Foto’s: Bibberweer bring prentjiemooi sneeutonele

Die Matroosberg-reservaat. Foto: Facebook via Matroosberg Reserve.

Inwoners in die Wes-Kaap het die afgelope naweek behoorlik onder die koue deurgeloop.

Sosialemediagebruikers het talle foto’s op Facebook en Twitter gedeel van berge met sneeukappies, prentjiemooi landskappe en motors wat toegesneeu is.

Die Matroosberg-reservaat het Maandagoggend op hul Facebook-blad pragtige foto’s gedeel en gesê dit sneeu steeds by die reservaat en dat daar heelwat sneeu op grondvlak lê wat deur die aand geval het.

Snow Report SA het op hul Facebook blad gesê die luukse Kagga Kamma Natuurreservaat in die Koue Bokkeveld het Sondag ook onder erge sneeuval deurgeloop.

ReënvalSA het op hul amptelike Twitter-profiel foto’s gedeel van die Gydopas tussen Ceres en Prince Alfred Hamlet wat spierwit lê van die sneeu.

Dit het ook Sondag baie gesneeu by Mont Rochelle in Franschhoek.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD) het Vrydag inwoners van die Wes-Kaap en suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap gewaarsku dat ʼn intense kouefront op pad is. Veral kleinveeboere is gewaarsku om voorsorg te tref aangesien die kouefront met swaar reënval, sterk tot stormsterk winde en sneeu op hoogliggende gebiede gepaard kon gaan.

Charlotte Powell, woordvoerder van die Stad Kaapstad se rampbestuureenheid, het Maandag gesê die weerstoestande is normaal vir dié tyd van die jaar en dat daar net geringe skade aangerig is soos bome wat omgewaai het.

“Daar was nog geen kragonderbrekings of modderstortings nie. Dit was ook nie nodig om enige noodbehuising te verskaf nie. Ons het spanne op bystand sou iets gebeur. Ons verwag nog reënval vir vandag, maar niks buitengewoons nie.”

Koue Bokkeveld. Foto: Twitter via Meagan Morkel op @ReenvalSA.

Puseletso Mofokeng, woordvoerder van die SAWD, het Maandag gesê ʼn tweede kouefront het vandag aan die Suidweskus in die Wes-Kaap aanland gekom. “Dit sal grotendeels net gepaardgaan met swaar reënval, daar word nie weer sneeu verwag nie.”

Dié front behoort net oor die Wes-Kaap te beweeg en dan in die see te verdwyn en sal nie na die binneland toe beweeg nie.

Mofokeng meen die koue weerstoestande wat tans in die res van die land ervaar word, is as gevolg van die eerste kouefront wat Saterdag aanland gekom het in die Wes-Kaap.

“Die ergste temperatuurdaling wat ons gesien het, is in Sutherland waar die temperatuur vandag maar 6 °C is.” Die minimumtemperatuur was -6 °C.

Die SAWD het gesê Kaapstad en Beaufort-Wes sal vandag maar ʼn maksimum van 13 °C beleef.

Volgens hom sal daar tussen Dinsdag en Donderdag verligting kom in terme van die weerstoestande, en temperature sal weer begin styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Retha Thiardt ·

Pragtige sneeutonele! Maar so mooi as wat winter is, kan somer nou maar groot asb kom. Ekt genoeg koue vir een jaar gehad haha…

IK ·

Pragtig! Wonder egter hoe die regmatige grondeienaars hier oorleef het?? Ek glo dat CR behoort te weet?
Spelling van ‘Sutherland’ is ‘Sidderland’.

Anti-negatief ·

Ag nee, daar moet altyd ‘n negatiewe persoon wees wat ‘n demper op selfs die mooiste tonele moet plaas!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.