al 7 jr hier en als gaan net meer en meer agteruit by die dag Ek stem saam dat niks gedoen word in die dorp nie maar om ‘n gebou wat 121jr bestaan aan die brand te steek gaan niks verander nie. Die strate is onrybaar en om van die water nie te prt nie. Waar ons waterfilter altyd ‘n maand gehou het moet hy weekliks vervang word. Ons kry al vir die afgelope jaar nie meer ‘n water en ligte rek nie. Dis pateties hoe so pragtige klein dorpie tot so val kan kom. Daar kom daagliks nuwe vullishope op omdat dit nie gereeld opgetel word nie en op die regte plekke afgegooi word nie. Die dorpie is ‘n seer oog vir elke mens wat dit besoek. Mens is nie veronderstel om skaam te wees om die dorp se naam te noem waar jy bly nie. Dit bring ‘n groot hartseer oor ‘n mens. Hier is soveel siek mense in die dorp en nou is daar duisende rande se medikasie verwoes ondat die kliniek wat net 6 mde terug oorgedoen is ook verwoes is in die brand. Nou word daar wag gehou omdat hulle dreig om die enigste vulstasie ook te vewoes. Hier kort DRINGENDE aandag in die klein dorpie. Die dorp kan floreer as hulle net iets wil doen (ons kan maklik ‘n dorpie soos Dullstroom wees) Hier is soveel Pragtige besigtighede rondom ons dorp. Elandskrans vakansieoord is in die 7jr so geplunder dat daar net mooi niks van hom oor is nie (en hy behoort soos ek verstaan ook aan die Munisipaliteit. Ons wou ‘n jr terug die plek vir ons ouers gaan wys toe ons daar weggejaag is omdat “hulle” die plek oorgeneem het en besig was om groot slote te grawe om die kabels ondergrond te verwyder,,,,,ag so kan ek aangaan en aangaan hoe die dorp tot ‘n val kom. Maar ons hou maar moed en gaan weer aan.

Fanie ·

Ons het ‘n rukkie in Waterval Boven gebly. Wat ‘n Pragtige dorpie, met al sy ou geboue en ryk geskiedenis. Sowaar, as ek nou nog daar gebly het, het ek húlle huise gaan afbrand!!
As al die Inwoners saamstaan kan julle iets doen met daardie munisipaleit se slapgat mense.

Irene Myburgh ·

Ek het vir 10 jaar in Waterval Boven gebly. 1982 – 1992. Ek self het by die Dorpsraad Waterval Boven gewerk en daar was niks van die nonsens nie. As hulle in opstand probeer kom dan word die weermag van lydenburg en nelspruit uit geroep en gou gou word hulle in hulle spore gestuit.

Peet J ·

Hierdie geweldadige betogings is niks meer as ‘n tipe van magsvertoning nie. Die verskoning wat konsuis aangevoer word nl. swak dienslewering hou mos geensins verband met kwaadwillige saakbeskadiging, plunder van besighede ens. nie . (diefstal)
Om vuil drinkwater aan dorpenaars te voorsien, vuillisverwydering op te skort en klagtes te ignoreer is ‘n metode om van inwoners wat gekant is teen die omstandighede van ontslae te raak. Met ander woorde :- hulle sê vat jou goed en trek.

Jaco ·

betoog betoog, maar in die volgende plaaslike verkiesing stem hulle WEER almal vir die ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.